Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Mantashe ‘moet skuld kry vir beurtkrag’
Gwede Mantashe Foto: Elvira Wood

Waar is die bykomende krag wat pres. Cyril Ramaphosa in Desember belowe het die staat “dringend” sal verkry om beurtkrag te vermy?

Kevin Mileham, DA LP, sê Donderdag in ’n verklaring in reaksie op Eskom se besluit om weer fase 2-beurtkrag in te stel, dat Ramaphosa nie noodwendig na Eskom moet kyk as hy ’n sondaar soek nie, maar eerder na Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie.

Mileham wys daarop dat Ramaphosa en Mantashe in Desember 2019 belowe het om dringend tussen 2 000 MW en 3 000 MW krag van onafhanklike kragprodusente te kry.

Hy beskuldig vir Mantashe daarvan dat hy sedert Desember met sy hande gevou gesit en niks gedoen het om ’n enkele megawatt ekstra elektrisiteit vir die land te bekom nie.

“Hy het ook nie die beloofde inkrementele toevoer bekom van bestaande onafhanklike hernubare kragprodusente, of die vrystellingsdrempel vir die lisensiëring van opwekkingsfasiliteite van 1 MW tot 10 MW verhoog soos verwag nie. Hy het ook absoluut niks gedoen om die volgende bodvenster oop te maak vir onafhanklike kragprodusente (IPP) vir hernubare energie nie,” vaar Mileham uit.

Hy sê Mantashe het ’n tydperk waar daar ’n lae aanvraag na elektrisiteit was gemors deur nié gedurende die tyd ’n plan te maak om addisionele bronne van krag te bekom nie.

“Dit is duidelik dat Mantashe nie kop bo water hou nie, en na vakbonde en ondersteuners van steenkool as kragbron luister.

“Dit is tyd dat Ramaphosa hom verantwoordelik hou vir die beloftes wat in Desember gemaak is, óf om hom uit sy kabinet te ontslaan.

“Mantashe kan nie toegelaat word om ’n handrem te word wat die Suid-Afrikaanse ekonomie terughou nie.”

Ghaleb Cachalia, nog ’n DA LP, sê wat sake nóg erger maak, is dat selfs met Eskom wat nie genoeg krag kan lewer om die land se ligte aan te hou nie, word munisipaliteite soos Kaapstad gekeer om self ekstra krag te koop.

Dit kom nadat die hooggeregshof in Kaapstad dié week beslis het die hooggeregshof in Pretoria het gelas die stad moet eers sy onderhandelinge daaroor met die regering uitput voordat hy terugkom hof toe.

Die metro het die hof om ’n verklarende bevel gevra dat hy sonder toestemming van die minister van energie sy eie krag by onafhanklike kragprodusente mag aankoop.

LEES OOK: Kaap se kragplanne: Hof sê partye moet geskil self oplos

Cachalia sê die staat moet dringend na al die verskillende kwessies kyk om te verseker dat die langdurige probleme met kragvoorsiening in die land opgelos kan word.

Die energiekommentator Chris Yelland sê ook dat Suid-Afrika op die rand van ’n ernstige kragkrisis staan, maar dit lyk asof die regering die Covid-19 pandemie as ’n betaalde vakansie beskou, met geen dringendheid om die kragkrisis aan te pak nie.

Yelland het reeds in Januarie gewaarsku Suid-Afrikaners moet besef dat beurtkrag waarskynlik baie gereelder ingestel gaan word as wat toe die geval was.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het die afgelope week herhaal dat totdat Eskom agterstallige instandhoudingswerk op kragstasies voltooi, en die Medupi- en Kusilekragstasie na behore funksioneer, is daar altyd ’n kans dat Eskom beurtkrag kan instel.

De Ruyter sê Eskom poog om so min moontlik beurtkrag in te stel, en sê hy is persoonlik betrokke by elke besluit daaroor.

LEES OOK: Eskom spartel om die ligte aan te hou

Dr. Jarrad Wright van die WNNR het Woensdag op ’n webinaar saam met GreenCape gewys beurtkrag kan verbruikers en die ekonomie nog vir tot drie jaar erg knou tensy belangrike besluite geneem en dringend opgetree word.

Die kragsituasie sal na verwagting eers teen 2023 herstel namate nuwe kragstasies in bedryf kom, wat ingevolge die IRP2019 beoog word.

Meer oor:  Eskom  |  Gwede Mantashe  |  Kragopwekking  |  Beurtkrag  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.