Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nersa gelooi ná hofbesluit oor kragtariewe

Dis kommerwekkend dat ’n regter bevind het dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) onwettige besluite geneem het toe hy oor kragtariewe moes besluit.

Large concentration of Power lines and pylons. (Ph
Eskom het toestemming gekry om kragtariewe oor die volgende drie jaar met ’n verdere 10% te verhoog. Foto: Getty Images

So reageer Chris Yelland, besturende direkteur van EE Business Intelligence, op regter Fayeeza Kathree-Setiloane se uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria in ’n geskil tussen Nersa en Eskom oor hoe verhogings in kragtariewe bepaal mag word.

Kathree-Setiloane het bevind dat Nersa se besluit onwettig was om ’n reddingsboei van R69 miljard wat die staat aan Eskom toegeken het, van sy berekeninge af te trek toe hy in September 2018 oor tariewe besluit het.

Sy het beslis dat Eskom in 2021-’22 tariewe van 116,72 c/kWh tot 128,24 c/kWh mag verhoog ten einde R23 miljard meer in te vorder. Dis ’n verhoging van bykans 10% in kragtariewe.

In die daaropvolgende twee jaar mag Eskom elke jaar pryse verhoog om ’n verdere R23 miljard per jaar in te samel.

Dié verhogings is benewens ander waarvoor Eskom ook kan aansoek doen.

LEES OOK: Eskom wen hofsaak, kragpryse mag met 10% styg

Kathree-Setiloane se onder meer in haar uitspraak die reguleerder het ’n “verskriklike” fout gemaak.

Sy verwys ook na regter Jody Kollapen se bevinding in Maart dat Nersa basiese rekeningkundige beginsels oortree het toe ander besluite oor kragtariewe geneem is.

Yelland sê Nersa sal vinnig moet wakker skrik en sy huis in orde kry.

Ons stel voor dat ’n moratorium op enige verdere kragtariefstygings geplaas word om sukkelende ondernemings tegemoet te kom en die ekonomie in dié ongeëwenaarde tyd te ondersteun.
Marique Kruger van Seifsa

Hoewel dit Nersa se plig is om te verseker dat Suid-Afrikaners nie te veel vir krag betaal nie, kan die reguleerder nie onwettige besluite neem om laer tariefverhogings te bewerkstellig nie.

Liz McDaid, die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) se parlementêre raadgewer, sê die uitspraak wys die huidige stelsel om kragtariewe vas te stel, werk duidelik nie. Boonop is dit nou die verbruiker wat vir die probleem moet betaal.

Sy stem saam dat dit Nersa se taak is om die verbruiker te beskerm, “tog lyk dit of hy net foute maak”.

Nersa het Woensdag in ’n verklaring gesê hy oorweeg dit om teen die vonnis te appelleer. “As die uitspraak nie betwis word nie, sal dit nie net die bedryf ontwrig nie, maar ekonomiese herstel verder onderdruk.”

Yelland dink nie ’n appèl is die moeite werd nie.

“Nersa moet binne die grense van die wet en sy berekeninge bly. Hy kan nie die wet oortree nie. Die regter het hier bevind Nersa het die wet oortree, nie dat hy ’n verkeerde berekening gemaak het nie.”

Die DA-LP Kevin Mileham het te velde getrek teen Nersa se voortslepende “foute”, wat Suid-Afrikaners duur te staan gaan kom.

Kevin Mileham, DA-LP, sê verbruikers moet nou vir Eskom se korrupsie én Nersa se foute betaal. Foto: Sarel van der Walt

Hy het ’n beroep op die ouditeur-generaal gedoen om al Nersa se besluite oor kragtariewe elke jaar te oudit.

“Suid-Afrikaners moet nou nie nét hoër tariewe betaal weens jare van korrupsie en wanbestuur by die nutsmaatskappy wat die koste van sake doen vir Eskom laat styg het nie, hulle moet nou ook die spit afbyt vir Nersa se duur berekeningsfoute en hofgedinge.”

