Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nersa wil hê jy moet registreer as jy krag opwek
Jy sal dalk voortaan moet registreer as jy jou eie krag uit sonpanele of op enige ander manier opwek. Foto: iStock

Alle Suid-Afrikaners sal ingevolge nuwe beplande nasionale regulasies enige krag wat hulle self opwek – hetsy deur sonpanele of kragopwekkers – moet registreer.

Dié beoogde regulasie word op die webblad van die nasionale energiereguleerder (Nersa) geadverteer vir ’n proses van openbare deelname wat tot 31 Mei duur.

Ted Blom, van die organisasie Mining and Energy Advisors, sê dié beoogde regulasies is drakonies en elke eienaar of koper van ’n meganisme wat minder as 1 MW krag opwek, sal daarvoor moet aansoek doen by hul plaaslike munisipaliteit of Eskom en dit daarna by Nersa moet registreer.

“Dié regulasie sal geld vir alle kleinskaalse kragopwekking, ongeag of dit vir private of openbare gebruik is en of dit aan die elektrisiteitsnetwerk gekoppel is of nie,” sê Blom.

Hy vergelyk dit met die mislukte Gautengse e-tol-regulasies, maar in die geval van die kragopwekkers raak dit alle Suid-Afrikaners in al nege provinsies.

“Die beoogde regulasies is swak saamgestel en onwerkbaar. Indien dit deurgevoer word, sal dit lei tot grootskaalse ongehoorsaamheid om dit na te kom,” sê Blom.

Dit word byvoorbeeld nie duidelik gestel of selfs ’n kragopwekker wat ’n mens vir jou selfoon gebruik, ook geregistreer sal moet word nie, sê Blom.

Nersa sê die doel van die beoogde regulasies oor kleinskaalse kragopwekking is om ’n register te kan saamstel sodat doeltreffende beheer, monitering en die afdwingbaarheid van ekonomiese regulasies vir die voorsiening van elektrisiteit ingestel kan word.

Van die redes waarom eienaars van kleinskaalse kragopwekking toerusting sal moet registreer, is volgens Nersa om:

  • die doeltreffende, volhoubare en ordelike ontwikkeling en bestuur van elektrisiteitsinfrastruktuur in Suid-Afrika te verseker;
  • algemene toegang tot elektrisiteit te fasiliteer;
  • ’n bekostigbare en volhoubare elektrisiteitbedryf te verseker;
  • die gebruik van ’n verskeidenheid energiebronne te bevorder;
  • ’n regverdige balans tussen die belange van kliënte en eindgebruikers te fasiliteer;
  • mededingendheid en keuse vir die eindgebruiker te bevorder; en
  • om regulering te verbeter.

Blom sê die vraag is egter wat Nersa met die inligting wil doen van mense wat van die netwerk af is en hul eie krag opwek.

“Die enigste rede waarom registrasie sal moet plaasvind, sal wees om dit te belas,” sê Blom.

Mense wat reeds hul openbare kommentaar begin instuur het, is woedend oor die beoogde regulasies.

Op die webblad waar mense hul kommentaar kan registreer, waarna dit na Nersa deurgestuur word, reageer mense sos volg:

  • Christopher: “Mense koop kragopwekkers en ander vorms van kragopwekking vir die doel om onafhanklik van die elektriese netwerk, wat uiters onbetroubaar is, te wees. Dit sal ’n mors van geld wees om ’n register te probeer hou van alle kragopwekkingstoerusting en -tegnieke. Dit lyk na nog ’n manier om belasting te genereer.”
  • Graham: “Dit is burokratiese nonsens. Ek sal saamstem dat ’n mens ’n private kragopwekker wat vir ’n inkomste in opposisie met Eskom gebruik word, moet registreer, maar om verbruikers wat omgewingsvriendelik wil wees te straf, sal misdadid wees.”
  • Marnu: “Dit is b***sh*t. Hulle wil ons net tot die dood toe belas.”
  • Lorna: “Regulering ruk handuit. Hanteer eerder dringender kwessies.”
  • Abraham: “Enigiets om geld te maak. Hulle wil die laaste bietjie ook uit ons wurg.”
    Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Kragopwekking  |  Registrasie  |  Krag  |  Sonkrag  |  Windkrag  |  Groenkrag  |  Elektrisiteit
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.