Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
’n Tydlyn van Eskom se talle kortstondige hoofde

Die pos van die uitvoerende hoof van Eskom is al herhaaldelik sedert 2007 gevul. Só lyk die tydlyn van wie wanneer aan die hoof van die kragreus gestaan het.

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, het Vrydag die 11de hoof geword wat sedert 2007 by Eskom die pos verlaat het. Foto: Adrian de Kock

Phakamani Hadebe, huidige uitvoerende hoof van Eskom, het Vrydag aangekondig dat hy aan die einde van Julie gaan bedank.

Hadebe, die 11de persoon wat die nutsmaatskappy sedert 2007 gelei het, is op 20 Januarie verlede jaar as tussentydse hoof aangestel en op 24 Mei 2018, presies ’n jaar voor sy bedanking-aankondiging, as permanente uitvoerende hoof van Eskom aangewys.

Hadebe se aanvanklike aanstelling is as ’n goeie keuse deur sowel die openbare as private sektors verwelkom. Rapport berig egter dat Hadebe al vantevore probeer bedank het, maar gesmeek is om langer te bly.

In sy verklaring Vrydag het Hadebe gesê dat sy gesondheid en senuwees dit nie kon hou in die pos nie en dat hy vir sy eie en sy familie se onthalwe doodeenvoudig moet loop.

Rapport sê ook dat Hadebe al twee keer vanjaar ineengestort het by die werk en per ambulans weggery moes word.

Enige vordering wat hy gemaak het om die sistemiese verderf by die noodsaaklike onderneming te takel is moeilik gemaak vir hom, en ook vererger daardeur dat hy deur die vakbonde gyselaar gehou is.
Natasha Mazzone

Natasha Mazzone, DA-LP, sê Sondag in ’n verklaring dat Hadebe se bedanking nie verrassend is nie.

“Dit is duidelik dat daar geen politieke wil was vir Hadebe om sukses te behaal nie,” sê Mazzone.

“Enige vordering wat hy gemaak het om die sistemiese verderf by die noodsaaklike onderneming te takel is moeilik gemaak vir hom, en ook vererger daardeur dat hy deur die vakbonde gyselaar gehou is.

“Dit is klaarblyklik dat die verrotting by Eskom nou al so diep is dat dit geheel en al geherstruktureer moet word.”

Dr. Vincent Maphai, ’n akademikus en sakeman wat voorheen op die direksies van onder meer BHP Billiton en die SAB gedien het, sê Vrydag die regruk van Eskom is eenvoudig.

“Bring die regte mense terug,” het hy by die Bryanston-buiteklub gesê in ’n oorsig oor Suid-Afrika ná vanjaar se verkiesing.

“Eskom het destyds nog R7 miljard se dividende jaarliks aan die regering betaal, so goed was dit bestuur.

“Hoe maak jy dit nou reg? Bring doodeenvoudig die regte mense terug.”

Maphai het wel klem gelê op die meervoudsvorm van sy voorstel – nie net een persoon sal die nutsmaatskappy kan red nie.

Wie was vantevore aan bewind, en hoekom het hulle geloop?

  • 2007: Thulani Gcabashe se kontrak eindig ná sewe jaar. Hy was die eerste swart mens aan bewind by die nutsmaatskappy ná 1994. Hy het onsuksesvol die regering probeer oortuig om meer kragstasies te bou en bly tot vandag die langs dienende uitvoerende hoof van Eskom sedert 1994. Jacob Maroga word as sy plaasvervanger aangestel.
  • 2009: Jacob Maroga “bedank”. Hy neem die nutsmaatskappy hof toe en beweer dat hy gedwing is om “vrywillig” te bedank, maar eintlik onreëlmatig afgedank is. Sy hofsaak om ’n skeidingspakket van R85 miljoen te ontvang of heraangestel te word word uitgegooi. Mpho Makwana word as waarnemende hoof aangewys.
  • 2010: Mpho Makwana se waarnemende tydperk kom tot ’n einde toe Eskom suksesvol ’n nuwe permanente hoof, Brian Dames, opgespoor het.
  • 2013: Brian Dames bedank wees persoonlike redes ná hy die nutsmaatskappy tot ’n R12,2 miljard-wins gelei het teen einde September 2013. Collin Matjila word as waarnemende hoof aangestel.
  • 2014: Collin Matjila se waarnemende tydperk kom tot ’n einde en Eskom stel Tshediso Matona aan.
  • 2015: Tshediso Matona en drie ander bestuurders word geskors te midde van ’n ondersoek na beweerde wanbestuur van die nutsmaatskappy en die toepassing van beurtkrag. Matona en Eskom het wel ’n ooreenkoms bereik en hy is toe afgedank met ’n skeidingspakket van onbekende waarde. Brian Molefe word in sy plek aangestel.
  • 2016: Brian Molefe bedank. Molefe was op vele fronte in die staatskapingsage betrek en te midde van dié moles het hy later beweer dat hy eintlik afgetree het. Matshela Koko word as waarnemende hoof aangestel.
  • 2017: Matshela Koko word geskors ná bewerings van betrokkenheid by staatskaping. Verdere bewerings van nepotisme, die onreëlmatige verspreiding van vertroulike dokumente en die misleiding van die parlement is toe ook geopenbaar. Johnny Dladla word as waarnemende hoof aangewys met lof van die minister van openbare ondernemings, Lynne Brown.
  • 2017: Johnny Dladla word ná net vier maande uit sy waarnemende pos verwyder, een dag ná die direksie met Lynne Brown vergader het. Sean Maritz word as tussentydse hoof aangestel.
  • 2018: Sean Maritz word geskors te midde van vermeende betrokkenheid by staatskaping, bedrieglike transaksies met Eskom se krediteurs in Asië en die omstrede aanstelling van ’n vriend. Phakamani Hadebe word as tussentydse hoof aangestel in Januarie en op 24 Mei neem hy die permanente pos aan.
  • 2019: Phakamani Hadebe bedank weens gesondheidsredes wat te doen het met die druk en groot eise wat dit aan hom stel om die sukkelende kragreus weer op koers te kry ná jare se wanbestuur.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.