Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Negatiewe oliepryse gaan SA ekonomie nié help
Oliepryse is vir die eerste keer nóg negatief, maar die regering gaan waarskynlik jou goedkoper brandstof met ’n groter heffing uitkanselleer.Foto: Getty Images

Al lyk dit onwaarskynlik, kan die ineenstorting van Amerikaanse oliepryse dalk wel aansteeklik wees vir Brent-ruolie, maar dis nie nét goeie nuus vir Suid-Afrika nie.

Die prys van West Texas Intermediate (WTI), die soort ruolie wat Amerika in motorbrandstof gebruik, het in ’n stadium Maandag tot -$40,32 per vat gedaal vir termynkontrakte vir lewering in Mei.

Dinsdag het WTI-termynkontrakte opnuut tot negatiewe pryse gedaal ná ’n tydelike herstelling tot sowat $1,50. Dié termynkontrakte verval Dinsdag en daar is dus ’n geskarrel om van hulle ontslae te raak voordat houers van die kontrakte aflewerings regte olie sou moes ontvang.

Dis ’n ongekende gebeurtenis in die geskiedenis van oliemarkte, sê ontleders.

Volgens Izak Odendaal, beleggingstrateeg van Old Mutual Wealth, beteken dit daar sit wel ’n paar knape wat nou olie moes aflewer nadat hulle die koper vir dié reg betaal het.

“Dis ’n mal ongeluk,” sê Odendaal aan Netwerk24.

Die rede vir die ineenstorting van Amerikaanse oliepryse is hoofsaaklik omdat Amerika se ekonomie tot stilstand gekom het te midde van ’n reisverbod en inperking wat in die meeste deelstate geld.

Terselfdertyd word te veel olie steeds geproduseer, ondanks enorme produksiebesnoeiings deur verskeie olieprodusente.

Die situasie is nou so erg dat daar doodeenvoudig geen bergingsruimte oor is om olie te stoor in Amerika nie en dus kan geen koper bekostig om die aflewering van ruolie te aanvaar nie. Dit het dus goedkoper geword om eerder verkopers te betaal om hul olie te hou as om dit te ontvang.

“Daar is weinig faktore om te verhoed dat die fisieke oliemark in die nabye toekoms verder agteruit boer,” sê Michael Tran, besturende direkteur van wêreldwye energiestrategie by RBC Capital Markets, aan Bloomberg. “Raffinaderye verwerp vate teen ’n ongekende tempo, en met die Amerikaanse bergingsvlakke wat propvol is, sal die markkragte nog meer pyn veroorsaak totdat ons óf die bodem slaan óf die Covid-19-pandemie eindig, wat ook al eerste is, maar dit lyk asof eersgenoemde waarskynliker is.”

Odendaal verduidelik die oormaat olie is van so ’n aard dat bergingskoste nou ses keer hoër is as ’n maand gelede, en termynkontrakte verg dat minimum bestellings van 1 000 vate op ’n slag geplaas word.

“Absoluut niemand soek olie nie,” sê Odendaal. “Daar is nie eens meer plek om dit te stoor om later vanjaar selfs te probeer wins maak wanneer pryse hopelik weer styg nie.

“Dis ongekend.”

Suid-Afrika

Suid-Afrika voer Brent-ruolie in en nie WTI nie. Die prys van Brent het Dinsdag ook met sowat 18% gedaal tot $20,90 per vat op die rug van beperkte vraag na olie internasionaal soos die Covid-19-pandemie en globale resessie se houvas versterk.

Odendaal sê daar is “enorme druk” op selfs die meer gediversifiseerde vraag na Brent-ruolie, wat die prys daarvan ook voortdurend gaan laat daal. Dis nie onmoontlik dat Brent-ruolie ook negatiewe pryse op termynmarkte kan haal nie.

Vir Suid-Afrikaners is dit op die oog af goeie nuus, sê Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec. Sy reken groot dalings in die petrolprys is beslis Suid-Afrikaners se voorland.

Maar Odendaal waarsku dat die regering sy pond vleis sal wil hê.

“Ek sal nie verras wees as die regering die brandstofheffing dienooreenkomstig verhoog en ’n groot deel van die besparings vir homself gaps nie,” sê Odendaal.

Die gewoonlik stimulerende effek van laer oliepryse gaan ook nie noodwendig Suid-Afrika se ekonomie ’n hupstoot gee nie, verduidelik Odendaal.

“Laer oliepryse gaan lei tot werkverliese (by oliemaatskappye, raffinaderye en verwante bedrywe), wat die resessie gaan vererger, wat pryse nog laer sal stoot in ’n bose kringloop.”

Die ekonomie gaan ook nie gestimuleer word deur verbruikers wat geld spaar op brandstof nie.

“Almal sit by die huis, hulle kan nie die ekstra geld gaan bestee nie, so daar gaan geen stimuluseffek soos gewoonlik wees nie.”

Meer oor:  Olieprys  |  Koronavirus  |  Olie  |  Petrolprys  |  Brandstofpryse  |  Brandstof  |  Energie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.