Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Net regslui wen in krag-hofsake – Nersa
Eskom en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika is tans in 'n reeks hofsake gewikkel. Foto: Elvira Wood

Dit is net die regslui (prokureurs en advokate) wat die wenners is in die reeks hofsake tussen Eskom en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa), het Nhlanhla Gumede, Nersa-lid verantwoordelik vir elektrisiteit, Donderdag gesê.

Hy het in ’n aanlyn besprekingsessie met die media toegegee die hofsake is skadelik want dit skaad vertroue, en dis net die regslui wat daaruit voordeel trek.

Gumede het herhaal dat Nersa in die huidige hofsaak slegs toegegee het dat hy prosedureel onbillik opgetree het teenoor Eskom, en niks anders nie. Dit is in reaksie op vrae oor of Nersa dan erken het dat hy verkeerdelik die staat se reddingsboei van R69 miljard aan Eskom van Eskom se toegelate inkomste vir die boekjare 2020 tot 2022 afgetrek het. Die hof moet nog finaal oor dié saak uitspraak lewer.

Dit volg op teenstrydige verklarings die afgelope week van Eskom en Nersa, waarin Nersa enige berekeningsfoute van Eskom se tariewe ontken, terwyl Eskom aanvoer die hof het beslis dat Nersa fundamentele feitefoute gemaak het in sy besluite oor terugwerkende tariefaansoeke van Eskom.

Gumede, ’n voormalige hoofdirekteur vir energiebeplanning by die departement van energie, en wat later vir ’n tyd in die private sektor gaan werk het en ook al waarnemende voorsitter van die staatsbrandstofmaatskappy PetroSA was, is in April as nuwe Nersa-lid belas met elektrisiteitsregulering aangestel.

Hy meen daar is tot dusver te veel klem gelê op kragverskaffing in die toepassing van die Wet op Elektrisiteitsregulering, terwyl ander aspekte soos mededinging, verbruikerskeuse en diversiteit van kragbronne ook bevorder moet word.

Kragpryse nie volhoubaar

Gumede gee toe die huidige verhogings in elektrisiteitspryse is nie volhoubaar nie.

Terwyl Eskom en Nersa gedurig vassit oor hoe tariewe vasgestel moet word, behoort die benadering tot kragregulering hersien te word omdat dit verouderd is, meen Gumede.

Eskom se gemiddelde verkoopprys per kWh het van 17,91c in 2006 gestyg tot 89,13c in 2017. Eskom het sedert 2006 nog altyd vir ’n hoër tarief aansoek gedoen as wat Nersa uiteindelik toegeken het.

Van 2010 tot verlede jaar het Eskom se kragverkope skerp gedaal, terwyl pryse gestyg het. Dit is ’n negatiewe afwaartse spiraal, want namate pryse styg neem die kragvraag af, en soos wat die kragvraag afneem, styg die pryse.

Gumede het verduidelik elektrisiteit is vir alle sektore in die ekonomie belangrik, maar kragkoste raak sektore verskillend. Dis ’n groot koste-item in bedrywe soos metaalverwerking en glasvervaardiging.

In die goudsektor het kragkoste as persentasie van die totale koste van onder 12% in 2005 tot meer as 18% gestyg. Suid-Afrika verloor markaandeel in ferrochroomproduksie weens hoë kragpryse, en verskeie mineraalverwerkingsmaatskappye beplan om binnekort te sluit, hoofsaaklik weens die hoë kragpryse.

Dit maak min sin om in kragregulering meer op verbruikersektore as op groeisektore te fokus. Die kragvraag in die residensiële sektor neem af namate huishoudings na alternatiewe kragbronne skuif. Huishoudings kan hul kragrekeninge met tot 66% sny as hulle na gas oorskakel vir dinge soos koskook, verhitting en warm water.

’n Studie van 2015 het gewys dit kos 18c om twee liter water met vloeibare petroleumgas (LPG) te verhit, vergeleke met R1,53 as elektrisiteit gebruik word.

Die huidige tariefstrukture was dalk toepaslik vir ’n omgewing met net een rolspeler, maar dit is uitgedien. Vaste en wisselende koste word saamgebondel in een enkele tarief. As elektrisiteit die werklike koste daarvan moet weerspieël, behoort krag goedkoper te wees deur die dag, met basiskrag wat tussen 30c en 50c per kWh kan kos, teenoor krag tydens spitstyd wat nader aan R4 per kWh behoort te kos, meen Gumede.

Steenkoolkoste

Hy meen dis onbillik om gewone kragverbruikers bloot te stel aan Eskom se werklike steenkoolkoste.

Uit syfers van tien steenkoolkontrakte van Eskom het Gumede gewys die koste van steenkool wissel van R342 per ton tot R980 per ton. Dit is werklike Eskom-kontrakte wat in 2018 gesluit is en die looptyd van dié kontrakte wissel van twee tot ses jaar. Die kontrakwaardes wissel van R284 miljoen tot R3,8 miljard.

Om dié primêre koste bloot om te skakel na ’n gemiddelde prys, is geen aansporing om beter steenkoolkontrakte te sluit nie.

Talle ondoeltreffendhede word in gemiddelde pryse verskuil. Dis soos om dieselfde prys te betaal vir vervoer met Metrorail en Uber – Metrorail is goedkoop maar hoogs onbuigsaam, terwyl Uber duur maar hoogs buigsaam is.

Kruissubsidies

Oor kruissubsidiëring met kragpryse het Dennis Seemela, waarnemende uitvoerende bestuurder vir elektrisiteitsregulering by Nersa, gesê daar is reeds kruissubsidies in kragpryse, want volgens hom betaal huishoudings reeds veel minder vir krag as wat dit werklik kos om die krag tot by die huis te bring, vergeleke met groot nywerheidskragverbruikers wat hoogspanningskrag gebruik.

Brian Sechotlho, hoof van elektrisiteitspryse en tariewe by Nersa, sê die inherente kruissubsidies verskil egter van plek tot plek. Sommige munisipaliteite het meer nywerhede wie se tariewe dié van huishoudings subsidieer, terwyl ander minder nywerhede het. Nersa soek meer inligting van munisipaliteite om die omvang van kruissubsidiëring in elke gebied meer akkuraat te kan bepaal.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.