Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nog arrestasies wink oor Kusile-bedrog

Die meeste Eskom-werknemers wat betrokke was by oorbetalings van byna R4 miljard aan verskillende kontrakteurs by die Kusile-kragstasie het al bedank.

Miljarde se bedrog is by die Kusile-kragstasie gepleeg.

Die regering se spesiale ondersoekeenheid is nog besig met van die ondersoeke, met twee vorige Eskom-werknemers wat al in hegtenis geneem is en nog inhegtenisnemings wat kan volg. Daar word ook siviele sake gemaak teen van die voormalige werknemers.

Dit blyk uit inligting wat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, aan die parlement se staande komitee oor toedelings gemaak het.

Dit volg op onlangse verwarring tussen die byna R4 miljard se oorbetalings wat by Kusile gemaak is, en die R5 miljard wat Eskom wil terugeis van die sakereddingspraktisyns van die Tegeta-steenkoolmyn.

Dié syfers het uitgekom in ’n besoek van die staande komitee oor toedelings aan Eskom se hoofkantoor in Oktober verlede jaar, asook in aanbiedings deur André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, vroeër vanjaar aan die komitee.

Gordhan het Eskom se verslag oor vordering met die Kusile-oorbetalings aan die ANC se hoofsweep en aan die staande komitee oor toedelings gestuur.

Die Kusile-oorbetalings is in vier kategorieë bespreek:

ABB: R1 miljard

Die Switserse nywerheidsgroep ABB het teen die Duitse groep Siemens en Maul Bilfinger meegeding vir ’n kontrak by Eskom se Kusile-kragstasie om die beheer- en instrumentasiestelsels van die stoomketels en opwekkingsturbines te voorsien en die kragstasie te voltooi.

ABB het die kontrak gekry, al was hy duurder as Siemens omdat tegniese prysaanpassings aan Siemens se kontrak aangebring is. ’n Forensiese ondersoek is aan die gang oor dié aanpassings.

Toe ABB met die werk begin het, is vier gewysigde bestellings ten bedrae van R1 miljard by hom geplaas sonder behoorlike boekstawing daarvan. Die spesiale ondersoekeenheid praat al sedert 2018 met ABB oor die oorbetalings, en ABB het al mondelings aangebied om sowat R240 miljoen van die bedrag aan Eskom terug te betaal. Die ondersoekeenheid en die Valke ondersoek nog dié saak.

Tenova Mining: R735 miljoen

Tenova Mining moes materiaalhanteringstelsels by Kusile voorsien, en stry al sedert 2015 met Eskom oor ekstra betalings weens die uitstel van die voltooiingsdatum van die kontrak.

Bewyse van moontlike misdaad in die hantering van die kontrak deur die betrokke rolspelers is in Oktober verlede jaar na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys.

Tenova se bestuur het ontken dat hulle hiervan geweet het, en het hul eie ondersoek begin wat teen 3 Julie voltooi moes gewees het.

Twee van Eskom se kontrakbestuurders het dadelik bedank toe ondersoeke begin het, en twee het bedank voordat ’n tugverhoor begin het. Strafregtelike klagte teen sewe rolspelers is na die NVG verwys, en siviele eise word oorweeg om van die geld vir Eskom terug te kry.

Tubular Construction Projects en General Electric - R1 miljard

Tubular het ’n ingenieursvoorstel by Eskom ingedien wat gewysig is met tesourie-goedkeuring, maar daar was vrae of die wysiging enige waarde vir Eskom gebring het.

General Electric is ook hierby betrek omdat hy die oorspronklike kontrakteur was. Eskom was suksesvol in ’n eis teen die kontrakteurs en kon R163 miljoen terugkry.

Maar skikkings van R400 miljoen wat met General Electric bereik is, word steeds ondersoek. Tubular het verder in 2012 ’n kontrak vir die bou van watersuiweringswerke by Kusile gekry waar ’n oorbetaling van R450 miljoen ondersoek word.

In dié geval is vier individue, wat twee vorige Eskom-amptenare insluit al in hegtenis geneem, en die spesiale ondersoekeenheid oorweeg ook siviele eise.

Stefanutti Stocks Basil Read: R1 miljard

Dié konsortium van konstruksiemaatskappye het van 2015 tot 2018 ekstra eise ingedien weens vertragings en weens werk wat gelyktydig op verskillende plekke gedoen moes word. Die eise is egter nie behoorlik bevestig nie, maar Eskom het steeds maandelikse betalings van tussen R15 miljoen en R50 miljoen gemaak. Teen 2018 het ’n nuwe Eskom-projekbestuurder die betalings gestaak en het die konsortium ’n dispuut verklaar. Die betrokke Eskom-personeel het bedank en die kontrakte word nog ondersoek. Strafregtelike sake teen 11 mense is in Junie na die NVG verwys, en vordering met die ondersoek kan aantoon dat nog Eskom-werkers betrokke is.

Ander

Verskeie ander kontrakte van meer as R180 miljoen word ook nog ondersoek.

Oor Tegeta se R5 miljard

Oor Eskom se eis van R5 miljard teen Tegeta het Gordhan verduidelik dit was weens steenkool wat nie gelewer is nie en swak gehalte steenkool. Daar is ’n eis van R1,13 miljard vir 1,1 miljoen ton steenkool van September 2016 tot Januarie 2018, en ’n eis van R4,4 miljard vir 3,8 miljoen ton steenkool van Februarie 2018 tot Desember 2018.

Ná vergaderings met krediteure en die sakereddingspraktisyns van Tegeta is beslis dat Eskom net ’n eis van net meer as R1,276 miljard het.

Tegeta se sakeredders oorweeg tans nog drie oorname-aanbiedings tesame met ’n alternatiewe voorstel wat einde Junie ontvang is van Centaur Ventures, een van die grootste krediteure.

Meer oor:  General Electric  |  Tegeta  |  Eskom  |  Steenkool  |  Kragstasies  |  Steenkoolmyn  |  Elektrisiteit  |  Steenkoolkontrakte  |  Steenkoolkragstasies  |  Staatskaping  |  Krag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.