Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Medupi lewer nou sowat 7% van SA se krag

Die sukkelende Medupi-steenkoolkragstasie se vierde eenheid is uiteindelik in werking en die kragstasie verskaf nou bykans 3 200 megawatt se elektrisiteit aan die nasionale kragnetwerk.

Medupi-kragsentrale
Die Medupi-kragsentrale buite Lephalale in Limpopo. Foto: Rudzani Tshikororo

Eskom het Vrydagaand aangekondig dat eenheid 3 nou volledig funksioneer nadat alle veiligheids- en prestasietoetse afgehandel is. Hierdie eenheid is die vierde van ses wat in werking gestel is en soos die ander verskaf dit ook 796 megawatt krag.

Medupi is reeds een van die grootste steenkoolkragstasies ter wêreld en is nou vir sowat 7% van Suid-Afrika se elektrisiteitsvoorsiening verantwoordelik.

Eskom sê in ’n verklaring die ingebruikneming van eenheid 3 sal beslis die druk op die nasionale kragnetwerk verlig.

Die kragreus was vroeër vanjaar onder erge druk om die ligte aan te hou en moes verskeie dae beurtkrag instel om die druk op die netwerk te verlig. Beurtkrag was egter einde Maart laas nodig en die kragopwekking blyk sedertdien stabiel te wees.

Luidens Eskom se jongste verslag oor sy energiebeskikbaarheidsfaktor is 69,95% van sy geïnstalleerde opwekkingskapasiteit beskikbaar.

Eskom se totale opwekkingskapasiteit beloop 47 664 megawatt.

In dieselfde week verlede jaar was 71,84% van dié kapasiteit beskikbaar.

Chris Yelland, energiekenner, het reeds begin vandeesmaand daarop gewys dat Eskom se beskikbare kapasiteit vergeleke met die trae opwekkingsvermoë in Maart tydens die landwye kragkrisis merkwaardig verbeter het.

Sedertdien het Eskom sy opwekkingsvermoë met nog vier persentasiepunte verbeter.

Die vooruitsig vir beurtkrag in die komende week is skraal, sê Eskom. Die kragreus het die stand van sake vanaf ’n oranje- na ’n geel-vlak afgeskaal. Geel is net een vlak bo groen wat dui op geen risiko vir beurtkrag.

Dit beteken dat daar minder as 1 000 MW se moontlike wisselvalligheid tussen vraag en aanbod van krag in die komende week is – ’n baie aanvaarbare marge, meen Eskom.

As die enjinkamer van Suid-Afrika moet Eskom elektrisiteitstoevoer verseker ten einde ekonomiese groei te bewerkstellig.
Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom

Medupi is reeds sedert 2007 in aanbou en sal na verwagting aanstaande jaar voltooi wees.

Sodra al ses eenhede operasioneel is, sal Medupi die grootste lugverkoelde en vierde grootste steenkoolkragstasie ter wêreld wees.

Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, het die aktivering van eenheid 3 as ’n ongelooflik belangrike stap vir Eskom sowel as vir die land bestempel.

“Dit beteken Medupi is bykans voltooi,” sê hy.

Volgens Oberholzer moet die aanskakel van eenheid 3 nie ligtelik opgeneem word nie.

“As die enjinkamer van Suid-Afrika moet Eskom elektrisiteitstoevoer verseker ten einde ekonomiese groei te bewerkstellig.”

Eenheid 3 gaan grootliks daartoe bydrae, sê hy.

Die eenheid is reeds in April verlede jaar met die nasionale kragnetwerk gesinchroniseer en het in Mei sy volle opwekkingspotensiaal bereik.

Ander eenhede het ’n gemiddeld van 192 dae geneem om dan volledig operasioneel te word. Eenheid 3 het egter 409 dae geneem.

Volgens Eskom was die vertraging weens die eenheid se “spesiale ligging” in die oorhoofse ontwerp van die kragstasie.

Dit moet byvoorbeeld as middelpunt vir die kragstasie se bedryfstelsel dien en verbind al die eenhede aan die stasie se beheerkamer.

Die laaste twee eenhede sal na verwagting aanstaande jaar voltooi word, meen Eskom.

Eenheid 2 is reeds vroeg in Oktober met die nasionale netwerk gesinchroniseer en het sy volle opwekkingspotensiaal in November bereik.

Dit is nou onderhewig aan ’n verskeidenheid betroubaarheidstoetse, soortgelyk aan al die ander eenhede wat reeds operasioneel is.

As eenheid 2 die gemiddeld van 192 dae sou neem om aanlyn te kom, moes dit eintlik al teen Mei vanjaar in werking getree het.

Eenheid 1 moet nog met die nasionale kragnetwerk gesinchroniseer word.

Sodra al ses eenhede aanlyn is, sal Medupi 4 800 megawatt aan die nasionale kragnetwerk lewer.

Meer oor:  Eskom  |  Jan Oberholzer  |  Phakamani Hadebe  |  Steenkoolkragstasies  |  Beurtkrag  |  Medupi  |  Kragkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.