Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nog meer as 'n week van beurtkrag verwag

Daar wag beslis nie nog net ’n week se beurtkrag op Suid-Afrika nie en enigiemand wat dit glo, is naïef, glo verskeie ekonome.

Eskom gaan nog lank sukkel om die ligte aan te hou. Foto: Getty Images

Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom, het Sondag gesê die kragnetwerk gaan “vir die hele komende week” onder groot druk wees. Hy kon nie bevestig of dit beteken dat beurtkrag vir die hele week sou voortgaan nie. Hy hoop egter dit sal nie so lank duur nie.

Intussen het Eskom Sondagaand bevestig dat fase 2-beurtkrag Sondag om 22:00 sal eindig, maar weer Maandag om 09:00 hervat sal word en tot 22:00 sal duur. Kaapstad, wat sedert Vrydag fase 1-beurtkrag toepas, het nog nie aangedui watter fase Maandag toegepas sal word nie.

“As enigiemand sê ons gaan nie nog beurtkrag hê nie, sou dit duidelik wensdenkery en naïef wees,” sê Chris Yelland, besturende direkteur van EE Business Intelligence.

Volgens Yelland het Eskom al klaar ’n groot fout gemaak.

In Mei het die kragverskaffer belowe dat daar die hele winter net drie dae se beurtkrag op fase 1 sou wees. Kort daarna het hy gesê daar is ’n 80%-kans dat beurtkrag tot net drie dae beperk sal wees.

“Drie dae is verby,” sê Yelland, en boonop is die beurtkrag wat vir die eerste keer sedert Maart ingestel is, reeds een vlak hoër as wat beloof is.

Geen belofte of verklaring van Eskom kan geglo word nie.
Prof. Jannie Rossouw van Wits

Volgens Mantshantsha het lekkasies in die pype van stoomketels by die Hendrina- en Tutuka-kragstasie Sondag steeds verhinder dat Eskom genoeg krag kon verskaf om beurtkrag te vermy.

Die eintlike probleem is egter volgens Eskom dat Suid-Afrika weer ná maande wat die ekonomie gesluit was, krag teen ’n versnelde pas begin verbruik – want dit is koud.

Eskom doen terselfdertyd sedert 1 Julie diep herstelwerk wat ganse eenhede by verskeie kragstasies vir die volgende paar maande uit die prentjie gaan haal.

“Wat dink jy gaan gebeur?” vra prof. Jannie Rossouw, waarnemende hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se sakeskool, in antwoord op die vraag hoe dit die ekonomie gaan raak. “Ek hóóp ons gaan net ’n week nog beurtkrag hê die winter, maar dit gaan waarskynlik nie die geval wees nie.”

Volgens Mantshantsha is kragverbruik tans baie hoër as gemiddeld. Sondag was die vraag na elektrisiteit 2 000 MW hoër as op 4 Julie.

Fase 2-beurtkrag besnoei 2 000 MW om te keer dat die kragnetwerk in duie stort.

Chris Yelland, besturende direkteur van EE Business Intelligence.

Al is Eskom optimisties, gaan dit in die volgende paar maande moeilik wees om beurtkrag te vermy.

Benewens die gedurige foute by verouderde kragstasies wat die vermoë om krag te lewer in die wiele ry, is daar tans 1 000 MW opwekkingsvermoë van die lyn af vir die “diep herstelwerk” wat veronderstel is om die betroubaarheid van verouderde kragstasies te verbeter.

Eskom, wat tot dusver net-net in die vraag na elektrisiteit kon voorsien, het nou nog minder opwekkers om mee te werk.

Yelland sê diep herstelwerk beteken eenhede word heeltemal afgeskakel sodat kernkomponente vervang kan word. Dit is ’n proses wat in die beste omstandighede drie tot vier maande per eenheid sou neem, maar gedurende die pandemie sal dit langer neem.

“Werk gaan betreklik stadig vorder,” sê Mantshantsha.

Ingevolge die inperkingsregulasies mag net ’n beperkte getal werkers op ’n slag saamwerk. Eskom verwag groot vertragings.

Medupi en Kusile se ontwerpfoute

Yelland sê dit sluit nog nie die werk in wat by Medupi en Kusile moet gedoen word nie.

“Die helfte van albei kragstasies sal buite aksie gestel moet word om aandag te gee aan ontwerpfoute.”

Hy dink daar wag nog baie donker aande op Suid-Afrika.

“Eskom het dit al duidelik gemaak dat beurtkrag nog met ons sal wees vir die volgende 18 maande,” sê Yelland.

Die leë beloftes van slegs ’n paar dae se beurtkrag op ’n slag is waarskynlik wensdenkery, sê hy.

Rossouw stem saam: “Geen belofte of verklaring van Eskom kan geglo word nie.”

Intussen gaan die kragkrisis die resessie net vererger.

Rossouw sê talle ondernemings is reeds op hul knieë weens die staat van inperking en nou moet hulle nog probeer oorleef met beperkte krag.

“Dit is ’n ramp. En dít terwyl groot dele van die ekonomie nog gesluit is. Kan jy dink wat gaan gebeur wanneer als eers weer oop is?”

Ekonome se hoop dat die resessie wat nou al drie kwartale by Suid-Afrika spook teen die derde kwartaal verby sou wees, begin nou al meer onwaarskynlik lyk.

Rossouw sê die inkrimping van die ekonomie sal voortduur.

Meer oor:  Eskom  |  Chris Yelland  |  Jannie Rossouw  |  Kragstasies  |  Elektrisiteit  |  Inperking  |  Resessie  |  Koronavirus  |  Beurtkrag  |  Krag  |  Vlak 3  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.