Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nog ’n senior by Eskom geskors
Honderde stakende werkers van die Optimum-steenkoolmyn in Mpumalanga het in Februarie buite die myn se hoofkantoor vergader oor onsekerheid oor die myn en hul eie toekoms. Foto: Jeanne-Marié Versluis

Eskom se interne ondersoek na meer as 5 000 verdagte kontrakte is byna voltooi en sedertdien het die kop van nóg ’n senior bestuurder gerol.

Khulu Phasiwe, Eskom-woordvoerder, sê die beleërde staatsinstelling het Donderdag Ayanda Nteta, Eskom se senior hoofbestuurder van primêre energie, geskors. Die skorsing is onmiddellik van krag.

Volgens Phasiwe hou dit verband met onreëlmatighede in die verlenging van ’n kontrak met die Hendrina-kragstasie aan wie die Optimum-myn steenkool lewer.

“Ons is sowat 80% klaar met ons ondersoeke, maar dit is moeilik om te sê hoe lank die proses nog sal neem aangesien sommige van die kontrakteurs wat nog ondersoek word, baie groot is,” sê Phasiwe.

“Dit is onmoontlik om nou te sê of stappe teen ander senior personeel geneem sal word, maar ons skakel nie die moontlikheid daarvan uit nie.

“Dit is belangrik om nie hierdie ondersoeke af te rammel nie; ons gaan sorg dat dit ordentlik gedoen word en die nodige stappe neem indien enige individue verdag opgetree het.”

Phasiwe sê die Hendrina-ondersoek is in ’n baie sensitiewe stadium en Eskom is nie nou in ’n posisie om verdere kommentaar daaroor te lewer nie.

Nteta het na bewering aan Tegeta, wat destyds nog aan die Gupta-familie behoort het, ’n verlenging van drie maande toegestaan om steenkool aan Hendrina te voorsien. Die besluit het glo standaardprosedures verontagsaam en is sonder die goedkeuring van Eskom se raad gemaak.

Volgens Phasiwe ondersoek Eskom 160 kontrakte ter waarde van meer as R1 miljard en 5 110 kontrakte ter waarde van minder as R1 miljard.

Die parlementêre portefeuljekomitee vir openbare ondernemings se ondersoek na staatskaping by Eskom het ongerymdhede by verskeie Gupta-beheerde myne geteiken.

Dit sluit in ’n tien jaar lange kontrak ter waarde van R4 miljard met die Brakfontein-myn, ’n voorafbetaling van R578 miljoen vir steenkool en ’n waarborg van R1,6 miljard. Die waarborg het die Guptas in staat gestel om die Optimum-steenkoolmyn by Glencore te koop.

Weier om te onderhandel

Glencore is gedwing om in besigheidsredding te gaan nadat Eskom geweier het om te onderhandel oor die prys waarteen hy steenkool aankoop. Hulle het toe laer kwaliteit steenkool teen ’n hoër prys by Tegeta aangekoop.

Die tesourie het ná die ondersoek na sommige van die Eskom-kontrakte aanbeveel dat sommige voormalige senior bestuurders krimineel aangekla word.

Dit sluit in Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Eskom, Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof, en Matshela Koko, voormalige waarnemende hoof.

Netwerk24 het vroeër berig ’n gebrek aan

steenkoollewering deur die Optimum-myn het meer as ’n kwart van Eskom se kragopwekkingsvermoë op 27 Maart gekelder.

Dit het Eskom genoodsaak om sy duur dieselaangedrewe oopsiklusgasturbine-stasies by Atlantis en Mosselbaai in bedryf te stel, asook krag van onafhanklike kragprodusente aan te koop om volgehoue kraglewering te verseker. Noodkrag is ook gelewer deur Eskom se pompopgaarskemas, soos die Ingula-skema in KwaZulu-Natal.

Pres. Cyril Ramaphosa het intussen ook bewerings oor wanbestuur en korrupsie by Eskom en Transnet na die spesiale ondersoekeenheid (SOE) verwys.

Die SOE moet ondersoek instel na onder meer Eskom se aanskaffing van steenkool, wanbestuur en verliese met betrekking tot twee reusesteenkoolkragstasies wat die maatskappy bou en waarvan die uitgawes die begrotings reeds oorskry en die bouwerk agter is, sowel as die aanwysing van McKinsey & Co en Trillian Capital Partners.

Meer oor:  Eskom  |  Ayanda Nteta  |  Staatsinstellings  |  Energie  |  Kragvoorsiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.