Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Maksimum prys vir petrol: Wie gaan dan betaal?
Petrol kos sedert begin Oktober meer as R17 per liter.

As die regering ’n maksimum prys vir loodvrye petrol vasstel, gaan iemand – waarskynlik gewone mense – die prys daarvoor moet betaal.

Só reken prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool vir ekonomiese en sakewetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand, oor dié voorstel wat Donderdag gedoen is.

Fin24 berig Jeff Radebe, minister van energie, het op die nuuskonferensie ná die tweeweeklikse kabinetsvergadering gesê die regering oorweeg dit om ’n maksimum prys, oftewel ’n prysplafon, vir loodvrye brandstof te skep.

“Die regering is baie bekommerd oor die stygende koste van petrol in Suid-Afrika, wat hoofsaaklik aan die wisselkoers tussen die rand en die dollar asook die prys van ruolie toegeskryf word,” sê Radebe.

’n Taakspan wat amptenare van die departement en die tesourie insluit, kyk glo wat gedoen kan word om die invloed van ’n verdere styging te beperk.

Radebe het reeds in September brandstoffirmas gevra om die styging grootliks te subsidieer – geld wat die Sentrale Energiefonds nog aan hulle moet terugbetaal.

Die olieprys styg steeds en kenners meen dit is net ’n kwessie van tyd voor dit $100 per vat bereik. Dit verhandel tans teen net meer as $80 per vat.

Die departement het in September sy besluit geregverdig deur te sê die volgehoue stygings in brandstofpryse plaas druk op verbruikers.

Radebe sê hy reken die subsidie van September wat omtrent 20c per liter beloop, sal die staat sowat R400 miljoen uit die sak jaag.

In Oktober het die petrolprys vir die eerste keer nóg hoër as R17 per liter gestyg.

Die regering het nou besluit hy wil kyk of hy nie dalk ’n maksimum prys vir loodvrye brandstof moet vasstel nie.

Hy wil teen 18 Oktober reeds al die inligting insamel waarop só ’n besluit gegrond sal word.

Die taakspan gaan ook moet kyk watter wetlike stappe moontlik gedoen sal moet word om só ’n stap moontlik te maak. Dit sluit in die verandering van wette en regulasies oor hoe die land se brandstofpryse bepaal word.

Geen sin

“Hoekom?” was Rossouw se eerste reaksie op dié voorstel.

“Die minister se voorstel maak geen sin nie. Die regering stel klaar die maksimum kleinhandelprys vir petrol vas.

“Die minister maak nou net die publiek deurmekaar.”

Rossouw sê as die regering wel besluit om ’n prys vas te stel wat hy self gaan besluit om nie te oorskry nie, wil hy weet waar die geld vandaan gaan kom om die tekort te betaal.

“Wat gaan gebeur as die rand tot sowat R16 teenoor die dollar verswak en die olieprys wel tot hoër as $100 per vat styg soos wat algemeen verwag word?

“Waar gaan die tekort vandaan kom?

“Gaan die regering weer eens belasting op toegevoegde waarde (BTW) verhoog of gaan hy dalk korporatiewe of persoonlike inkomstebelasting verhoog?” vra hy.

Rossouw sê die ander twee opsies is dat, sou daar ’n onderverhaling wees, sal die staat óf iewers meer geld moet leen óf minder bestee.

“Die regering neem ’n geweldige risiko op die wisselkoers en die olieprys sou hy só ’n stap neem,” waarsku hy.

Diesel

Rossouw verduidelik die rede hoekom Radebe geen melding van diesel maak nie, is omdat slegs die groothandelprys van diesel vasgestel word en nié die kleinhandelprys nie.

“Vulstasies kan dus self besluit wat die winsmarge is wat hulle bereid is om vir diesel te aanvaar.

“Hulle mag dit egter nie met petrol doen nie, want die staat stel sowel die maksimum as die minimum prys daarvoor vas.”

Meer oor:  Universiteit Van Die Witwatersrand  |  Jannie Rossouw  |  Jeff Radebe  |  Petrolprys  |  Olieprys  |  Rand  |  Dollar  |  Diesel  |  Wisselkoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.