Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Noodkrag: Daar is geen vinnige oplossing nie

Dit sal ’n verrassing wees as die departement van energie vanjaar nog ’n besluit neem oor die “noodproses” om “dringend” tot 3 000 MW ekstra krag van die private sektor te koop.

Só meen die energiekenner Dave Long oor dié proses wat steeds sloer. 

Rapport  het Sondag berig die proses behels eintlik net die uitruil van idees om ’n verslag vir die departement van energie saam te stel.

LEES OOK: Gwede reik versoek uit vir vinnige, goedkoop krag

Dié onthulling het glo verlede week op ’n inligtingsessie van die departement van energie aan die lig gekom.

Hoewel daar voorstelle uit alle oorde is oor hoe die land “vinnig” die kragprobleem kan oplos, blyk dit dat “vinnig” maande of selfs jare kan beteken.

Daar is nog geen duidelikheid oor presies hoe die regering “dringend” ekstra kapasiteit gaan kry om krag in Suid-Afrika op te wek nie.Foto: Elvira Wood

Long het aan Netwerk24 gesê hy kan nie verstaan hoekom die departement nou wéér ’n versoek om inligting uitgereik het nie.

“Die nuwe geïntegreerde hulpbronplan wat in Oktober uitgereik is, laat die minister tog toe om dringend krag te bekom,” sê hy.

Hy wys daarop dat daar nou eers tot einde Januarie op voorstelle gewag word. Dié voorstelle gaan dan eers bespreek word waarna ’n plan opgestel sal word. 

“Ek sal regtig verras wees as ’n plan vanjaar nog uitgevoer word.”

Long meen dit is naïef om steeds te dink dat die Suid-Afrikaanse kragprobleem vinnig opgelos kan word.

Hy sê hoewel onafhanklike kragprodusente (IPP’s) soveel krag sal kan opwek soos wat nodig is, moet hulle eers die waarborg hê dat die krag wat hulle opwek teen ’n billike prys aangekoop sal word.

En al kry hulle dié versekering, gaan dit tyd neem om die nodige infrastruktuur in plek te kry.

Jo Dean van die Suid-Afrikaanse Raad vir Hernubare Energie het voorheen aan die  Mail & Guardian gesê sou IPP’s die groen lig kry om krag aan Eskom te lewer, sy dink hulle binne 12 maande 3 000 MW sal kan lewer.

Eie krag

Nog ’n bron van krag – nie net vir groot ondernemings nie, maar ook vir gewone mense – is as hulle self hul krag kan opwek.

Kenners soos Chris Yelland en prof. Anton Eberhard sê al ’n geruime tyd die regulasies oor kragopwekking deur die private sektor moet dringend hersien word.

“Ontsluit die regulatoriese beperkinge wat keer dat kliënte deel is van die oplossing deur kleinskaalse, ingeboude opwekking (SSEG), soos sonkragpanele op dakke wat by huise, ondernemings, geboue, pakhuise, fabrieke, myne en plase geïnstalleer word,” het Yelland voorheen getwiet.

Long sê die oomblik as die private sektor self krag mag opwek sonder ’n gesukkel om ’n lisensie te kry, sal dit Suid-Afrika se probleme kan oplos. Dit het ook die potensiaal om die ekonomie geweldig te steun.

“Dink net hoe aanloklik die land vir beleggers sal wees as hulle weet hulle kan ’n onderneming hiér begin, hul eie krag opwek en dit wat hulle nie nodig het nie, aan Eskom verkoop.

“Hierdie krag kan weer uitgevoer word.”

Pres. Cyril Ramaphosa het in Desember op ’n mediakonferensie oor beurtkrag by Eskom gesê “daar is ’n duidelike voorstel op die tafel van veral die private sektor wat hul eie krag wil opwek. Dit is nou ’n kwessie wat ons Vrydag met die kabinet sal bespreek.

“ ’n Besluit kan daartoe lei dat ons toenemende kapasiteit kan kry,” het Ramaphosa gesê.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en Gwede Mantashe, minister van mineralebronne en energie, sou glo op 13 Desember verlede jaar ’n voorstel aan die kabinet maak oor die moontlikheid om private instansies toe te laat om self krag op te wek.

Daar is egter in ’n verklaring van die kabinet op 17 Desember nie gesê wat oor hierdie voorlegging besluit is nie. 

Eskom

Hoewel die voorstel wyd ondersteun word dat die departement so gou as moontlik krag van IPP’s moet bekom, meen kenners Eskom se vermoë om self ’n groot deel van die probleem op te los, moenie onderskat word nie.

Deon Reyneke, Solidariteit se hoof van energie, het in Desember gesê hy dink Eskom moet eerder die bul by die horings pak, beurtkrag waar nodig in werking stel en dan kragstasies uit diens stel en hulle behoorlik in stand hou eerder as om net noodstappe te doen, en die stasies dan so gou as moontlik weer aan die gang kry.

Hy het toe gesê dit neem gewoonlik tussen drie en vier maande om behoorlike instandhouding van ’n krageenheid te doen.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het in Desember gesê dat die kragreus tans net probeer om eenhede so vinnig as moontlik weer in bedryf te stel.

Hy het die proses van noodinstandhouding beskryf as ’n pleister wat op ’n wond geplak word.

“Die wond is nie gesond nie, daar is net ’n tydelike plan gemaak.”

LEES OOK: Dís hoekom ons terug is op fase 2-beurtkrag, sê Eskom

Long stem saam met Reyneke, en sê gegewe dat Eskom tans verantwoordelik is vir die opwekking van tussen 90% en 92% van die land se krag, sal een van die vinnigste maniere om die netwerk te stabiliseer juis wees om probleme by sy kragstasies uit te sorteer.

Yelland het in Julie al gesê hy is bekommerd dit gaan bloot te lank neem om Eskom reg te ruk.

“Daar is baie belanghebbendes – van die staat tot arbeid tot gemeenskappe – wat eers gekonsulteer moet word. Dit gaan tyd neem. Die probleem is, ons het nie die luukse van tyd nie.”

Meer oor:  Eskom  |  Jan Oberholzer  |  Chris Yelland  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.