Mileham sê ook: “Nersa moet dadelik wigte en teenwigte in werking stel om te verseker dat tariefberekeninge deursigtig en billik gedoen word en onderwerp kan word aan hersiening tydens die proses, sodat dit nie jare later hof toe geneem word vir hersiening nie.” 

Onbekostigbaar

Yelland sê egter Eskom moet dalk ook nie te gou te bly wees oor die uitspraak nie. Hoër tariewe kan ’n bose kringloop ontketen.

Hy waarsku dat elektrisiteit veral nou gedurende die Covid-19-pandemie vir baie individue en maatskappye onbekostigbaar gaan raak.

“Dit help niks jy sê tariewe is laag in vergelyking met ander lande, maar jy neem nie in ag of dit bekostigbaar is nie.”

’n Beduidend hoër tarief kan diefstal, onwettige konneksies en wanbetaling aanvuur.

Nersa moet dadelik wigte en teenwigte in werking stel om te verseker dat tariefberekeninge deursigtig en billik gedoen word.
Kevin Mileham van die DA

Hy sê gegewe die hoë werkloosheid in Suid-Afrika, gaan al hoe meer mense waarskynlik nie hul munisipaliteite betaal nie, wat op hul beurt weer nie vir Eskom gaan betaal nie.

“Dit gaan munisipale skuld aan Eskom net verder die hoogte laat inskiet. Dit gaan op sy beurt weer vir Eskom noop om wéér vir verhogings van kragtariewe te vra.”

Munisipaliteite het Eskom teen einde Maart reeds ’n enorme R28,4 miljard geskuld.

Yelland wys daarop dat kragtariewe selfs verder kan styg as Nersa tariewe aanpas waarmee hy vroeër vanjaar erken het berekeningsfoute gemaak is.

“Die feit dat die regter twee sake na die reguleerder terugverwys het, wys dat daar ’n kans is dat tariewe verder aangepas kan word.”

Impak op mynbou, staalbedryf

Henk Langenhoven, ekonoom by die Mineraleraad van Suid-Afrika, sê duurder krag gaan ongetwyfeld ’n groot invloed op die mynbou hê.

“Sowat 45% van myne se bedryfskoste is onveranderlike koste – soos vir elektrisiteit – wat die staat bepaal. Myne het dus baie min buigsaamheid wanneer dit kom by uitgawes verminder,” verduidelik hy.

Suid-Afrika se staalbedryf verskaf werk aan meer as 281 000 mense.

Elize Kruger, ’n onafhanklike ekonoom, waarsku ook dat hoër kragtariewe die ekonomie vir veel langer onder druk gaan hou.

“Eskom bly ’n beduidende las op die Suid-Afrikaanse ekonomie – dít terwyl hy nie eens in staat is om altyd die land se ligte aan te hou nie.”

Die Federasie van Staal- en Ingenieursbedrywe van Suider-Afrika (Seifsa) het sy teleurstelling in die hofbeslissing uitgespreek.

Marique Kruger, ekonoom, sê dis “regtig slegte nuus” vir die staalbedryf, aangesien plaaslike maatskappye nou nóg skokke sal moet absorbeer te midde van ’n sukkelende ekonomie.

“Die energie-intensiewe onderafdelings van die sektor is reeds onder enorme druk en kan kwalik nog ’n bedreiging vir hul volhoubaarheid bekostig.”

Beurtkrag het óók die bedryf se insetkoste verhoog. 

Die Covid-19-pandemie “het enige hoop op ekonomiese herstel op mediumtermyn uitgewis”. Seifsa het sy groeiverwagting vir 2020 van 0,6% tot -9,1% verlaag.

“Enige verdere styging in kragkoste sal produksie en groei in die sektor verder vertraag, verkoopspryse laat styg en lei tot ’n daling in uitvoer weens laer mededingendheid. Dit sal ook tot meer werkverliese lei.

“Ons stel voor dat ’n moratorium op enige verdere kragtariefstygings geplaas word om sukkelende ondernemings tegemoet te kom en die ekonomie in dié ongeëwenaarde tyd te ondersteun, gegewe dat dit deur die sluiting van al hoe meer maatskappye gekenmerk word, met ’n gepaardgaande bloedbad van poste.”

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Kragtariewe  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.