Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Maak reg vir groot pyn by die petrolpomp in April

Die pyn by die pomp gaan in April dalk nóg seerder wees as in Maart. Dis nou byna-byna seker dat petrol meer as R1 per liter duurder gaan word en diesel baie na daaraan.

petrol, spaar, spaarwenke
Om jou motor te vul, tap jou beursie! Grafika: iStock

Dis volgens die syfers net mooi in die middel van die oorsigtydperk wat April se brandstofpryse gaan bepaal.

Teen Vrydag was daar ’n onderverhaling (dus potensiële styging) van byna 96c per liter op 95-oktaan-petrol en van 98c per liter op 93-oktaan.

Die onderverhaling op die groothandelprys van diesel wissel van byna 69c per liter (0,05% swaelinhoud) tot 70c per liter (0,005%).

Benewens dié potensiële stygings, wat bepaal word deur internasionale brandstofpryse en die rand-dollar-wisselkoers, gaan motoriste reeds 20c per liter meer vir petrol en diesel betaal. Die jaarlikse verhoging in die algemene brandstofheffing en die Padongelukkefonds word in April ingestel en vanjaar beloop dit onderskeidelik 15c en 5c per liter.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) sê dit beteken belastings en heffings gaan styg tot nagenoeg 38% van die koste per liter 93-oktaan-petrol.

“Toe brandstofbelasting voorgestel is as ’n manier om paaie te finansier, het die regering teenstand gebied en aangevoer dis teen armes. Nietemin het die brandstofheffing die afgelope drie jaar met byna 22% gestyg.

“Gegewe wat by die Zondo-kommissie van ondersoek uitkom, is motoriste geregverdig om te vra waarop hul geld bestee word.”

Die algemene brandstofheffing word in die staatskas gestort en nie spesifiek aan infrastruktuur toegewys nie. Die Padongelukkefondsheffing word wel opsy gesit vir die uitbetaling van eise ná motorongelukke.

Twee weke lê nog voor voordat die finale brandstofpryse op 28 Maart vasgestel word en die onderverhaling kan nog verminder – of selfs vergroot. Die pryse sal vanaf die eerste Woensdag in April, dus op 3 April, geld.

Dit sal die derde maand agtereenvolgens wees dat brandstof duurder word.

  • In Februarie het petrol 7c per liter duurder geword en in Maart 74c, ’n totaal van 81c per liter oftewel R36,45 per tenk van 45 liter.
  • In Februarie het diesel met 0,005% swael 2c per liter duurder geword en in Maart 93c, ’n totaal van 95c oftewel R42,75 per tenk van 45 liter.

Die grootste rede vir die enorme onderverhaling is die skerp styging in internasionale brandstofpryse. Dit dra tussen 72c en 74c per liter tot die onderverhaling op petrol by en 42c tot 43c per liter vir diesel.

In ’n ongewone stap trek die AA die Sentrale Energiefonds se syfers in twyfel, spesifiek die hoë bydrae van internasionale oliepryse tot die styging. “Dis moeilik om daardie syfers met die algemene stabiliteit van die daaglikse pryse sedert begin Maart te versoen. Ons hoop die data sal meer helderheid bring soos die maand ontvou.”

Volgens Oilprice.com het oliepryse gestyg weens die ineenstorting van produksie in Venezuela, tesame met die nuwe produksieperke wat die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) en sy vennote, wat Rusland insluit, in Januarie ingestel het. Die teiken is om produksie met 1,2 miljoen vate per dag te besnoei.

Oliepryse is nou naby die hoogste vlakke sedert November verlede jaar. Brent-ruolie het Donderdag bo $68 per vat gedraai.

Die algemene verwagting is dat die prysstygings deur skalie-olieproduksie in die VSA teengewerk sal word. Dié land se energie-inligtingsadministrasie het egter pas sy verwagting vir olieproduksie in die land tot 12,3 miljoen vate per dag verminder.

Die rand, wat nou op die swakste vlak in drie maande teenoor die dollar verhandel, het ook sy tol geëis.

Intussen bly die rand onder erge druk. Dit sluit nou al twee weke lank, sedert 28 Februarie, bo R14 per dollar en het Vrydagoggend reeds by R14,55 gedraai. 

Lees ook: Rand swakste in 5 maande teenoor pond

Meer oor:  Ruolie  |  Olieprys  |  Sentrale Energiefonds  |  Olie  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Brandstof  |  Diesel  |  Opul
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.