Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Medupi deels aanlyn, maar naweek kan donker bly
Eskom sukkel om genoeg krag te voorsien as Medupi van lyn is. Foto: Lisa Hnatowicz

Eenheid 4 van die Medupi-kragsentrale is weer aan die gang, maar mense word aangeraai om voorbereid te wees op beurtkrag oor die naweek, waarsku Eskom.

Dis slegte nuus vir rugby-aanhangers, want hul kykplanne vir die vier kwarteindstryde van die Wêreldbekertoernooi kan só in die wiele gery word, insluitend Sondag se wedstryd tussen die Springbokke en Japan.

Die kragverskaffer kan nog nie met sekerheid sê of daar die naweek beurtkrag gaan wees nie. Alles hang nou af van die vordering met herstelwerk by Medupi se eenhede 3 en 5.

Dikatso Mothae, woordvoerder van Eskom, het Vrydag gesê eenheid 4 by die kragsentrale kan nou weer krag opwek.

Dit volg nadat Eskom Vrydagoggend gesê het ’n nuwe “reuse-terugslag” het Medupi Donderdagnag getref wat veroorsaak het dat drie van die kragsentrale se ses eenhede uit produksie was.

Dit het regstreeks gelei tot ’n bykomende verlies van 1 500 megawatt (MW) in opwekkingsvermoë en het die kragverskaffer gedwing het om sy beplande fase 1-beurtkrag vir Vrydag na fase 2 op te gradeer.

Dit beteken ook dat die vooruitsig van geen beurtkrag oor die naweek nie in die gedrang is.

Kliënte moet maar voorberei asof daar wel beurtkrag sal wees.
Dikatso Mothae

Mothae sê Eskom werk aan die ander twee eenhede wat afgeskakel moes word en sal “aanhou werk oor die naweek”.

Eskom is egter nog nie bereid om te sê of hy sal moet teruggaan op sy gerusstelling van Donderdagaand dat beurtkrag ná Vrydag vir eers verby sou wees nie.

“Kliënte moet maar voorberei asof daar wel beurtkrag sal wees,” sê Mothae.

Die jongste probleme by Medupi kom nadat Medupi se opwekkingsvermoë reeds ernstig belemmer is weens skade aan ’n steenkool-vervoerband.

Voor die nuwe probleme met eenhede 3, 4 en 5 het Eskom Donderdagaand gesê herstelwerk aan die vervoerband sal teen Woensdag aanstaande week afgehandel wees.

Steenkool moet tans met stootskrapers na Medupi vervoer word. Dié probleem beperk tans Medupi se veronderstelde opwekkingsvermoë van 4 800 MW tot tussen 50% en 60%.

Ketelbuislekkasies by drie ander kragsentrales behoort steeds teen die einde van die naweek herstel te wees. Dit sal na verwagting ’n bykomende 3 500 MW se opwekking weer moontlik maak.

Mothae sê Eskom sal moontlik later vanmiddag ’n opgedateerde vooruitsig vir beurtkrag oor die naweek bekend maak.

Meer oor:  Eskom  |  Medupi  |  Beurtkrag  |  Elektrisiteitsverskaffer  |  Kragstasies  |  Medupi-Kragstasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.