Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Munisipale skuld: Komitee verbied vrae aan Eskom
Munisipaliteite skuld miljarde aan Eskom. Foto: Matthew Henry

Waarom het Eskom toegelaat dat R60 miljoen se skuld van die Mafube-munisipaliteit afgeskryf word omdat dit verjaar het, wou Tim Brauteseth, DA-lid van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), Dinsdag weet.

Themba Godi, voorsitter van Skoor, wou egter nie toelaat dat Eskom sy mondelinge voorlegging aan die komitee doen of vrae daaroor beantwoord nie. Sy geskrewe voorlegging is wel vooraf uitgedeel.

Volgens Godi sou dit nie korrek wees nie want dit blyk Eskom verskil nog met van die aanbevelings en interpretasies van die interministeriële taakspan oor die krisis met munisipale skuld aan Eskom.

Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het ’n afvaardiging gelei na die komitee waar die taakspan ’n oorsig gegee het van sy aanbevelings.

Volgens Eskom se geskrewe voorlegging wat voor die tyd uitgedeel is, verjaar skuld binne drie jaar ingevolge die Nasionale Kredietwet. Die verjaringstydperk kan wel onderbreek word deur ’n hofbevel of ’n dagvaarding wat aan die debiteur uitgereik word.

Eskom gee toe sowat R60 miljoen van die Mafube-munisipaliteit se skuld het verjaar en sal afgeskryf moet word. Mafube is die naam van die plaaslike owerheid van Frankfort in die Vrystaat.

Volgens Eskom het die departement van samewerkende regering en tradisionele sake gevra vir ’n moratorium van drie maande op Eskom se gebruik om die krag af te sny van munisipaliteite wat nie hul skuld kan betaal nie.

Van September verlede jaar tot September vanjaar het Eskom al 22 munisipaliteite se krag afgesny, waarvan sewe se krag al twee keer afgesny is.

Volgens Eskom het sy direksie in Oktober besluit hy kan nie instem tot ’n onvoorwaardelike moratorium op die afsny van krag nie.

Eskom en die interministeriële taakspan stem nog nie saam oor wie die eksklusiewe reg het om elektrisiteit te versprei nie, en ook nie oor hoe die skuld van munisipaliteite aan Eskom herstruktureer moet word nie.

Eskom waarsku die groei van agterstallige skuld van R3,41 miljard oor die afgelope ses maande is nie volhoubaar nie.

Die regstappe deur derde partye (soos groot maatskappye wat regstreeks vir hul krag by Eskom wil betaal) lei volgens Eskom boonop tot ’n soort “betalingsvakansie” vir munisipaliteite.

Meer oor:  Eskom  |  Zweli Mkhize  |  Themba Godi  |  Skoor  |  Staatsinstellings  |  Munisipale Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.