Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nersa trek Eskom-aansoek uitmekaar

Die publiek sal hul sê mag sê oor hoe ’n ekstra R13 miljard vir Eskom ingesamel moet word deur kragtariewe.

Eskom se voetslepery om betyds steenkoolbeleggings te doen het onder skoot gekom in Nersa se redes vir sy onlangse besluit oor Eskom se RCA-aansoek.

Dit is nadat die nasionale energiereguleerder (Nersa) die redes bekend gemaak het vir sy besluit in Mei om Eskom net R13 miljard se ekstra inkomste terugwerkend toe te laat vir sy 2019-tariefjaar.

Eskom het ingevolge die reguleringsbalansrekening (RCA) gevra vir ’n aanpassing van R27 miljard.

Eskom het aanvanklik vir die 2019-tariefjaar gevra vir inkomste van R219 miljard, wat sou neerkom op ’n tariefverhoging van 19%. Nersa het egter wal gegooi en Eskom net R190 miljard toegelaat, wat neergekom het op ’n tariefverhoging van 5,23%. Eskom het daarna ingevolge die RCA-proses aansoek gedoen om die tarief te laat hersien.

Eskom het Maandag gesê hy lees nog deur Nersa se volledige redes vir die besluit van Mei, maar het verneem Nersa beoog ’n openbare konsultasieproses wat teen November afgehandel sal wees oor hoe om die ekstra R13 miljard van kragverbruikers te verhaal.

Volgens Nersa se prosesse sal dit op die vroegste eers vir die 2022-tariefjaar, beginnende op 1 April 2021, verhaal kan word.

Eskom en Nersa is die afgelope jare in verskillende hofsake gewikkel waar Eskom hof toe gegaan het om sekere van Nersa se besluite te laat hersien.

Nersa het die redes vir sy besluit oor Eskom se RCA-aansoek vir die 2019-tariefjaar in 140 bladsye verduidelik.

Een van die redes wat Eskom aangevoer het waarom hy R27 miljard ekstra wou hê was dat sy kragverkope in daardie jaar laer was as verwag weens laer kommoditeitspryse, wat mynbou-aktiwiteite geknou het. Maar Nersa het in die openbare sittings oor die RCA-aansoek van die Mineraleraad van Suid-Afrika gehoor dit was eintlik Eskom se onvermoë om krag te kon lewer (beurtkrag) wat veroorsaak het dat die myne minder geproduseer het.

Die Energie-intensiewe Gebruikersgroep en ander sakeorganisasies het ook verduidelik die laer kragverkope is Eskom se eie skuld. Weens stygende kragpryse en kragonderbrekings skuif hulle na alternatiewe kragbronne, wat ’n doodspiraal vir Eskom skep.

Eskom het sy vooruitgeskatte kragverkope gegrond op ’n optimistiese ekonomiese groei van 1,5% in 2018-’19, terwyl die ekonomie teen minder as 0,8% gegroei het.

Nersa het bereken Eskom se kragpryse het in reële terme van 2007 tot 2017 met 139% gestyg, en hoewel kragpryse voor 2008 nie veel impak aan kragverbruik in nywerhede gehad het nie, het dit daarna wel ’n bepalende faktor in kragvraag geword.

Nersa het gevind Eskom het as deel van sy RCA-aansoek sekere veranderlike koste ingereken in sy berekening wat egter nooit aangegaan is nie weens laer kragverkope.

Nersa het Eskom se steenkoolaankope ontleed en gevind baie van sy ekstra uitgawes aan steenkool wat hy deur die RCA-aansoek wou terugeis, spruit uit sy eie swak beplanning en vertraagde belegging in steenkoolmyne. Eskom se vertraging om betyds goedkeuring vir sekere steenkoolkontrakte te kry, het veroorsaak dat hy noodaankope moes doen toe steenkoolvoorraad kritiek lae vlakke bereik het in 2018-’19. Nersa meen dus dit was binne die beheer van Eskom-bestuur wat tog weet hoe lank dit vat om goedkeuring te kry.

Nersa sê hy is steeds besorg oor bewerings van korrupsie by van Eskom se steenkoolkontrakte, en hy sal gevolgtrekkings uit enige ondersoeke na die kontrakte in ag neem in toekomstige tariefbesluite.

Eskom het in 2018 deurgeloop onder ernstige stakings, geweld en beweerde sabotasie by van sy steenkoolkragstasies, maar Nersa sê in sy redes dat die bestuur van die impak van arbeidsoptrede die Eskom-bestuur se verantwoordelikheid is, en dat nie van verbruikers verwag kan word om die koste daarvan te dra nie.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Kragtariewe  |  Staatsonderneming  |  Elektrisiteit  |  Kragvoorsiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.