Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Miljarde rand en jare nodig om groen Sasol te skep
Sasol se aanleg in Secunda, Mpumalanga. Foto: Bloomberg

Dit gaan waarskynlik tussen R10 miljard en R20 miljard kos om Sasol se aanlegte in Secunda en Sasolburg groen te maak.

Die proses om die petrochemiese reus se bedrywighede in Suid-Afrika te verander om eerder vloeibare aardgas in plaas van steenkool te gebruik, gaan boonop jare neem.

“Daar word nie net ’n skakelaar aangesit nie. ’n Lang en uitdagende pad lê voor ons,” sê Fleetwood Grobler, uitvoerende hoof, Woensdag in ’n aanlyn gesprek oor die maatskappy se omgewingsplanne.

Grobler het nie doekies omgedraai nie en sê die maatskappy plaas sy hoop op planne om ’n enorme pyplyn te bou wat vloeibare aardgas van die noorde van Mosambiek na Suid-Afrika en die res van Suider-Afrika sal bring.

Daar word gereken dat dié projek soveel as $24 miljard kan kos.

Dié projek betrek egter die regerings van verskeie lande – insluitend dié van Mosambiek en Suid-Afrika – asook talle ander belanghebbendes.

“Ons belê nie in die ontwikkeling van pyplyne nie, maar ons sal dit wel oorweeg om ’n klein belang in die projek te bekom,” sê Grobler.

Die R10 miljard tot R20 miljard wat Sasol tans begroot, is dus net om die infrastruktuur by sy aanlegte in Suid-Afrika te verander sodat gas, en nie steenkool nie, as hoofinset gebruik kan word.

Die plan is om teen 2025 te begin om die aanlegte aan te pas, mits ’n volhoubare bron van vloeibare aardgas beskikbaar is.

Op die vraag oor waar die geld vandaan gaan kom, sê Grobler dat dit is hoekom daar tans hard gewerk word om Sasol 2.0 te skep.

“Ons sal ’n volhoubare en winsgewende Sasol moet skep wat nie net dividende aan beleggers kan betaal en na sy arbeidsmag omsien nie, maar om ook die tegnologie en veranderinge te kan bekostig wat nodig sal wees om die ommeswaai te maak,” sê hy.

Daar is lank reeds sprake daarvan dat Sasol vroeg in 2021 ’n regte-uitgifte van tot $2 miljard kan maak.

Grobler sê sou Sasol wel voortgaan met die regte-uitgifte, dit nie gebruik sal word vir sy planne om omgewingsbesoedeling te verminder nie.

Planne

Sasol beplan om teen 2040 10% minder kweekhuisgasse by sy Suid-Afrikaanse aanlegte vry te stel. Dit is teenoor die vlakke van uitlaatgasse wat sy bedrywighede in 2017 uitgestoot het.

Shamini Harrington, visepresident belas met klimaatverandering by Sasol, en wat aan die gesprek deelgeneem het, sê Sasol het reeds groot aanpassings by sy aanlegte gemaak om dit so doeltreffend moontlik te bedryf.

“Ons het reeds in 2004 begin om veranderinge te maak om die invloed van ons aanlegte op die omgewing te verminder,” sê sy.

Harrington sê dat daar sedertdien reeds 16% minder kweekhuisgasse vrygestel word. Selfs al is daar nog nie sekerheid oor presies wanneer dit vir Sasol moontlik sal wees om toegang te kry tot groot hoeveelhede aardgas nie, werk die maatskappy steeds onverpoosd daaraan om sy aanlegte se kweekhuisgasse te verminder.

Dr. Sarushen Pillay, visepresident belas met volhoubaarheid by Sasol, sê in ’n onderhoud met Netwerk24 die groot uitdaging is om veranderinge aan aanlegte te maak terwyl hulle in bedryf bly.

“Daar word elke September instandhoudingswerk by die aanlegte gedoen. Hulle word egter net elke agt jaar heeltemal afgeskakel. Ons kan dus net ’n beperkte aantal veranderinge op ’n slag maak.”

Hernubare energie

Die gebruik van vloeibare aardgas is nie die enigste plan wat Sasol het om sy invloed op die omgewing te verminder nie.

Die maatskappy kyk ook hoe hernubare energie, veral son- en windkrag, gebruik kan word.

Sasol het reeds in Mei aangekondig dat hy 600 MW se groen krag van onafhanklike kragprodusente wil koop.

Hy het reeds met ’n proses om ’n versoek om inligting hieroor begin.

Deur groen krag te gebruik hoop die maatskappy om sowat 1,6 miljoen ton kweekhuisgas minder per jaar in die atmosfeer vry te stel.

Harrington sê die staat se besluit vroeër vanjaar om maatskappye toe te laat om wel self krag op te wek, het ’n groot struikelblok uit die weg geruim.

Maatskappye is voorheen net toegelaat om tot 10 MW krag self op te wek. Verskeie prosesse moes boonop gevolg word om toestemming hiervoor te kry.

Sy sê tot 20 000 werksgeleenthede kan in Suid-Afrika geskep word wat die vervaardiging van infrastruktuur vir die opwekking van hernubare energie betref.

“Dit is egter ’n nasionale fokuspunt en nie iets wat Sasol op sy eie kan vermag nie,” sê sy.

Ontevredenheid

Pillay en Harrington sê daar is ooglopend nie altyd ’n begrip van presies hoe groot die taak is om Sasol in ’n omgewingsvriendelike maatskappy te verander nie.

“Belanghebbendes vra hoekom dit so lank neem, terwyl ons sê ‘kyk hoe vinnig vorder ons’,” sê Harrington.

Sasol was juis vandeesweek in die nuus omdat hy Just Share, ’n aandeelhouer-aktivistegroep, se versoek om sy resolusies oor klimaatsverandering ter tafel te lê, tydens sy jaarvergadering verwerp het.

Tracey Davies, woordvoerder van Just Share, sê in ’n onderhoud met Business Day TV dit is die derde opeenvolgende jaar dat Sasol weier om gehoor te gee aan hul versoek.

Grobler het nou onderneem dat hulle dit wel sal doen wanneer hulle die volgende jaarvergadering in November volgende jaar hou.

Hy het die versekering gegee dat Sasol verbind is tot die Parys-ooreenkoms oor klimaatverandering. Die Parys-ooreenkoms verbind Suid-Afrika daartoe om vanaf 2021 die vrystelling van kweekhuisgasse te verminder.

Meer oor:  Sasol  |  Energie  |  Aardgas  |  Steenkool  |  Hernieubare Energie  |  Groenkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.