Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Munisipaliteite, Eskom skuil agter Grondwet
Prof. Dan Plaatjies Foto: Bongiwe Gumede

Munisipaliteite voel hulle word ondermyn deurdat hulle nie in sommige gevalle krag kan versprei en verkoop nie, omdat Eskom dit doen. Die pyn word veral gevoel in gebiede waar kragverkope winsgewender is, soos by myne.

Munisipaliteite het volgens hulle die eksklusiewe wetlike mandaat om kragdienste in hul eie gebiede te lewer en inkomste daaruit te verdien, terwyl Eskom ook glo hy het die wetlike mandaat om krag te lewer en te verkoop. Albei glo die Grondwet gee aan hulle die reg om elektrisiteit te verkoop.

Een van die werkspanne van die interministeriële taakspan oor munisipale skuld ondersoek nou dié grondwetlike dilemma, het Lerato Thwane, hoofdirekteur vir munisipale inkomste en ouditresultate by die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, Donderdag aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gesê.

Die interministeriële taakspan oor munisipale skuld bestaan uit die ministers van samewerkende regering en tradisionele sake, van water en sanitasie, van energie en van openbare ondernemings.

Prof. Dan Plaatjies, uitvoerende hoof van die Finansiële en Fiskale Kommissie wat in die adviespaneel van die taakspan dien, verduidelik hoewel munisipaliteite die grondwetlike mandaat het om krag aan plaaslike gemeenskappe te lewer, was dit die dringendheid in 1994 om toegang tot krag uit te brei wat meegebring het dat Eskom in talle gebiede dié taak vervul het.

Tariewe

Volgens Thwane is daar 11 verskillende tariewe waarteen munisipaliteite krag in grootmaat van Eskom aankoop. Dit is verwarrend en Eskom het ingestem om die tariewe te vereenvoudig.

Van April 2017 tot Maart vanjaar was net die rente op al die munisipale skuld aan Eskom sowat R1 miljard.

Die tendens van invordering van kragverkope lyk egter nie goed nie. Elke keer as munisipaliteite elektrisiteitsrekeninge uitstuur, samel hulle al hoe minder geld in, wat beteken hulle raak net al hoe dieper in die skuld by Eskom, het Thwane gesê.

Munisipale tariewe het volgens haar nie bygehou met die werklike koste van kraglewering, soos die instandhouding van infrastruktuur, nie. Kragverkope was in ’n stadium só winsgewend vir munisipaliteite dat hulle bloot tariewe teen die inflasiekoers verhoog het, en die agterstand om aan infrastruktuurinstandhouding te bestee, het net al hoe groter geword.

Die taakspan sal munisipaliteite help om hul skuld en inkomste-invordering beter te bestuur. Daar word gekyk na die gebrek aan vaardighede.

’n Groot probleem is die kultuur van wanbetaling onder verbruikers, wat gepak moet word.

Plaatjies sê munisipaliteite en Eskom blyk soms ewe arrogant en hardkoppig te wees, want elkeen wil sy eie belange beskerm.

’n Voorlopige verslag van die taakspan wys die huidige model van kragverspreiding is onvolhoubaar. Die huidige sakemodel is gegrond op die verkoop van krageenhede, maar alternatiewe kragopsies en -toerusting wat minder krag gebruik, word al hoe meer bekostigbaar.

Die kliënteprofiel van kragkopers is aan die verander, en intussen is daar ondoeltreffendhede wat tot hoër bedryfskoste lei.

Meer oor:  Eskom  |  Kragtariewe  |  Munisipaliteite  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.