Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nog fases van hidrokrag uit Kongo kan SA $10 m kos
dam, kongo, grand inga
Die Grand Inga-dam in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Foto: Getty Images

As Suid-Afrika aan verdere fases van die Grand Inga- hidroëlektriese skema sou wou deelneem moet hy $10 miljoen aan die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) betaal.

Dít blyk uit ’n antwoord van Jeff Radebe, minister van energie, op ’n skriftelike parlementêre vraag van Thandeka Gqada, ’n DA-parlementslid.

Die Grand Inga-skema sloer al jare weens politieke onstabiliteit en binnegevegte in die DRK, maar daar is ook sterk omgewingsprotes teen die projek wat die bou van ’n reeks keerwalle en hidrokragstasies by die Inga-stroomversnellings in die Kongorivier behels.

Tina Joemat-Pettersson, vorige minister van energie, het in 2014 ’n ooreenkoms met die DRK gesluit dat Suid-Afrika sou saamwerk aan die Inga-3-projek van 4 800 MW.

Dit sou die voorloper wees tot die uiteindelike Grand Inga-projek van 40 000 MW. Suid-Afrika het onderneem dat Eskom 2 500 MW van die Inga-3 se 4 800 MW koop.

Dié 2 500 MW is ingereken in die jongste weergawe van die departement van energie se geïntegreerde hulpbronplan (IRP), met die verstandhouding dat dit teen 2030 gelewer sal word. Maar die insluiting van die Inga-hidrokrag by die IRP het skerp kritiek uit verskeie oorde ontlok omdat selfs die Wêreldbank hom al van die projek gedistansieer het.

Dit is die eerste keer sedert 2014 dat sekere aspekte van die verdrag wat Joemat-Pettersson met die DRK gesluit het nou bekend gemaak word. Die $10 miljoen wat Suid-Afrika moet betaal as hy verder as Inga-3 aan die projek wil deelneem, word volgens Radebe in die verdrag beskryf as ’n sogenaamde nie-terugbetaalbare verbintenisfooi.

Gqada het gevra wat die verwagte koste sal wees om elektrisiteit van die grens van die DRK en Zambië tot by Suid-Afrika te voer. Volgens Radebe is die transmissiekoste geraam op 1 Amerikaanse sent per kWh. ’n Lewensvatbaarheidstudie oor die projek sal volgens hom na verwagting volgende jaar voltooi word, en ’n voorlewensvatbaarheidstudie beraam die totale verwagte koste op 3 Amerikaanse sent per kWh.

Radebe het bevestig Suid-Afrika het tot dusver nog niks betaal aan die DRK nie, en hoef ook niks te betaal as hy aan die Inga-3 projek wil deelneem nie.

Oor hoe lank dit kan duur voordat transmissielyne opgeknap word om die krag van die DRK-Zambiese grens tot by Suid-Afrika te voer het Radebe geantwoord dit sal eers bepaal kan word as die lewensvatbaarheidstudie afgehandel is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.