Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Nalatiges’ by Medupi glo in die pad gesteek
Eskom se Medupi-kragstasie in aanbou naby Lephalale in Limpopo.

Ná ’n nagmerrieweek in die Medupi-mega-steenkoolkragsentrale het Eskom drie “nalatige” kontrakteurs in die pad gesteek.

“Hulle is gesê om nie terug te kom nie,” het Dikatso Mothae, woordvoerder van Eskom, aan Netwerk24 gesê.

Die afdankings kom nadat probleme in Medupi een van die hoofredes vir die toepassing van beurtkrag sedert verlede Woensdag was.

Bheki Nxumalo, hoof van opwekking, het die drie kontrakteurs, wat in verskeie afdelings van Medupi gewerk het, blykbaar weens nalatigheid afgedank.

Mothae sê permanente personeel en bestuurders is nie geraak nie.

Die jongste probleme in die beleërde kragsentrale het op Saterdag 12 Oktober begin. Die ineenstorting van ’n 700 m lange deel van ’n 7 km lange steenkoolvervoerband het daartoe gelei dat Medupi se enorme ketels nie met genoeg steenkool gevoer kon word nie.

Dit het aanvanklik die kragsentrale se opwekkingsvermoë van 4 800 megawatt (MW) tot sowat 1 600 MW (’n derde) beperk.

Stootskrapers is toe ingespan om die steenkool na die ketels te vervoer en sodoende kon Medupi se opwekkingskapasiteit tot 50% verhoog word.

Chris Yelland, energiekenner en uitgewer van EE Publishers, skryf egter Dinsdag in sy ontleding dat daar baie groter fout by Medupi is.

Volgens hom word Medupi reeds gekniehalter deurdat die “steenkoolbergingsgebied heeltemal gesystap is en dit ’n enorme afhanklikheid van die enkele vervoerband veroorsaak het”.

Dié vervoerband loop vanaf die Grootegeluk-myn oor ’n afstand van sowat 7 km verby bergingsgebiede tot in Medupi.

Volgens Yelland is die enorme stapelaar-herwinningslaaiers stukkend wat veronderstel is om steenkool ook vanaf die sekondêre bergingsgebied tot op die vervoerband, baie nader aan Medupi, te skep. Dit beteken dat steenkool slegs vanaf die myn self kan kom, en dus teen ’n versnelde pas by die myn op die vervoerband moet kom om aan Medupi se behoefte van 4 000 ton steenkool per uur te voldoen.

Yelland sê ideaal gesproke word die bergingsgebied vol gelaai en die stapelaar-herwinningslaaiers laai dan ook van daar af steenkool op die vervoerband soos nodig.

Dit verkort nie net die afstand wat afgelê moet word nie, maar verminder ook die las op die vervoerband self.

Maar Mothae het gesê dié inligting is doodeenvoudig vals.

“Mnr. Yelland is verkeerd.”

Mothae bevestig dat sy die Medupi-kragsentrale Maandag persoonlik besoek het en dat daar wel stapelaar-herwinningslaaiers aan’t werk is.

Sy erken wel dat nie almal tans werk nie. Maar dit is nie so ’n groot probleem soos wat Yelland dit maak nie, het sy gesê.

Rudi van der Wal, bestuurder van Medupi, het ook intussen bedank.

Sy bedanking is egter al ’n geruime tyd gelede beplan, en is volgens Yelland gemotiveer deur beter oorsese geleenthede.

Yelland skryf egter dat Van der Wal te midde van verlede week se krisis saam met die ander kontrakteurs gevra is om te loop. Hy sou na verwagting eers op ’n later stadium sy laaste dag gewerk het.

Mothae het gesê dié bewering is ooglopend “sensasioneel” want Van der Wal het uit sy eie besluit om te loop, en Eskom het geen aantygings teen hom nie.

“Hy is nié gevra om te loop nie.”

Sy het gesê werk vorder goed om Medupi se probleme binnekort op te los.

Die uiters belangrike steenkool-vervoerband sal ook “voor die einde van die week” herstel wees, en dan hoort Medupi weer sy volle bydrae tot die verskaffing van krag te kan lewer.

Dit is tans die grootste lugverkoelde steenkoolkragsentrale ter wêreld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.