Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Munisipaliteite, Eskom se tariewe moet liefs klop’
eskom
Eskom se tariewe is, soos bepaal deur die Wet op Elektrisiteitsregulering, gegrond op die koste van sy doeltreffende bedrywighede plus ’n redelike wins.

Hoewel die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) in Junie kleinkoppie getrek het, wil hy steeds die tariewe wat munisipale eindverbruikers vir krag betaal in pas bring met die veel laer Eskom-kleinhandeltariewe.

Munisipaliteite verwelkom die standaardisering, maar meen Eskom moet sy laer tariewe verhoog tot op die vlak van die munisipale tariewe, eerder as dat die munisipaliteite hul tariewe moet verlaag tot by dié van Eskom.

Rapport het vroeër berig dat die prys wat verbruikers betaal vir elektrisiteit baie verskil tussen Eskom-verspreidingsgebiede en ook tussen munisipaliteite. Dít speel dikwels ’n groot rol in waar nywerhede gevestig word.

’n Groot fabriek wat dag en nag vir vyf dae per week werk en R44,5 miljoen sou betaal vir krag wat direk by Eskom gekoop word, sal in Johannesburg meer as R64 miljoen vir dieselfde krag aan City Power betaal.

In Kaapstad kos dit R54,4 miljoen (sonder aansporingsmaat­reëls), in Tshwane R52,7 miljoen en in Nelson Mandelabaai R47,4 miljoen, sê David Mertens van die Nelson Mandelabaai-sakekamer.

Volgens Eric Bott, direkteur van Green Energy Management Solutions, betaal huishoudings in Soweto wat krag by Johannesburg se City Power koop, sowat 25% meer as hul bure, wat dit regstreeks by Eskom kry.

Eskom se tariewe is, soos bepaal deur die Wet op Elektrisiteitsregulering, gegrond op die koste van sy doeltreffende bedrywighede plus ’n redelike wins.

Dié bepaling geld ook vir munisipaliteite, maar Nersa het dit tot dusver nie eintlik afgedwing nie.

Hoewel Nersa jaarliks in sy riglyne ’n aanbevole tariefband vir elke kategorie verbruikers verskaf het en munisipaliteite mooi moes verduidelik as hulle daarvan afwyk, het munisipaliteite hulle tot dusver min gesteur aan die opdrag om noukeurige kostestudies te doen.

Eskom se tariewe is, soos bepaal deur die Wet op Elektrisiteitsregulering, gegrond op die koste van sy doeltreffende bedrywighede plus ’n redelike wins.

Hoewel dit eintlik nie toelaatbaar is nie, gebruik munisipaliteite inkomste uit kragverkope om ander dienste te subsidieer.

Volgens Mertens glo die sakekamer dat munisipale kragtariewe selde ’n rasionale grondslag het.

Nersa se plan was dus vroeër vanjaar om die Eskom-tariewe, wat wel op kostestudies gegrond is, as bo-perk te gebruik vir die aanbevole tariefbande, en munisipaliteite wat daarteen beswaar maak, só te dwing om die ware koste van hul kraglewering te bepaal.

Die doel was om verbruikers teen oordrewe kragtariewe te beskerm en ’n mededingende elektrisiteitsmark te verseker in die lig van planne om Eskom te ontbondel in afsonderlike maatskappye vir kragopwekking, transmissie en verspreiding.

In die redes vir sy finale besluit oor die riglyne sê Nersa hy moes dié planne vir eers laat vaar omdat daar te min tyd was tussen sy besluit op 29 April en die implementering van die nuwe tariewe op 1 Julie om die strukturele veranderinge aan te bring en rekeningstelsels aan te pas.

Peet du Preez, hoof van die inkomste-bestuurseenheid van die Geoktrooieerde Instituut vir Regerings- Finansiële Oudit- en Risikobeamptes (Cigfaro), verwelkom Nersa se planne om die gaping tussen Eskom- en munisipale kleinhandeltariewe uit die weg te ruim.

Hy sê die onderliggende probleem is egter dat munisipaliteite die grondwetlike reg het om krag in hul gebiede te versprei en tariewe vas te stel. Enige diensverskaffer wat munisipale dienste verskaf, moet ’n diensvlakooreenkoms met die munisipaliteite aangaan, wat die tariewe en standaarde sal bepaal. Eskom weier.

Dié standpunt word ook deur die munisipale vereniging Salga ondersteun.

Du Preez sê dít is die kwessie waarop Nersa moet fokus.

Cigfaro meen elke munisipaliteit se situasie is uniek en hulle behoort self, sonder Nersa-toesig, hul kragtariewe te kan bepaal. As Eskom nie die diensvlakooreenkomste wil onderteken nie, moet hy afsien van kragverspreiding en dit aan die munisipaliteit oorlaat, sê Du Preez.

Munisipaliteite ontbeer tans inkomste uit kragverkope wat hulle in staat kan stel om infrastruktuur op te knap omdat nywerhede eerder in ’n Eskom-verspreidingsgebied vestig, sê Du Preez.

Meer oor:  Eskom  |  Kragtariewe  |  Kragopwekking  |  Kragvoorsiening  |  Munisipaliteite  |  Elektrisiteit  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.