Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nog 11 maande voordat Eskom ‘stabiel’ is

Dit gaan nog lank wees voordat Eskom se kragnetwerk weer stabiel is.

Só het Jan Oberholzer, bedryfshoof, Donderdag gewaarsku toe hy en André de Ruyter, uitvoerende hoof, die kwartaallikse stand van die kragnetwerk met die media bespreek het.

Eskom se Kusile-kragstasie.Foto: Elvira Wood

De Ruyter het herhaal dat Suid-Afrikaners moet onthou die gemiddelde ouderdom van die land se kragstasies is 39 jaar. Boonop is hulle nie behoorlik in stand gehou nie.

Dit is hoekom kragstasies onverwags breek en uitskop.

Vanaf April tot einde September het opwekkingseenhede reeds 239 keer uitgeskop.

Eskom moes in dié tyd ook al R1,37 miljard aan diesel bestee om die land se ligte te probeer aanhou.

Dit is teenoor die R561,1 miljoen wat vir die eerste helfte van die boekjaar begroot is.

Eskom het vir die boekjaar R2,9 miljard vir diesel begroot. Hy verwag dat hy teen einde Maart R1 miljard oor begroting sal wees.

Eskom het veral gedurende die hoër vlakke van die staat van inperking weens die Covid-19-pandemie, toe die vraag na krag aansienlik laer was, basiese instandhoudingswerk by kragstasies begin uitvoer.

“Waar ons voorheen net sowat 3 000 MW se opwekkingsvermoë van die netwerk sou haal, probeer ons nou om tussen 5 500 MW en 6 000 MW vir instandhouding van die netwerk af te haal.

“Dit verteenwoordig tussen 12% en 14% van die netwerkkapasiteit,” sê Oberholzer.

Beurtkrag

De Ruyter en Oberholzer het albei opnuut gewaarsku dat beurtkrag nog lank ’n realiteit gaan wees.

As instandhoudingswerk voortgaan soos wat Eskom beplan, behoort die risiko van beurtkrag teen April 2021 te begin afneem. Die netwerk sal dan teen September 2021 “meer stabiel” wees.

De Ruyter benadruk egter dit beteken nie dat beurtkrag vanaf September volgende jaar vir altyd iets van die verlede sal wees nie.

Benewens die onstabiele netwerk was daar nog drie redes vir die vlaag beurtkrag in September:

1. Die Camden-kragstasie is tans af weens probleme met die asdam. Dié kragstasie lewer gewoonlik 1 300 MW krag.

2. Koeberg se eenheid 2 was af om hervul te word. Dié eenheid lewer tussen 700 MW en 920 MW krag. Die eenheid is Woensdag weer in bedryf gestel.

3. Probleme by Medupi en Kusile lei tot ’n verlies van 1 700 MW.

Oberholzer sê dinge begin beter lyk by Medupi en Kusile.

“Ons het ontwerpveranderinge aan van die eenhede by Medupi gemaak. Dit blyk suksesvol te wees. Vier van die eenhede by Medupi is reg.”

Hy sê die plan is om Medupi vroeg in 2021 ten volle in bedryf te stel.

Die plan is om dieselfde veranderinge by Kusile te doen.

Oberholzer sê die plan is om eers al die werk by Medupi af te handel voordat dieselfde werk by Kusile gedoen word.

Meer oor:  Eskom  |  André De Ruyter  |  Jan Oberholzer  |  Medupi  |  Kusile  |  Steenkoolkragstasies  |  Kragstasies  |  Elektrisiteit  |  Krag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.