Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
’n Gids tot die vreemdste week vir olie

Dis Vrydagmiddag. Brent-ruoliepryse is op $22 per vat en Amerikaanse oliepryse op $17 per vat. Plaaslik is daar ’n oorverhaling van R1,47 op die petrolprys en R2,35 op die dieselprys.

Dit beteken brandstofpryse kan op 6 Mei weer met ’n stewige R1 per liter of meer daal ná April se wesenlike daling.

Maar die ruimtevaarders wat van die Internasionale Ruimtestasie teruggekeer het en al die nuus misgeloop het, sal jou skeef aankyk as hulle hoor Amerikaanse oliepryse was Maandag in ’n stadium soveel as $40 per vat negatief, d.w.s. oliehandelaars was bereid om oliekopers $40 te betaal as hulle net die olie by hulle sal vat.

Dit was ’n kortstondige vreemde verskynsel weens termynkontrakte vir Mei wat hul sperdatum van 21 April genader het, en weens die tekort aan olie-opgaarplek in Amerika. Sekere kommentators het selfs gewaarsku ’n negatiewe prys van $100 per vat is moontlik.

Sedertdien het die kontrakte vir Mei verstryk en het die oliemark redelik gekalmeer te midde van die steeds gedempte vraag na olie wêreldwyd weens die Covid-19-pandemie.

Patrick Mathabeni, navorsings- en beleggingsontleder van Glacier by Sanlam, gee konteks aan die gebeure:

WTI en Brent verskil

Daar is ’n verskil tussen West Texas Intermediate (WTI), die Amerikaanse olieprysmaatstaf, en Brent-ruolie. WTI se fisieke eienskappe is dat dit ’n ligter en soeter olie is (d.w.s. die swaelinhoud is laer) as Brent.

Brent is meer van ’n internasionale prysmaatstaf, terwyl WTI grootliks die maatstaf vir Amerikaanse oliepryse is.

Die meeste olieprodusente in Europa, die Midde-Ooste en Afrika gebruik Brent as riglyn, wat WTI minder relevant vir ’n verbruiksland soos Suid-Afrika maak.

Vraag en aanbod

Duisende motors gereed vir uitvoer hoop op in die hawe van Bremerhaven, Duitsland, want motorverkope het weens die Covid-19-pandemie feitlik tot stilstand gekom. Die wêreldwye inperkings beteken ook min mense mag rondry, wat die vraag na olie skerp laat val het. Foto: Reuters

Mathabeni sê wat Maandag gebeur het is dat die olietermynkontrakte vir Mei, wat Dinsdag verstryk het, onder geweldige druk gekom weens die wanbalans tussen vraag en aanbod. Die prysoorlog tussen Saoedi-Arabië en Rusland het bygedra tot ’n ooraanbod, wat die olieprys afgedruk het.

Maar aan die vraagkant het die pandemie die vraag na olie soos mis voor die son laat verdwyn namate reise wêreldwyd verbied is.

Die Amerikaanse spilpunt vir olieopgaargeriewe, Cushing in die deelstaat Oklahoma, het al hoe voller geraak en dit het groot probleme vir die termynmark geskep.

Hoe werk ’n olietermynkontrak?

’n Transaksie in die olietermynmark behels gewoonlik ’n lang kant en kort kant. Die lang kant is die ou wat gekontrakteer het om olie te koop. Die kort kant is die ou wat gekontrakteer het om olie te verkoop. Teen die tyd dat die kontrak verstryk moet die kort kant die olie aan die lang kant lewer soos belowe, en die lang kant moet die prys betaal en die vrag olie in ontvangs neem.

Maar Maandag het lang-handelaars probeer om uit hul posisies te kom omdat daar nie meer opgaarplek vir olie in Amerika was nie. Toe hulle hul kontrakte wil verkoop, wou niemand dit koop nie want daar is nêrens om die olie te stoor nie. Dit het termynkontrakpryse tydelik in negatiewe terrein gedruk. Pryse het sedertdien herstel namate die markte kennis neem van ekonomieë wat stelselmatig weer oopmaak en wat die vraag sal aanwakker.

Min plaaslike impak

Die tydelike prysskok het min impak op die Suid-Afrikaanse aandelebeurs gehad want dit is meer blootgestel aan die Brent-ruolieprys as aan WTI. Brent was wel Maandag 9% laer, en Sasol het met 3,5% geval. Die selfoongroep MTN, wat sake doen in Nigerië wat grootliks van sy olieproduksie afhanklik is, het ook pak slae gekry en die dag met 17% geval.

Mathabeni beklemtoon laer oliepryse is wel goed vir Suid-Afrika want dit maak invoerpryse goedkoper, en verlig die druk op inflasie. Die ander faktor wat egter dinge kan beduiwel is die rand wat die afgelope week van R18 tot R19 teenoor die dollar verswak het en die voordeel van die laer oliepryse dus effe weggekalwe het.

LEES OOK: Negatiewe oliepryse gaan SA ekonomie nie help

Meer oor:  Olieprys  |  Petrolprys  |  Brent-Ruolie  |  Brandstof  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.