Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Leë stoele in parlement met duur petrol op agenda

Niemand van die departement van energie het Dinsdag opgedaag om die parlement se portefeuljekomitee oor energie soos beplan oor die brandstofprys toe te spreek nie.

Die leë stoele waar Jeff Radebe, minister van energie, en amptenare van die departement van energie, Dinsdag veronderstel was om te sit om die parlement se portefeuljekomitee oor energie en die brandstofprys toe te spreek. Foto: Francois Williams

Fikile Majola, voorsitter van die komitee, het gesê dit is die eerste keer in sy vier jaar in dié rol dat so iets gebeur. Jeff Radebe, minister van energie, het wel verskoning gemaak, want hy woon die beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in Windhoek, Namibië, by.

Majola sê die departement het al op Maandag 6 Augustus laat weet dat Radebe dit nie kan bywoon nie, en hulle het gevra of dit in orde is as top-amptenare van die departement die komitee toespreek. Op Vrouedag is Majola egter ingelig dat Radebe graag self die komitee wil toespreek, maar teen daardie stadium kon Majola nie meer die vergadering uitstel nie.

Jeff Radebe, mininster van energie. Foto: Daily Sun

Hy verstaan egter nie waarom die departementele amptenare dan nie die komiteevergadering kon bywoon nie.

Dit kom te midde van brandstofpryse wat die afgelope maande weens stygende oliepryse en ’n verswakkende rand tot rekordvlakke gestyg het.

Die brandstofprys in Gauteng is nou al meer as R16 per liter. Die jongste syfers van die Sentrale Energiefonds wys daar is tans nog ’n gemiddelde oorverhaling van net onder 1c per liter vir September.

Dit impliseer dat motoriste te veel betaal vir brandstof en dat die prys volgende maand verlaag moet word as alle markfaktore stabiel bly.

Maar die syfers net vir Maandag, waarop die rand verder teen die dollar verswak het, wys ’n onderverhaling van soveel as 47c per liter op petrol en 57c per liter op diesel. Dit beteken as dit volgehou word tot 30 Augustus kan petrol met nog 47c verhoog word en die dieselprys met nog 57c.

Gavin Davis, DA-lid van die komitee, sê Radebe het al lank belowe dat hy die publiek oor die brandstofprys wil toespreek, maar hy het nou weer ’n geleentheid laat verbygaan.

Majola het skerp uitgevaar en gesê dit is onaanvaarbaar dat die minister en die departement van energie die parlement boikot. Hy het Radebe gedaag om die komitee se vergadering volgende Dinsdag om 10:00 by te woon.

Majola het die media en die publiek wat die vergadering bygewoon het, om verskoning gevra.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.