Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nersa ontken foute in besluite oor Eskom-tariewe
Eskom sê Nersa het foute gemaak. Nersa sê hy het nie.

Die kragmonopolie en die nasionale energiereguleerder het mekaar Dinsdag duidelik weerspreek in hul verklarings in reaksie op onlangse hofbeslissings oor Eskom se hofaansoeke teen Nersa-besluite.

Hofsake oor Eskom se kragtariewe duur voort. Foto: Unsplash
Volgens Eskom het die hooggeregshof Maandag bevind dat fundamentele feitefoute gemaak is in Nersa se besluit oor Eskom se terugwerkende aansuiweringsaansoeke vir die boekjare 2015 tot 2017. Die aansoeke is ingevolge die meganisme waardeur Eskom terugwerkend kan aansoek doen vir inkomste wanneer ’n vorige jaar se kragtarief bereken is op grond van sekere aannames wat nie realiseer nie.

Eskom het in dié geval aansoek gedoen vir R67 miljard se inkomste, maar Nersa het net R32 miljard toegeken. Eskom het die Nersa-besluit op hersiening geneem, maar Nersa het eers onlangs sy teenstand teen die hersieningsaansoek teruggetrek, volgens Eskom.

Volgens Eskom het die hof Nersa se besluite tersyde gestel en bevind sy besluite was irrasioneel en die traagheid om die tariefaansoeke binne ’n redelike tyd te verwerk, was ongrondwetlik.

Nersa het egter Dinsdag ontken hy het enige foute gemaak. Hy het gereageer op berigte in Rapport en City Press waarin beweer word dat Nersa in twee hofgedinge wat Eskom teen sy besluite ingedien het, toegegee het dat hy foute in die berekening van kragtariewe gemaak het.
“Daar is geen foute in die berekeninge nie en Nersa het nie erken dat enige berekeningsfoute gemaak is nie,” sê Charles Hlebela, kommunikasiehoof van Nersa, in ’n verklaring.

Hy vaar ook uit teen die bewering in die berigte dat verbruikers dalk “R100 miljard vir Nersa se foute sal moet betaal”. Dit is ook foutief, en “as die mees bekwame entiteit om Eskom se tariewe te bereken maak die bedrag van R100 miljard vir Nersa absoluut geen sin nie”.

Nersa het wel erken dat hy prosedures onbillik toegepas het toe hy sekere komponente van Eskom se tariefaansoek vir volgende jaar en drie terugwerkende aansuiweringsaansoeke (die sogenaamde RCA-aansoeke) van vorige boekjare moes beoordeel. Nersa moes Eskom meer geleentheid gegee het om op sy bevindings kommentaar te lewer voordat die aansoeke gefinaliseer is.

Die hooggeregshof moet nog uitspraak lewer oor Eskom se hofaansoek teen Nersa se tariefbesluit vir die volgende jaar, maar het Nersa se besluite oor die drie RCA-aansoeke nou almal ter syde gestel. Nersa voer aan dié tersydestelling was soos voorgestel in ’n skikking buite die hof tussen Nersa en Eskom.

In die hofsaak waaroor uitspraak voorbehou word, vra Eskom dat sy tariewe volgende jaar met sowat 15% moet styg, pleks van die 5,22% wat Nersa vroeër goedgekeur het.

Eskom voer in dié saak aan dat Nersa verkeerd opgetree het deur die staat se reddingsboei van R69 miljard (R23 miljard per jaar) oor die volgende drie jaar van Eskom se inkomste-aansoek af te trek. Volgens Eskom het Nersa erken dit was verkeerd om die bedrag af te trek.


Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Kragtariewe  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.