Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nersa wil terug hof toe oor Eskom-uitspraak
Nersa wil appelleer oor ’n hofuitspraak waarin bevind is dat hy ’n onwettige besluit geneem het oor ’n tariefaansoek deur Eskom. Foto: Reuters

Die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) wil appèl aanteken teen ’n onlangse hofuitspraak ten gunste van Eskom.

Regter Fayeeza Kathree-Setiloane het op 28 Julie in die hooggeregshof in Pretoria bevind dat Nersa se besluit onwettig was om ’n reddingsboei van R69 miljard wat die regering aan Eskom toegeken het, van sy berekeninge af te trek toe hy in September 2018 oor tariewe besluit het.

Sy het beslis dat Eskom in 2021-’22 tariewe van 116,72 c/kWh tot 128,24 c/kWh mag verhoog ten einde R23 miljard meer in te vorder. Dis ’n verhoging van bykans 10% in kragtariewe.

In die daaropvolgende twee jaar mag Eskom elke jaar pryse verhoog om ’n verdere R23 miljard per jaar te verkry.

Dié verhogings is benewens ander waarvoor Eskom ook kan aansoek doen.

Kathree-Setiloane het ook in haar uitspraak Nersa gekap dat hy ’n “verskriklike” fout gemaak het.

Nersa sê Woensdagaand in ’n kort verklaring dat as hy nie appèl aanteken nie, sal dit die oorweging van tariefaansoeke in die elektrisiteitsverskaffingsbedryf beïnvloed.

Hy sê hy sal sy aansoek om appèl binne die toegelate tydperk indien.

Die Federasie van Staal- en Ingenieursbedrywe van Suider-Afrika (Seifsa), het reeds op 30 Julie – bykans ’n week voordat Nersa amptelik die aankondiging gemaak het dat hy ’n aansoek gaan bring om appèl aan te teken – dié besluit verwelkom.

Kaizer Nuatsumba, uitvoerende hoof van Seifsa, het toe in ’n verklaring gesê dat hulle deel Nersa se mening dat as die uitspraak nie teengestaan word nie, “sal dit die breër ekonomiese herstel verder onderdruk, met inagneming van die huidige uitdagings wat die ekonomie in die gesig staar.

“Ons glo dat hierdie appèl van die uiterste belang is, aangesien die uitspraak die vermoë van Nersa ondermyn om te verseker dat elektrisiteitsverbruikers nie belas word met Eskom se finansiële ondoeltreffendheid nie,” sê hy.

Chris Yelland, besturende direkteur van EE Business Intelligence, het kort ná die uitspraak in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê dat hy nie dink dit is die moeite werd dat Nersa appèl aanteken nie.

“Nersa moet binne die grense van die wet en sy berekeninge bly. Hy kan nie die wet oortree nie. Die regter het hier bevind Nersa het die wet oortree, nie dat hy ’n verkeerde berekening gemaak het nie,” sê hy.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Seifsa  |  Chris Yelland  |  Kragtariewe  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.