Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nersa se uitlating op TV minag hof, kla Eskom

Die energiereguleerder Nersa het die hof geminag met ’n belofte op televisie dat kragtariewe nie volgende jaar sal styg nie.

Eskom het dié beskuldiging Vrydag gemaak in ’n aanlyn hofsitting om te bepaal of Nersa kan appelleer teen ’n beslissing van regter Fayeeza Kathree-Setiloane in Julie wat sal meebring dat kragtariewe volgende jaar met 15,6% styg pleks van die 5,22% wat Nersa vroeër goedgekeur het.

Eskom-transmissielyne wat krag van kragstasies na verbruikers gelei.

Kathree-Setiloane het in die aanlyn sitting van die hooggeregshof saamgestem dat die uitlating deur Nhlanhla Gumede, Nersa se lid vir elektrisiteit, in ’n onderhoud op eNCA onverantwoordelik was en ook Nersa se eie advokaat het dit toegee.

Hy het die hof egter verseker dat die bedoeling nie was om die hof te minag nie, maar dat dit gegrond is op Nersa se besluit om teen die bevel te probeer appelleer.

Die bevel is in Julie gegee nadat Nersa toegegee het dat sy besluit oor Eskom se tariewe vir 2019-’20, 2020-’21 en 2021-’22 onwettig is.

Kathree-Setiloane het dit tersyde gestel en beveel dat Nersa volgende jaar R23 miljard by Eskom se toegelate inkomste moet voeg, wat die bykomende styging sal meebring.

Nersa is boonop verbied om enige aanpassings te maak aan Eskom se toegelate inkomste vir volgende jaar om die impak van die bykomende R23 miljard ongedaan te maak.

Nersa se voltydse reguleerderlid vir elektrisiteit, Nhlanhla Gumede, wat aan eNCA gese het daar gaan volgende jaar geen verhoging in kragtariewe wees nie. Foto:

Die byvoeging van die bedrag sal die eerste stap wees om Nersa se onwettige aftrekking van R69 miljard van Eskom se inkomste uit kragtariewe vir die drie jaar reg te stel. Nersa het dit gedoen in die lig van die hulp van R23 miljard per jaar wat die regering oor dieselfde tydperk aangekondig het om Eskom van ondergang te red.

Die voorgeskrewe metodologie maak egter nie vir so ’n aftrekking voorsiening nie en Nersa het sy magte daarmee oorskry.

Die reguleerder grond sy aansoek om verlof tot appèl daarop dat hy, en nie die hof nie, die kundigheid het wat nodig is om Eskom se tariewe te bepaal. Nersa wil dus hê die besluit oor Eskom se tariewe moet na hom terugverwys word vir heroorweging.

Volgens Nersa het die hof gefouteer deur te bevind dat dit ’n blote meganiese berekening is om die R23 miljard per jaar wat onwettig afgetrek is, weer by te tel.

Nersa het groter diskresie en moet die impak van tariewe en die belange van verbruikers in ag neem voordat hy Eskom se tariewe kan finaliseer, het die reguleerder aangevoer.

Nersa het die hof daarop gewys dat die hantering van die R69 miljard nie Eskom se enigste klagte was nie.

’n Ander element van die tarief-bepaling, naamlik die geweegde gemiddelde koste van Eskom se kapitaal, was volgens die kragreus ook problematies en Nersa moet dus ook daaroor herbesin, het die hof gehoor.

Dit is volgens Nersa dus ’n baie meer komplekse proses as wat die hof dink en hoort tuis by die reguleerder met sy spesialiskennis.

Kathree-Setiloane het uitspraak voorbehou en aangedui sy sal haar besluit volgende week bekend maak.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Kragtariewe  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.