Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Mei bring nog laer petrolpryse
’n Verlate snelweg in Jerusalem, Israel, voor die Paasnaweek. Die Covid-19 pandemie het petrolverkope wêreldwyd skerp laat val.Foto: Reuters

Suid-Afrikaners het in April ’n petrol-blaaskans gekry wat hulle weens die inperking nie juis kan benut nie. ’n Effense herstel in oliepryse en veral ’n kwaai verswakking in die rand beteken die vooruitsig vir Mei lyk nou minder rooskleurig.

Van 27 Maart tot 7 April was daar ’n gemiddelde oorverhaling van R2,06 per liter op petrol en R1,22 op diesel. Maar teen Woensdag het dit gekrimp tot R1,45 per liter op petrol, en die oorverhaling op diesel het tot 76c gekrimp.

As dié syfers vir die res van die oorsigmaand, dus tot 29 April, gehandhaaf word, impliseer dit ’n moontlike daling van R1,71 vir petrol en 96c vir diesel.

Oliepryse lig effe kop voor Opul-vergadering

’n Kritieke vergadering van die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) en sy vennote in Wene, Oostenryk, word later Donderdag gehou oor ’n moontlike skerp sny in produksie om oliepryse te laat styg. In aanloop daartoe het termynkontrakte in Brent-ruolie Donderdagoggend met byna 4% tot $34 per vat gestyg en die Amerikaanse maatstafprys, West Texas Intermediate, was 5,7% sterker op $26,52 per vat.

Brent-pryse is egter steeds die helfte minder as die $68 per vat in Januarie, en die Amerikaanse pryse is nog meer as die helfte minder as die $63 per vat van Januarie.

Wat teen Suid-Afrikaanse pryse tel, is die rand-dollar-wisselkoers, wat sedert begin Maart van net onder R16 teen die dollar tot tussen R18 en R19 teen die dollar verswak het.

Oliepryse is nie bloot deur die Covid-19-pandemie getref wat olievraag skerp laat val het nie, maar ook deur die prysoorlog wat Saoedi-Arabië, ’n leidende lid van Opul, vroeër ontketen het toe Rusland nie wou instem tot ’n ooreenkoms om kwotas vir olieproduksie te verlaag nie.

Die kritieke vergadering in Wene is om die oliemark van ineenstorting te probeer red deur produksie met soveel as 10% te sny. Die uitslag van dié vergadering kan bepaal of oliepryse tot $41 per vat herstel of verder tot $15 per vat ineenstort, meen Michael Kern, nuusredakteur van Oilprice.com.

Petrolverkope sink wêreldwyd

Intussen wys syfers van IHS Markit, ’n internasionale marknavorser, dat petrolverkope wêreldwyd in die vorige week al met 46% getuimel het.

Gevolglik kos petrol in Amerika reeds byna die helfte minder as ’n maand gelede en selfs sowat 80% minder as ’n jaar gelede.

Die lae pryse saai verwoesting met die begrotings van olie-uitvoerlande in veral Afrika wat op olie-uitvoer staatmaak om hul geldsake te laat klop. Brose ekonomieë soos dié van Suid-Soedan het volgens die Africa Energy Chamber vandeesweek by Opul gesmeek om ’n gunstige ooreenkoms te bereik sodat die oliemark kan herstel.

Die skerp val in oliepryse het in Afrika tot kansellasies en uitstel van beleggingsbesluite gelei.

Eksplorasiemaatskappye sny hul kapitaalbestedingsplanne vir 2020 drasties met sowat 20%, berig Oil Review Africa. In Amerika het Whiting Petroleum, ’n oliemaatskappy wat olie uit skalierots ontgin, reeds vir bankrotskapbeskerming aansoek gedoen, en nog talle sulke firmas sal na verwagting vanjaar in sy voetspore volg, berig Reuters.

Meer oor:  Olieprys  |  Koronavirus  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Energie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.