Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Lof, maar ook vrae oor nuwe kragplan
Suid-Afrika kan dalk nog eendag van meer kernkrag gebruik maak. Foto: Getty Images

Kernkrag is nie heeltemal van die baan nie, want die nuwe IRP dek net kraglewering tot 2030 en nie tot 2050 nie.

Dit impliseer dat kernkrag nog in die toekoms ingesluit kan word, veral as in ag geneem word dat die Koeberg-kernkragstasie se twee eenhede tussen 2045 en 2047 uit diens gestel moet word, sê Khulu Phasiwe, Eskom-woordvoerder.

Dit is van die reaksie uit die kragbedryf oor die konsep- geïntegreerde hulpbronplan wat Maandag vir 60 dae se openbare kommentaar gepubliseer is.

Die windkragbedryf vra meer duidelikheid oor die gaping van drie jaar in die bou van nuwe windkragvermoë wat die IRP voorstel.

Die nuwe IRP verwag 1 362 MW se windkrag sal van nou tot 2021 gebou word. Dit is projekte wat reeds goedgekeur is.

Maar dan gaan drie jaar verby sonder enige nuwe projekte. Eers teen 2025 stel die plan 200 MW se nuwe windkrag voor, 1 500 MW in 2026 en van 2027 tot 2030 1 600 MW per jaar.

Die bedryf kan nie die talle maatskaplik-ekonomiese voordele en beleggings bring met so ’n benadering nie, het Brenda Martin, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging (Sawea), gesê.

Sy het tog die departement van energie gelukgewens met ’n plan wat die goedkoopste kragopsies insluit, met aansienlike nuwe toekennings vir windkrag, sonkrag en gaskragstasies.

Teen 2030 sal windkrag net meer as 15% van die land se energiemengsel opmaak as aangeneem word dat die volle 8 100 MW teen daardie tyd gebou word wat aan nuwe windkrag toegeken is. Dit sal die totale windkragvermoë in Suid-Afrika op 11 442 MW te staan bring, het Martin gesê.

Die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut (Safcei), wat die hofsaak in April 2017 gewen het teen die regering se destydse kernkragprogram, het dit verwelkom dat die nuwe IRP nie vir kernkrag voorsiening maak nie.

Francesca de Gasparis van Safcei is egter besorg oor die status van die omgewingsgoedkeuring vir ’n nuwe kernkragstasie langs Koeberg en ander kernkragverwante kwessies wat steeds voortduur.

Die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid het die IRP verwelkom as die eerste geloofwaardige kragplan vir die land se energietoekoms in dekades.

“Daar is ’n nuwe realisme en begrip dat nuwe tegnologie fundamentele veranderinge in die elektrisiteitsbedryf sal bring,” sê Janine Myburgh, president van die kamer.

Die kamer het op die openbare sittings van die vorige IRP gesê aannames oor kragvraag is oordrewe, die koste van kernkrag is onderspeel en die koste van groenkrag is oordryf, het Myburgh gesê. Die nuwe IRP bevestig die kamer se standpunt.

Daar is ’n nuwe realisme en begrip dat nuwe tegnologie fundamentele veranderinge in die elektrisiteitsbedryf sal bring.
Janine Myburgh

“Die ou IRP het tot slegte beplanning gelei, en as jy die koste van korrupsie bytel, was die gevolg verlammende stygings in kragtariewe wat ekonomiese groei ernstig ondermyn het.”

Gavin Davis, DA-woordvoerder oor energie, het ook die IRP verwelkom. “Ons verwelkom die beleidskuif weg van nuwe kernkrag. Hierdie IRP bevestig dat oudpres. Jacob Zuma se korrupte kernkragooreenkoms geskrap is ten gunste van goedkoper en skoner energiebronne.”

Volgens Davis verdien Jeff Radebe, minister van energie, en pres. Cyril Ramaphosa erkenning daarvoor dat hulle die Zuma-faksie aangevat en oorwin het.

“Dit is nou waarskynlik die taak van adj.pres. David Mabuza as die president se spesiale afgevaardigde na Rusland om aan pres. Wladimir Poetin te verduidelik dat die kernkragooreenkoms van die baan is. Ons wens hom sterkte toe met sy sending,” het Davis gesê.

“Suid-Afrika het nooit nuwe kernkragstasies nodig gehad nie, en het nie die geld gehad om dit te bou nie. Op grond hiervan is die nuwe konsep-IRP ’n aansienlike verbetering op die vorige een,” het Davis gesê.

Phasiwe beklemtoon die IRP het nog nie die impak van die sluiting van Eskom se ou steenkoolkragstasies in diepte ondersoek nie. Enige sluiting van steenkoolkragstasies in die toekoms sal afhang van die impak daarvan op kragvoorsiening versus die skuif na ’n laekoolstof-ekonomie, asook enige impak op die ekonomie van die dorpe en provinsies waar die kragstasies geleë is.

Meer oor:  Eskom  |  Janine Myburgh  |  Jeff Radebe  |  Groenkrag  |  Departement Van Energie  |  Irp  |  Energie  |  Kernkrag  |  Kragopwekking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.