Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nasionaliseer Sasol, vra chemiese werkers
SOWETO, SOUTH AFRICA - FEBRUARY 7: Early morning a
Die vakbond Ceppwawu eis dat Sasol weer genasionaliseer word. Foto: Getty Images

Sasol moet genasionaliseer word.

Die vakbond Ceppwawu, wat werkers in die chemiese, brandstof-, papier- en houtbedryf verteenwoordig, het Dinsdag in die parlement gevra dat die petrochemiese reus weer genasionaliseer word.

Ceppwawu sê Sasol is in die apartheidsjare begin met belastingbetalersgeld, en daarom is dit net reg dat die maatskappy weer staatsbesit word.

Volgens Ceppwawu stem sy lede wat daar werk saam dat Sasol genasionaliseer behoort te word.

Beroepe op die regering om Sasol te nasionaliseer is al herhaaldelik gemaak, onder meer deur die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party in 2012, asook verlede jaar deur die Durbanse gemeenskapsgroep People Against Petrol and Paraffin Price Increase (Papppi). Alex Anderson, senior bestuurder vir groepkommunikasie by Sasol, sê nasionalisering is nie tans deel van regeringsbeleid nie. Hy het gesê dis al kommentaar wat Sasol in hierdie stadium op sulke uitsprake kan lewer.

Papppi was onder die indruk dat die nasionalisering van Sasol tot laer brandstofpryse sal lei.

Ceppwawu se eie verslag oor die brandstofbedryf wat hy Dinsdag as deel van sy voorlegging by die portefeuljekomitee oor minerale en energie in die parlement ingedien het, wys egter dat Sasol se sintetiese-brandstofaanlegte alleen maar net 17% van Suid-Afrika se brandstof vervaardig.

Om Sasol te nasionaliseer sal dus nie veel help om brandstofpryse te verlaag nie. Boonop reguleer die regering self die prys van brandstof.

Papppi het verlede jaar probeer om ’n boikot teen Sasol-vulstasies in te stel. Papppi het gedog deur Sasol te boikot kan hy Sasol dwing om pryse te verlaag. Maar die prys van brandstof is nie in Sasol se hande nie, maar in die departement van energie s’n wat maandeliks pryse op grond van internasionale brandstofpryse en die rand-dollar-wisselkoers reguleer.

Ceppwawu se eie syfers wat hy van die jaarverslag van die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfsvereniging kry, wys ook dat Sasol Oil, wat die Sasol-vulstasies bedryf, ’n markaandeel van net 10% in Suid-Afrika het. Al produseer Sasol dus 17% van Suid-Afrika se brandstof uit steenkool, verkoop sy eie vulstasies net 10% daarvan of omdat Sasol ook van sy brandstof in die binneland aan ander brandstofmaatskappye verkoop vir verspreiding.

Volgens Sasol se jongste beskikbare lys van aandeelhouers op sy webblad besit die staat reeds 8,5% van Sasol via die Nywerheidsontwikkelingskorporasie, en nog 11,6% via die Openbare Beleggingskorporasie wat Sasol-aandele namens die staatspensioenfonds besit, vir ’n totale belang van 20,1%, oftewel ’n vyfde.

Sasol is in 1950 in Sasolburg begin, met tegnologie wat deur Duitse wetenskaplikes ontwikkel is om brandstof uit steenkool te maak.

Meer oor:  Sasol  |  Energie  |  Maatskappye  |  Nasionalisering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.