Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Molefe betaal dalk net R7,7 m. van pensioen terug

Die presiese bedrag wat Brian Molefe, vorige uitvoerende hoof van Eskom, nou aan Eskom se pensioen- en voorsorgfonds (EPPF) moet terugbetaal, is onduidelik.

Brian Molefe. Foto: Denzil Maregele

Die hooggeregshof het in April 2018 al beslis dat Molefe byna R11 miljoen aan die EPPF moet terugbetaal. Dit was nadat aan die lig gekom het dat Molefe vir homself ’n pensioen van sowat R30 miljoen beding het in die tyd voordat hy einde 2016 by Eskom weg is.

Maar die EPPF vra in ’n nuwe aansoek vir ’n bevel deur die hooggeregshof in Pretoria dat Molefe R7,769 miljoen terugbetaal.

Die pensioen van R30 miljoen spruit uit ’n sameloop van faktore wat insluit dat Molefe 50 jaar oud was toe hy in 2016 by Eskom bedank het, het dit uit vroeëre getuienis voor die parlement se ondersoek na staatskaping by Eskom geblyk.

Sibusiso Luthuli, destydse hoof van die EPPF, het in die parlement getuig Molefe het ’n derde van die pensioen – dus sowat R10 miljoen – in kontant geneem en daarna vanaf Februarie 2017 ’n maandelikse pensioen van R111 000 ontvang.

Molefe het teen 2016 met Eskom beding om vir hom 13 ekstra diensjare se pensioenvoordele te koop, dit wil sê asof hy tot 63-jarige ouderdom by Eskom gewerk het, pleks van 50.

Maar die EPPF het later toegegee Molefe was nie geregtig op so ’n groot pensioen nie – hy was tegnies nie ’n permanente werknemer van Eskom nie, maar is op ’n vyfjaarkontrak aangestel.

Luthuli het getuig dit was ’n fout dat Molefe se personeeldokumente aangedui het hy is ’n permanente Eskom-werknemer, want kontrakwerkers kan nie lid van die EPPF wees nie.

Daar was ook ’n dispuut oor of Molefe nou bedank of vroeg afgetree het. Volgens Molefe het hy afgetree, en was hy daarom op ’n pensioen geregtig.

Molefe het vroeër gesê hy het net R7 miljoen ontvang van dié pensioen, en volgens hom skuld hy die fonds net sowat R3 miljoen, want toe hy na Eskom geskuif het, het hy sy Transnet-pensioenfonds van R4,2 miljoen na die EPPF oorgedra.

Die EPPF vra in ’n hofaansoek dat die oorspronklike hofbevel afgedwing moet word, maar dat die Transnet-pensioenvoordeel daarvan afgetrek mag word. Dit sou die bedrag op rondom R6,8 miljoen te staan bring wat Molefe moet terugbetaal.

Navrae hieroor aan die EPPF is nog nie beantwoord nie. Die EPPF verklaar wel in ’n aankondiging op sy webblad gedateer 23 Desember 2019 dat hy ten volle daartoe verbind is om die saak af te handel. Volgens die EPPF het hy op 13 Desember aansoek gedoen vir die hofbevel om Molefe te dwing om die pensioengeld terug te betaal.

Die EPPF wil volgens ’n berig in Business Day ook hê die Suid-Afrikaanse Inkomstediens moet die belasting terugbetaal wat die EPPF oorbetaal het in verband met Molefe se pensioen.

Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by die vakbond Solidariteit, kla Solidariteit is nie by die jongste hofaansoek ingesluit nie, terwyl dit juis dié vakbond was wat die dryfkrag agter die oorspronklike saak teen Molefe was. Hy het die EPPF gemaan om so gou moontlik die nodige stappe te doen om seker te maak Molefe gee gehoor aan die hofbevel.

Meer oor:  Solidariteit  |  Eskom  |  Brian Molefe  |  Pensioengeld  |  Bedrog  |  Staatsondernemings  |  Hofbevel  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.