Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nersa leierloos ná Forlee vertrek
Chris Forlee

Die energiereguleerder, Nersa, het ’n geheime skikking bereik met Chris Forlee, wat in Maart as sy uitvoerende hoof geskors is.

Forlee se laaste werkdag was reeds op 31 Julie, maar Nersa het belanghebbendes nou eers in ’n nota ingelig dat sy administrasie leierloos is.

Nie een van die twee partye wou Vrydag sê of Forlee betaal is vir die res van sy kontraktermyn nie. Dit verstryk eers einde volgende jaar. Die skikking is volgens hulle vertroulik.

Ná Forlee se skorsing het Nersa klagte aan hom gestel oor bewerings dat hy self sy salaris verhoog en op sy eie 36 kleinskaalse groenkragprojekte goedgekeur het.

Voor die tugverhoor kon plaasvind, het die twee egter ’n skikking bereik en Forlee is vort met ’n skoon prestasiegeskiedenis.

Volgens Nersa sal hy met die werwing van ’n nuwe uitvoerende hoof begin. Intussen sal adv. Nomalanga Sithole, hoof van korporatiewe dienste, voortgaan om in die pos waar te neem.

Forlee se vertrek kom teen die agtergrond van drie hofuitsprake waarin vyf van Nersa se Eskom-tariefbesluite tersyde gestel is. Nersa het aansoek gedoen om verlof tot appèl teen een van die bevele en ’n vierde aansoek van Eskom moet nog aangehoor word. Dié debakel gaan na verwagting groot verhogings in kragtariewe oor die volgende paar jaar tot gevolg hê. Dit het Nersa se geloofwaardigheid by verbruikers erg geskaad.

Die reguleerder moet nou die kastaiings uit die vuur krap en van die besluite wat die hof na hom terugverwys het, heroorweeg.

Op ’n vergadering van Nersa se subkomitee vir elektrisiteit waarop Rapport die afgelope week ingeskakel het, het geblyk die reguleerder is baie onseker oor wat hom te doen staan.

Nersa het ook aangekondig Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het twee nuwe deeltydse reguleerderlede aangestel. Hulle is Smunda Mokoena, ’n mynbou- en energie-ingenieur wat ook voorheen uitvoerende hoof van Nersa was, en Zandile Mpungose, ’n prokureur wat vroeër aan die department van vervoer en die Gautengse dobbelraad verbonde was.

Meer oor:  Chris Forlee  |  Kragtariewe  |  Nersa  |  Energiereguleerder  |  Energie  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.