Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nersa gryp Eskom se staatshulp van R69 mjd.

Nersa het die reddingsboei van R69 miljard wat die regering vir Eskom gegee het, skynbaar gebruik om kragtariewe laag te hou, wat beteken die kragreus kan dit nie gebruik om uit die rooi te probeer kom nie.

Het Nersa dalk die wet oortree in die manier waarop hy Eskom se tariefverhogings bepaal het?

In die brief waarin Nersa vir Eskom inlig oor sy besluit, en wat onlangs in die parlement ter tafel gelê is, toon Nersa duidelik dat die opbrengs-komponent van die inkomste wat hy Eskom gaan toelaat om uit tariewe te verhaal “aangepas (is) vir regeringshulp”.

Eskom gaan na verwagting die saak nie daar laat nie.

Nersa het nog nie redes gegee vir sy besluit om aan Eskom tariefverhogings van onderskeidelik net 9,41%, 8,10% en 5,22% vir die volgende drie jaar toe te ken, pleks van die sowat 17%, 15% en 15% waarvoor hy gevra het nie.

Volgens Jabu Mabuza, Eskom-voorsitter, het hy reeds by Nersa navraag gedoen oor hoe hy die regeringshulp hanteer het toe hy sy besluit oor die tariewe gemaak het, maar hy is aangesê om te wag.

Die kragreus is reeds besig met regstappe om verskeie van Nersa se vorige tariefbepalings in die hooggeregshof op hersiening te neem en kan dieselfde doen met hierdie besluit.

As Eskom se aansoeke slaag, sal die hof na verwagting die tariefbepalings tersyde stel en na Nersa terugverwys om van voor af daaroor te besin. Dit kan baie onsekerheid bring oor toekomstige elektrisiteitspryse.

Nersa se besluit om die reddingsboei af te trek van Eskom se toegelate inkomste uit tariewe wat Eskom hef, laat Eskom met ’n negatiewe opbrengs van R8,7 miljard, R9,3 miljard en R9,8 miljard vir die volgende drie jaar. Daar word dus in werklikheid begroot vir reuseverliese.

Nersa se besluit om die reddingsboei af te trek van Eskom se toegelate inkomste uit tariewe wat Eskom hef, laat Eskom met ’n negatiewe opbrengs van R8,7 miljard, R9,3 miljard en R9,8 miljard vir die volgende drie jaar. Daar word dus in werklikheid begroot vir reuseverliese, wat aangevul moet word met die R69 miljard se regeringshulp.

Die reguleerder bepaal die tariewe op grond van spesifieke metodologie en die totale toegelate inkomste word bereken volgens ’n formule met verskillende boublokke. Dit sluit in items soos bedryfskoste, primêre energie (hoofsaaklik aankope van steenkool), die koste van kragaankope van onafhanklike kragver­skaffers en opbrengs op bates. Dis by dié opbrengs wat Nersa aandui dat hy die regeringshulp afgetrek het.

Die Wet op die Regulering van Elektrisiteit ingevolge waarvan Nersa optree, bepaal dat tariewe Eskom “in staat moet stel om die volle koste van sy gelisensieerde aktiwiteite te verhaal, plus ’n redelike winsgrens of opbrengs”.

Terselfdertyd bepaal die metodologie dat die reguleerder “redelike oordeel” mag uitoefen oor Eskom se inkomste “ná deeglike oorweging van wat in die beste belang is van die Suid-Afrikaanse ekonomie en die publiek”.

Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom se direksie. Foto: Felix Dlangamandla

Thembani Bukula, uitvoerende hoof van PowerX en voormalige Nersa-lid vir elektrisiteit, sê die formule wat Nersa gebruik om die toegelate inkomste te bereken, maak nie voorsiening vir aanpassings met betrekking tot regeringshulp nie.

As Nersa aanvoer dat hy Eskom se inkomste bereken, toe die impak van regeringshulp oorweeg en dit dienooreenkomstig verminder het, sal die reguleerder ook moet kan toon dat Eskom steeds al sy verpligtinge sal kan nakom, ten spyte van die verminderde inkomste, sê Bukula.

Rapport het vroeër berig dat Mabuza gesê het Eskom se geldsake is ten spyte van die regeringshulp en ná die bekendmaking van Nersa se besluit so benard dat hy R250 miljard van sy berg skuld van meer as R400 miljard nie kan terugbetaal nie.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy begrotingsrede uitgestippel dat die R69 miljard gekoppel word aan streng voorwaardes.

Dit sluit in ’n hoof-herstruktureringsbeampte wat gesamentlik deur Mboweni en die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, aangestel moet word. Die persoon moet toesien dat Eskom in drie afsonderlike ondernemings ontknoop word, naamlik kragopwekking, transmissie met ’n onafhanklike stelseloperateur en distribusie.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Jabu Mabuza  |  Tito Mboweni  |  Elektrisiteit  |  Kragtariewe  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Elektrisiteitstariewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.