Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: ‘Sterker’ rand help dalk in November

Petrol gaan in November waarskynlik vir die vierde maand in ’n ry duurder word en diesel vir die derde maand.

Petrol gaan waarskynlik in November vir die vierde maand in ’n ry styg. Foto: Pixabay

Maar – glo dit of nie – brandstof gaan steeds aansienlik goedkoper wees as in November 2018, toe 95-oktaan-petrol in Gauteng R17,08 per liter gekos het en diesel met ’n 0,05%-swaelinhoud R16,13 (groothandelprys).

Volgens die daaglikse syfers van die Sentrale Energiefonds was daar teen Dinsdag 15 Oktober ’n onderverhaling van 10c per liter op die prys van 95-oktaan-petrol. Op die groothandelprys van diesel is daar ’n onderverhaling van tussen 1c en 2c per liter, na gelang van graad. Sien grafika hieronder.

’n Onderverhaling is met hoeveel pryse sal moet styg om voorsiening te maak vir die werklike internasionale prys van brandstof waarvoor brandstofinvoerders die afgelope maand opgedok het, asook vir die gemiddelde rand-dollar-wisselkoers.

Daar is tans ’n oorverhaling van 5c per liter op 93-oktaan-petrol en van 3c per liter op paraffien, wat beteken dié brandstowwe kan dalk goedkoper word.

Die finale onder- of oorverhaling vir November se petrolprys word op Donderdag 31 Oktober vasgepen en die finale stygings (of dalings) sal op 6 November van krag word.

Volgens die Outomobiel-Assosiasie (AA) lyk dit asof die rand gestabiliseer het nadat dit in die tweede helfte van September tot selfs R15,20 per dollar verswak het. Dit het die styging in internasionale brandstofpryse teengewerk.

Die olieprys het ook effens herstel ná die skok weens die terreuraanval op Saoedi-Arabië se grootste olieraffinadery.

Die AA sê danksy die sterker rand kan die prentjie dalk nog oor die volgende paar weke verbeter.

Benewens die onderverhaling wat deur dié twee faktore bepaal word, is daar egter nog twee onsekerhede wat petrol in November duurder kan maak.

Eerstens is die kleinhandelwinsgrens per liter petrol nog nie vanjaar verhoog nie – dit gebeur gewoonlik in September of Oktober, maar is uitgestel omdat loononderhandelinge met petroljoggies gesloer het. ’n Staking dreig tans in die brandstofbedryf.

Tweedens is daar ’n kans dat die Sentrale Energiefonds weer ’n balansheffing sal moet instel ná maande van stygings in brandstofpryse. Dis op die oomblik 0c per liter.

Daar is wel ’n bietjie goeie nuus wat die styging kan temper – die olieprys is aan die daal en die rand-dollar-wisselkoers is laer.

Die prys van Brent-ruolie het Maandag teen middagete met 2,25% tot $59,15 teruggesak ná ’n skerp styging Vrydag. Dié styging is toegeskryf aan ’n aanval op ’n Iranese olietenkskip in die Rooi See.

Die olieprys het gedaal danksy tekens dat sowel Amerika as China bereid is om toegewings te doen in die voortslepende stryd oor in- en uitvoertariewe. Bloomberg berig egter dat ’n daling in die olievoorraad wêreldwyd pryse na die einde van die jaar toe weer sal opdruk.

’n Dollar sou Maandag om 12:30 R14,79 kos, teenoor Vrydag se R14,94.

brandstof, diesel, olieprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.