Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nog ’n taai klap in hof vir Eskom
JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA  JANUARY 30:(SOUTH AFRI
Inwonersverenigings van Standerton en Parys het Eskom voor die hof gedaag omdat die verskaffer se optrede volgens hulle “ ’n mens- en omgewingstragedie” veroorsaak het. Foto: Getty Images

Eskom het die mense van Standerton (Lekwa) en Parys (Ngwathe) in ellende gedompel deur hul kragtoevoer te beperk tot heelwat minder as wat dié dorpe se behoefte is, het die hooggeregshof in Johannesburg Vrydag bevind.

Regter Anthony Millar het Eskom beveel om die kragtoevoer na die dorpe summier te verhoog.

Die uitspraak kan verreikende gevolge inhou vir Eskom, wat die laaste maande talle plekke oor die land heen se kragtoevoer beperk ingevolge dekades oue ooreenkomste oor dorpe se “maksimum vraag”.

Inwonersverenigings van Standerton en Parys het Eskom voor die hof gedaag omdat die verskaffer se optrede volgens hulle “ ’n mens- en omgewingstragedie” veroorsaak het.

Omdat daar nie genoeg elektrisiteit was om die dorpe se rioolaanlegte te bedryf nie, het ongesuiwerde riool in die strate van Standerton en in die Vaalrivier beland, het die aansoekers aangevoer.

Die probleme het begin toe Eskom in Junie die ou ooreenkomste se bepalings gevolg het oor die hoeveelheid krag wat aan elk van die dorpe gelewer word.

Dié ooreenkomste is jare gelede aangegaan – in 2010 vir Standerton en 2008 vir Parys. Ingevolge daarvan sou Eskom net ’n sekere hoeveelheid krag aan elk moes lewer. As die dorpe dié perk oorskry, het Eskom die reg om hul kragtoevoer af te sny.

Die maksimum vraag waarop ooreengekom is, is gegrond op die dorpe se destydse kragbehoefte. Albei het sedertdien uitgebrei en hul kragbehoefte het toegeneem.

Tog het Eskom jare lank nie die krag afgeskakel nie, maar die munisipaliteite bloot beboet as hulle die maksimum verbruik oorskry het.

In Junie het dít verander.

Toe Eskom sonder waarskuwing begin om die dorpe se kragtoevoer te beperk, was hulle genoop om hul “eie” beurtkrag toe te pas om die kragverbruik te verminder.

Toe Eskom sonder waarskuwing begin om die dorpe se kragtoevoer te beperk, was hulle genoop om hul “eie” beurtkrag toe te pas om die kragverbruik te verminder.

In teorie kan ’n munisipaliteit vra om sy maksimum perk te verhoog, maar Eskom het Standerton en Parys in ’n knyptang gehad: Hulle moes eers ál hul agterstallige skuld betaal én ’n vooruitbetaling doen voordat Eskom die perk sou verhoog.

Dit is die stel feite waarmee die inwonersverenigings hof toe is.

Hulle het aangevoer Eskom moes die inwoners geken het in sy besluit om hul elektrisiteit te verminder en dat Eskom hul regte skend.

Eskom het volgens hulle nie genoeg gedoen om die situasie te probeer beredder voordat hy die kragtoevoer beperk het nie.

Eskom, daarenteen, het aan die hof gesê hy het niks met die inwoners uit te waai nie. Hy tree net op ingevolge die bepalings van sy kontrak met die munisipaliteite. Boonop het Eskom ontken dat daar ’n dispuut tussen hom en die munisipaliteite is bloot omdat die onderhandelinge oor die maksimum vraag nog nie afgehandel is nie.

Eskom het gevoel hy het nie ’n verpligting teenoor die inwoners nie, want hulle is nie ’n party tot die kontrak nie. As die inwoners ongelukkig is oor die kraglewering moet hulle dit met die munisipaliteite opneem, het Eskom aangevoer.

Millar het Eskom se argumente in sy uitspraak van die tafel gevee én die kragvoorsiener met ’n kostebevel gestraf weens sy ongevoeligheid teenoor die kraggebruikers.

Eskom kan nie die maksimum vraag gebruik as ’n manier om skuld in te vorder nie. Die doel daarvan is om vir die toekomstige vraag na krag te beplan, het die hof gesê.

Elektrisiteit is fundamenteel tot mense se grondwetlike reg op waardigheid, lewe en behuising. Eskom is daarby ’n staatsinstelling en inwoners het ’n reg nie net op toegang tot elektrisiteit nie, maar tot voldoende elektrisiteit, wat ’n basiese reg is, het Millar gesê.

Die ellende en skade wat Eskom veroorsaak het deur sy skending van die inwoners se regte weeg swaarder as die geldelike skade wat Eskom ly weens die munisipaliteite se uitstaande skuld.

Die regter het gesê omdat Eskom ’n monopolie het, het die munisipaliteite geen ander heenkome vir kragaankope nie.

“Solank die maksimum-vraag-boetes en rente die ware koste van verbruik oorskry, word betalende verbruikers opgesaal met hopeloos bankrot munisipaliteite wat geen vooruitsig hoegenaamd het om sonder hulp of ingryping van buite hul uitstaande skuld aan Eskom te betaal nie.

“Dis skaakmat vir verbruikers en Eskom is die spreekwoordelike cholesterol in die ineenstorting van munisipale dienslewering in Lekwa en Ngwathe,” het Millar gesê.

Meer oor:  Eskom  |  Standerton  |  Parys  |  Kragvoorsiening  |  Elektrisiteit  |  Energie  |  Kragopwekking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.