Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nersa sê hokaai vir nóg hoër petrolprys
'n Petroljoggie sit langs 'n pomp by 'n Engen-vulstasie in Greenside, Johannesburg. Foto: Herman Verwey

Motoriste in die binneland het ’n verdere brandstof-verhoging van meer as 12c/l vrygespring omdat die energiereguleerder, Nersa, Transnet se planne vir ’n reusetariefverhoging vir die gebruik van sy petro­leumpyplei­ding kortgeknip het.

As Transnet se aansoek om in 2019-’20 R7,2 miljard uit tariewe te verhaal, geslaag het, sou binnelanders van vandeesmaand af byna 17c meer per liter brandstof betaal het. Danksy Nersa se besluit is die verhoging egter tot 4,5c/l beperk. Dit het vroeg vandeesmaand in werking getree.

Binnelanders betaal nou in totaal 45,69c/l vir die vervoer van hul brandstof vanaf die kus.

Nersa se besluit laat Transnet met ’n tekort van meer as R1,5 miljard op die inkomste waarop hy gehoop het.

Die vasstelling van Transnet se tariewe vir die gebruik van sy pypleidingstelsel werk baie soos Eskom se tariefvasstelling.

Transnet dien ’n formele aansoek by Nersa in vir ’n sekere inkomste wat hy uit tariewe mag verhaal. Die bedrag word bereken volgens ’n voorgeskrewe formule en bestaan uit verskeie komponente. Nersa vra openbare kommentaar op die aansoek en neem uiteindelik ’n besluit oor waarop Transnet geregtig is. Die toegelate inkomste word dan deur die geskatte verkoopsvolumes gedeel om die tarief per eenheid te bepaal.

As Transnet se aansoek geslaag het, sou sy toegelate inkomste met meer as 37% gestyg het, maar weens Nersa se besluit is dit nou minder as 8%.

Nersa het ook vroeër die styging in kragtariewe beperk tot 9,41%, 8,1% en 5,22% onderskeidelik in die volgende drie jaar, pleks van die 17,1%, 15,4% en 15,5% waarvoor die kragreus gevra het.

petrol

Hoewel Nersa nog die volledige redes vir sy besluit oor die pypleidingtariewe moet bekend maak, blyk dit dat die waarde wat Transnet op sy bates geplaas het, soos in die geval van Eskom, ’n haakplek is. Dié waarde word gebruik om Transnet se toegelate opbrengs te bereken as deel van die tariefvasstelling.

Transnet het van die bates van sy nuwe veeldoelige pypleiding wat op 1 Junie in gebruik gestel gaan word, ingesluit by die waardasie.

Nersa het egter bepaal dat bates wat nie aan die begin van die tariefperiode in werking is nie, nie in berekening gebring mag word nie.

Transnet wou verder sowat R200 miljoen terugeis vir koste aangegaan om die veeldoelige pypleiding te voltooi. Die koste was die gevolg van vertragings en oorskryding van die begroting.

Nersa het dié bedrag vir eers op die lange baan geplaas sodat hy die uitgawes vir die projek kan ondersoek. Volgens berigte het die projek se koste gestyg van ’n aanvanklike R12,6 miljard tot R30,4 miljard, en is voltooiing met sowat vyf jaar vertraag.

Nersa is onwillig om verbruikers te laat betaal vir swak projekbestuur en onoordeelkundige uitgawes.

Transnet het aan Rapport gesê hy aanvaar die reguleerder se besluit. Hoewel hy nie die hele gat wat Nersa se besluit in sy sak gelaat het, sal kan vul nie, hoop hy om met onder meer besparings die impak te versag.

Meer oor:  Transnet  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Energie  |  Nersa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.