Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Net diesel word dalk in Junie goedkoper

Ná vyf maande waarin petrol goedkoper geword het, gaan Junie waarskynlik slegte nuus vir motoriste bring. Diesel sal egter bes moontlik weer goedkoper word.

Petrol gaan dalk in Junie duurder word - maar dis steeds goedkoper as ses maande gelede.

Net mooi in die middel van die oorsigmaand vir Junie se brandstofpryse is daar ’n onderverhaling van 49c op 95-oktaan-petrol.

’n Onderverhaling is met hoeveel die prys sou moes styg indien dit vandag vasgestel moes word.

Die onderverhaling word van dag tot dag bygewerk soos internasionale brandstofpryse en die rand-dollar-wisselkoers verander, en die afgelope week het die vooruitsig sommer vinnig vir motoriste gedraai. Verlede Vrydag was daar nog ’n kans dat petrol goedkoper kon word, maar die styging in oliepryse die afgelope week beteken dis dalk neusie verby vir ’n daling.

Diesel gaan egter bes moontlik steeds goedkoper word. Die oorverhaling – dus potensiële daling – op diesel wissel nou tussen 54c en 56c per liter, na gelang van swaelinhoud. Dit was verlede Vrydag nog tussen R1,02 en R1,05 per liter.

Die prys van Brent-ruolie, wat in Suid-Afrikaanse petrol gebruik word, het sedert begin Mei meer as $30 per vat gekos. Soos wat Covid-19-verwante inperkings mettertyd wêreldwyd verslap word, is die verwagting dat die wêreld se vraag na brandstof weer gaan styg, wat die prys opdruk.

Aan die ander kant het die rand effens versterk teenoor die vorige oorsigmaand vir brandstofpryse.

In April het dit selfs by R19,35 teenoor die dollar gedraai, maar Vrydag sou ’n greenback jou sowat R18,45 kos.

Selfs ondanks die verwagte styging in die petrolprys sal petrol steeds nagenoeg R3,50 per liter goedkoper wees as aan die begin van die jaar en diesel nagenoeg R4 per liter. Daarby ry mense aansienlik minder rond tydens die inperking, met baie mense wat steeds van die huis af werk of glad nie mag werk nie.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) waarsku mense om maar hul Junie-begroting in potlood in te vul, want dinge is baie veranderlik.

“Ons bekommernis is natuurlik dat die finansiële situasie van baie Suid-Afrikaners die afgelope twee maande versleg het, met massiewe werkverliese en besprekings oor salarisbesnoeiings vir alle werknemers. Dit kan Suid-Afrikaners sensitief maak vir selfs klein stygings in die brandstofpryse.”

Die AA sê die verskil in die beweging van verskillende soorte brandstof hou waarskynlik verband met wanbalanse in raffineringsvermoë in die eerste week van Mei. In April was daar ’n ongekende ooraanbod van olie en het die prys in duie gestort.

“Ons verwag dat die wisselvalligheid in brandstofpryse groot en langdurig gaan wees soos wat die wêreldekonomie by die nuwe werklikheid van ’n groeiende pandemie aanpas.”

“Ons adviseer motoriste wat hul begroting heropstel om niks as vanselfsprekends te aanvaar nie.”

Die oorsigtydperk vir Junie se brandstofpryse duur tot Donderdag 28 Mei en die nuwe pryse word op Woensdag 3 Junie van krag.

Meer oor:  Aa  |  Brandstof  |  Diesel  |  Petrolprys Petrol  |  Olieprys  |  Olie  |  Brandstofpryse  |  Brent-Ruolie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.