SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Energie
Maimane eis antwoorde oor Eskom-lening by Chinese
Eskom gaan groot stygings in kragtariewe probeer bekom, waarsku die DA.

Mmusi Maimane, DA-leier, gaan ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) indien om die voorwaardes van China se lening van R33 miljard aan Eskom te bekom.

Maimane het Sondag in ’n verklaring gesê hy het reeds op 24 Augustus ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur om te vra dat hy die volledige leningsooreenkoms met al sy bepalings en voorwaardes bekend moet maak.

“Die president het dit nog nie gedoen nie,” lui die verklaring.

Maimane sê sy Paia-aansoek sal vra vir ’n volledige rekord van die ooreengekome rentekoers van die lening, wat die gevolge is as Suid-Afrika nie die skuld kan terugbetaal nie, wat die totale rente sal beloop, en wat die jaarlikse koers is waarteen die geld terugbetaal moet word.

“Suid-Afrika se aanspreeklikheid om die lening terug te betaal kan nie in geheimhouding gehul word nie,” het Maimane gesê en bygevoeg as die president so vol vertroue is oor die lening as wat hy oor die regering se ekonomiese stimuluspakket is, sal hy geen probleem daarmee hê om die bepalings en voorwaardes van die Chinese lening aan Eskom openbaar te maak nie.

In ’n gesamentlike sitting van die portefeuljekomitees oor openbare ondernemings en energie het Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom se direksie, onderneem om die finansiële besonderhede van lenings aan die komitee te gee – maar sonder om die name van die leners bekend te maak.

Mmusi Maimane Foto: Jaco Marais

“Dis reeds openbare kennis dat die Chinese Ontwikkelingsbank R33 miljard aan Eskom gaan leen, so my Paia-aansoek behoort deur die voorsitter van die komitee verwelkom te word,” het Maimane gesê.

Hy verwys in sy verklaring na ’n verslag deur Africa Confidential getiteld “Bonds, Bills and ever bigger debts” wat toon dat Zesco, die Zambiese staatsmaatskappy wat elektrisiteit verskaf, reeds samesprekings voer oor ’n oorname deur ’n Chinese maatskappy.

“Die langtermyn-gevolg kan wees dat die Chinese in wese die Zambiese ekonomie oorneem en dit kan die grootste verlies aan soewereine onafhanklikheid sedert onafhanklikheidswording beteken.”

Hy verwys na China se “skuldstrik-diplomasie” wat reeds die Zambiese nasionale elektrisiteitsmaatskappy in sy greep het, en sê China sal net so hardvogtig wees as Eskom nie in staat is om sy lening van R33 miljard terug te betaal nie.

Pres Ramaphosa moet uit die ANC se era van geheimhouding tree en die bepalings en voorwaardes van hierdie lening bekend maak.
Mmusi Maimane

“Pres Ramaphosa moet uit die ANC se era van geheimhouding tree en die bepalings en voorwaardes van hierdie lening bekend maak in die gees van deursigtigheid en verantwoordbaarheid.”

Ramaphosa het verlede maand in vraetyd in die Nasionale Vergadering oor die aard van die lening aan Eskom deur die Chinese Ontwikkelingsbank gesê die regering sal nie enige ooreenkoms sluit wat nie aan die hoogste standaarde van korporatiewe bestuur voldoen en wat nie tot voordeel van Suid-Afrikaners is nie.

Maimane het toe gesê dit is moeilik om te aanvaar dat die Chinese se lening aan Eskom sonder enige voorwaardes gekom het. Eskom is in ’n geldknyp en het in die afgelope boekjaar ’n verlies van R2,3 miljard gely. Volgens hom is dit dus nie duidelik hoe Eskom of die regering die lening sal kan terugbetaal nie.

Lenings van dié aard hou ontwikkelende lande dikwels in volgehoue skuld vasgevang en skep ’n omgewing vir korrupsie en misbruik deur die regering ten koste van die land se inwoners. Die geheimhouding van ooreenkomste tussen die regering en buite-staatsinstellings is ook aan die kern van staatskaping, sê Maimane.

Hy het verwys na Sri Lanka wat selfs beheer van een van sy eie hawens moes afstaan en 15 000 hektaar grond moes oorhandig toe hy nie ’n lening van die Chinese Ontwikkelingsbank kon terugbetaal nie.

Eskom het op 24 Julie die ooreenkoms met die Chinese Ontwikkelingsbank in Pretoria onderteken. Die lening sal gebruik word om spesifiek vir die voltooiing van die Kusile-steenkoolkragstasie naby Witbank te betaal. Dit gaan ’n staatsgewaarborgde leningsgerief wees waaruit Eskom oor ’n tydperk van vyf jaar geld kan onttrek.

Meer oor:  Eskom  |  Mmusi Mai­Mane  |  China  |  Paia  |  Staatsondernemings  |  Lening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.