Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Moenie óns skuld gee vir Eskom se blapse’

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, dreig die Suid-Afrikaanse steenkoolbedryf met “harde gesprekke” oor die hemelhoë prys van steenkool.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Hy het by die bekendstelling van Eskom se vrot jaarresultate uitgevaar oor die 17%-verhoging in Eskom se koste vir primêre energie en gesê dié driedubbele inflasie is nie aanvaarbaar nie.

Dit sluit steenkool in, waarvan die eenheidsprys volgens Eskom se jaarverslag met meer as 14% gestyg het.

Maar die steenkoolprodusente sê Eskom self is tot ’n groot mate verantwoordelik vir die styging.

Eskom het ’n verlies van meer as R20 miljard op groepsvlak aangekondig vir die jaar tot 31 Maart. Die nutsmaatskappy wat die oorgrote deel van die land se krag lewer, was op sy eie meer as R23 miljard onderdeur.

Henk Langenhoven, ekonoom van die Mineraleraad, sê faktore in Eskom self en rekordhoë internasionale steenkoolpryse het bygedra tot die 14%-styging in die prys van steenkool.

Hy sê plaaslike verskaffers het agteroor gebuig om Eskom uit die verknorsing te help toe hy laat verlede jaar baie amper sonder enige steenkool gesit het.

Eskom erken in sy jaarverslag dat hy meer steenkool gebruik het per eenheid krag opgewek, omdat sy kragsentrales swak presteer het.

Eskom se uittredende bestuurshoof, Phakamani Hadebe, het by dieselfde geleentheid erken dat sy span verlede jaar heeltemal onkant betrap is toe hulle uitgevind het die kragreus se steenkoolvoorraad is kritiek laag. Hulle moes toe hoed in die hand die bedryf nader wie se vertroue vroeër deur Eskom geskaad is.

Langenhoven sê Eskom het net enkele dae se steenkoolvoorraad gehad omdat vorige kontrakte vir lewering tot ’n einde gekom het of beëindig is toe Brian Molefe, voormalige Eskom-baas, besluit het hy gaan wegdoen met langtermyn-steenkoolkontrakte met die sogenaamde koste-plus-myne.

“Ons wil die brood hê, nie die bakkery nie,” het Molefe gesê.

Eskom wou dié langtermynkontrakte vervang met kort- en mediumtermynkontrakte, maar die sluiting van die ooreenkomste het gesloer, onder meer omdat dit deur die nasionale tesourie goedgekeur moes word.

Eskom het toe ook reeds geruime tyd daarop aangedring dat sy verskaffers minstens 50% swart aandeelhouding moet hê, in teenstelling met die 26%-vereiste van die Mynbouhandves.

Dié omstandighede het die hele steenkoolbedryf op sy kop gekeer en verskeie groot produsente soos Anglo American Coal het hul myne teen afslagpryse verkoop of stappe gedoen om die bedryf te verlaat.

By die byeenkoms wat die Mineraleraad gereël het tussen Eskom en die steenkoolprodusente, het die produsente ingestem om ekstra tonnemaat te lewer om Eskom se voorraadvlak aan te vul, selfs ten koste van lonende uitvoer.

Ooreenkomste is individueel met elke verskaffer gesluit.

Die bedryf het altesame 16 miljoen ton ekstra steenkool gelewer.

Volgens Eskom se jaarverslag het dit hom R2,5 miljard gekos net om weer die steenkoolvoorraad op te bou.

Eskom het met sy rug teen die muur onderhandel, wat nooit ’n goeie vertrekpunt is nie, sê Langenhoven.

Boonop was die steenkoolprys in Richardsbaai toe op ’n hoogtepunt. In Oktober 2018 was dit R1 457,69 per ton, selfs hoër as met die 2008-bloeitydperk vir kommoditeite, sê Langenhoven.

In Junie vanjaar het die prys al teruggesak tot R917,91 per ton.

k

Langenhoven beklemtoon dat mynbou ’n langtermynbedryf is. Die ingrepe wat moes kom om Eskom uit sy penarie te help, is korttermyn-stappe, en dus duurder. En Eskom is gedwing om kontrakte te sluit toe die prys hoog was.

Van die myne het boonop weens die vertrouensbreuk met Eskom net in uitvoersteenkool geïnvesteer. Om skielik gerat te kom om op kort kennisgewing weer aan Eskom te lewer, kos geld, sê hy.

Boonop is daar deesdae ander kopers in veral Indië wat belang stel in die steenkool wat vroeër net deur Eskom aangekoop is.

Langenhoven sê bo en behalwe die ekstra steenkool wat die bedryf gelewer het toe Eskom op sy knoppie druk, het die Mineraleraad ook op sy eie koste die tegniese komitee saamgestel wat Gordhan advies gegee het oor wat gedoen moet word om Eskom se vloot steenkoolkragsentrales te stabiliseer.

Hy sê die verhouding tussen die bedryf en Eskom het tot ’n groot mate herstel.

Langenhoven reken die terugkeer na langtermyn-steenkoolkontrakte sal meer sekerheid bring oor Eskom se steenkoolkoste.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.