Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nersa-nuweling wil régte probleme pak
Nhlanhla Gumede, die energiereguleerder Nersa se nuwe heeltydse lid vir elektrisiteit.

Daar’s ’n nuwe baas op die energiereguleerder Nersa se elektrisiteitsplaas en dít kan ’n meer konstruktiewe verhouding met sy probleemkind Eskom inlui.

Nhlanhla Gumede het op 1 April diens aanvaar as heeltydse reguleerderlid vir elektrisiteit. Dit is die eerste vaste aanstelling sedert die vertrek van Thembani Bukula toe sy termyn einde Desember 2016 verstryk het.

Sedertdien moes ander dié uiters belangrike stoel warm hou en vir die grootste gedeelte van die tyd was dit Gumede se kollega Nomfundo Maseti, wat dit saam met haar hooftaak as heeltydse reguleerderlid vir pypgeleide gas moes behartig.

Gumede, ’n metallurgiese ingenieur wat homself beskryf as meer van ’n myn- as ’n elektrisiteitsman, neem die leisels oor terwyl Eskom en Nersa deur hofstukke met mekaar praat. Die sukkelende kragkolos se geldsake is so beroerd dat dit sy voortbestaan en die landsekonomie bedreig.

Eskom pak die skuld op Nersa, wat glo onregmatig Eskom se inkomste uit tariewe beperk, in so ’n mate dat dit onmoontlik is om sy koste te dek. Die hof het al in een geval vir Eskom gelyk gegee en vier ander hofaansoeke is hangende.

Nersa sê weer Eskom se koste is te hoog omdat sy bedrywighede ondoeltreffend is. Die reguleerder weier dat verbruikers pa staan vir Eskom se tekortkominge.

Gumede sê Nersa moet met Eskom en met kraggebruikers praat oor fundamentele kwessies wat Eskom se prestasie raak en nie net dié wat aan ondoeltreffendheid toegeskryf kan word nie. Hy en die nuwe Eskom-baas, André de Ruyter, kom al ’n lang pad. Hulle het mekaar leer ken toe De Ruyter nog by Sasol was en Gumede by die departement van minerale en energie.

Gumede sê hy en De Ruyter volg dieselfde benadering tot regulering. “Die feit dat ons nou aan verskillende kante van die draad sit, beteken nie dat ons verhouding vyandig hoef te wees nie.”

Hy verwys na Nersa se onlangse beslissing dat Eskom net R13 miljard mag verhaal vir onvoorsiene uitgawes in 2018-’19, pleks van die R27 miljard waarvoor Eskom gevra het.

’n Groot deel van die koste is vir die diesel wat in noodkragopwekkers gebruik word wanneer die steenkoolkragstasies sukkel.

“Daar moet eenstemmigheid wees oor die gebruik van dié kragopwekkers,” sê Gumede.

Die bykomende koste is deels die gevolg van Eskom se ondoeltreffendheid, maar Eskom moes Nersa vooraf geraadpleeg het oor die verhoogde gebruik daarvan. Dít het nie gebeur nie.

Die reguleerder kan nie net in die kantoor sit en besluite neem oor wat by kragstasies moet gebeur nie, meen Gumede. “Ons moet na die aanlegte toe gaan om beter te verstaan wat die ware oorsaak van probleme is.”

Daar is te min begrip vir die feit dat die aard van Suid-Afrika se vraag na elektrisiteit oor die jare verander het en die Eskom-infrastruktuur onvanpas is vir die huidige situasie, sê Gumede.

Die steenkoolkragstasies is gebou om dag en nag bestendig krag te kan lewer aan nywerhede. Dit was vroeër jare in pas met die gebruikspatroon, maar nou is daar ’n verhoogde vraag bedags, met spitstye in die oggend en aand.

Eskom se steenkoolkragstasies is nie gebou vir dié onbestendigheid nie en die voortdurend wisselende bedryfsvlak verhoog die druk op die stoomketels – waarvoor hulle nie ontwerp is nie. Eskom se gebruik van duur olie om hulle weer aan die gang te kry, het die hoogte ingeskiet.

“Jy kan dit nie bloot toeskryf aan ondoeltreffendheid nie. Die infrastruktuur wat jy het, is die infrastruktuur wat jy het. Ons moet ’n gesprek hê oor hoe om dit te hanteer, ook met die publiek,” sê Gumede.

“Daar kan ander oplossings wees wat nie elektries van aard is nie, soos om die manier te verander waarop ons krag gebruik.”

Van die lading kan byvoorbeeld oorgeskakel word na ander energiebronne, soos om op gas kos te kook, meen hy.

Gumede sê ook daar is ruimte om te desentraliseer sodat munisipaliteite en selfs individue krag kan opwek. “Die gesprek is vurig en elkeen probeer sy eie belange beskerm. Soms is dit egter nodig om ’n tree terug te staan en te besef daar is ruimte vir almal.”

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Nhlanhla Gumede  |  Elektrisiteit  |  Energie  |  Kragopwekking  |  Kragvoorsiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.