Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nat steenkool kry skuld vir beurtkrag
Melkbosstrand North of Cape Town South Africa Powe
Eskom het Donderdagmiddag skielik weer beurtkrag ingestel. Foto: Getty Images

Die probleem van nat steenkool begin weer opduik as ’n verduideliking deur Eskom vir sy kragprobleme.

Eskom het skielik in die vroeë oggendure van Vrydag besluit dat beurtkrag vanaf 09:00 tot Saterdag 06:00 moet voortduur.

Volgens Eskom het die volgehoue reën in Mpumalanga, waar die meeste van sy steenkoolkragstasies is, tot nat steenkool gelei. Dit maak steenkoolhantering moeilik en het tot ekstra kragverliese gelei.

Die probleem kan vererger as die reënweer voortduur, het hy gewaarsku.

Eskom het in Maart 2014 ook gekla dat swaar reën in Mpumalanga die opgegaarde steenkoolhope by kragstasies laat nat word het. Dit veroorsaak dat die steenkool baie moeiliker brand, het ’n woordvoerder toe gesê.

Volgens Eskom is meer as 12 500 MW van sy kragopwekkingsvermoë tans buite aksie weens onbeplande gebeure, d.w.s. dit is nie af weens beplande instandhoudingswerk nie maar as gevolg van iets wat gebreek het en noodinstandhoudingswerk moet gedoen word.

Eskom gebruik tans sy duur dieselkragstasies in Atlantis aan die Weskus en Mosselbaai in die Suid-Kaap om die kragnetwerk aan die gang te hou.

Tegniese spanne kon nie oornag soos beplan van die kragopwekkingseenhede wat onklaar geraak het weer aan die gang kry nie. Dus kon die watervoorraad in sy pompopgaarskemas soos Ingula in KwaZulu-Natal of Palmiet naby Grabouw in die Wes-Kaap nie oornag aangevul word nie.

Die pompopgaarskemas moet in tye van stiller kragvraag water na ’n boonste dam pomp sodat dit is gereed is vir noodkragopwekking wanneer die kragvraag toeneem of ander opwekkingseenhede breek.

Volgens Eskom werk sy tegniese spanne voluit om die opwekkingseenhede te herstel.

Prof. Anton Eberhard, ’n voormalige kommissaris van die beplanningskommissie en ’n kenner van elektrisiteitsregulering van die Universiteit van Kaapstad, het via Twitter sy verbasing uitgespreek dat Eskom nou selfs so ver moet gaan om beurtkrag snags toe te pas wanneer die kragvraag die laagste is. Eskom gebruik juis die stiller tye snags om water na die boonste damme van die pompopgaarskemas te pomp sodat dit hidroëlektrisiteit kan opwek tydens spitsvraag, maar so baie kragstasies is nou buite werking dat hy nie eens genoegsaam daarin kan slaag nie.

Chris Yelland, uitgewer van EE Publishers en energiekommentator, het Donderdag via Twitter laat weet hy verneem die Medupi-kragstasie se Eenheid 4 is vir beplande instandhouding uit diens, terwyl die ander vyf eenhede wel krag opwek. Daar was glo Donderdag nie een eenheid in die Kusile-kragstasie wat krag opwek nie, met Eenheid 3 wat Vrydag aan die gang sou kom nadat dit Donderdag ingegee het, en Eenheid 1 wat vir herstelwerk af is.

Intussen waarsku die Instituut vir Energie-ekonomie en Finansiële Ontleding (IEEFA) dat Eskom se internasionale kliënte weens sy probleme hulle toenemend na alternatiewe bronne soos sonkrag wend. IEEFA wys in ’n nuwe artikel op Eskom se kragverkope aan buurlande wat van 15 268 GWh in die 2017-’18-boekjaar tot 12 461 GWh in die boekjaar tot einde Maart vanjaar gekrimp het.

Dit sluit Namibië, Botswana, Lesotho, Mosambiek, Swaziland, Zambië en Zimbabwe in. Zambië het in Maart ’n sonkragaanleg van 54 MW aan die gang gesit en kort daarna is nog ’n sonkragaanleg van 34 MW aangeskakel.

Botswana en Namibië ondersoek ook groot sonkragtenders. Zimbabwe wil ook meer na sonkrag oorskakel want die erge droogte veroorsaak dat sy hidrokragstasies nie genoeg krag kan opwek nie.

Meer oor:  Eskom  |  Kragvoorsiening  |  Beurtkrag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.