Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nie één onafhanklike verskaffer help al vir Eskom
Power lines feed electricity to the national grid
Van Eskom se oorhoofse kraglyne. Foto: Getty Images

Byna agt maande nadat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) vir Eskom aangesê het om binne vier maande sy kragtekort aan te vul deur korttermynkontrakte met onafhanklike kragverskaffers, is geen kontrakte nog gesluit nie.

Dié kontrakte was veronderstel om ’n goedkoper alternatief te wees vir die peperduur kragopwekking met dieselturbines waarop Eskom hom verlaat weens die sukkelende prestasie van sy steenkoolkragstasies.

Eskom het aanvanklik in sy laaste tariefaansoek vir Nersa gevra vir R880 miljoen in die huidige boekjaar vir die gebruik van die dieselturbines, R948 miljoen in 2020-’21 en net meer as R1 miljard in 2021-’22.

Dít was egter gegrond op die aanname dat die Eskom-vloot teen 78% beskikbaarheid sou werk.

Omdat die kragstasies voortdurend die gees gee, is die beskikbaarheidskoers verlaag tot 71,5%.

Dít het Eskom se aansoek die hoogte laat inskiet tot meer as R9 miljard in die huidige jaar, R4,6 miljard in die volgende boekjaar en R2,4 miljard in 2021-’22.

Nersa het egter besluit dis nie geregverdig nie en Eskom aangesê om liewer korttermynkontrakte met onafhanklike kragverskaffers aan te gaan.

Vir dieselturbines het die reguleerder vir Eskom dus net R1,9 miljard toegestaan, R950 miljoen in die volgende boekjaar en net meer as R1 miljard in 2021-’22.

Tydens openbare sittings oor die tariefverhoging het Eskom-personeel aan Nersa se paneel gesê dit kan ses tot agt maande vat om kontrakte te sluit met onafhanklike kragverskaffers.

Nersa wou niks daarvan hoor nie en het Eskom aangesê om dit binne vier maande te doen. Eskom het dit al vantevore gedoen en kan die vorige kontrakte as ’n grondslag gebruik, het Nersa gesê.

Die reguleerder het gevolglik vir Eskom R556 miljoen in die huidige boekjaar toegestaan vir dié kragaankope.

Vandeesweek, met meer as die helfte van die boekjaar agter die rug, het Eskom egter aan Rapport erken dat hy nog geen korttermyn-kragkontrakte gesluit het nie.

Die kragreus sê hoewel Nersa eers vroeër vandeesmaand die besonderhede van en redes vir sy tariefbesluit bekend gemaak het, het Nersa tydens sy mediakonferensie in Maart aangedui dat Eskom goedkoper alternatiewe vir die dieselturbines moet soek.

Eskom het daarom die mark getoets en aan Nersa terugvoering gegee, maar nog niks verder gehoor nie.

Intussen het Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, verlede week met die bekendmaking van die land se langtermynplan vir kragopwekking gesê die regering gaan dringend planne van sakelui vra om die tekort aan sowat 2 000 MW se opwekkingsvermoë op te los.

Meer oor:  Eskom  |  Kragopwekking  |  Nersa  |  Groenkrag  |  Elektrisiteit  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.