Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Noorse pensioenfonds verkoop sy Sasol-aandele

Die grootste private pensioenfondsbestuurder in Noorweë het vandeesweek aangekondig hy gaan nie meer belê in maatskappye wat meer as 5% van hul inkomste uit steenkool verdien nie.

Sverre Thornes, die uitvoerende hoof van Kommunal Landspensjonskasse, oftewel KLP, die grootste pensioenfondsbestuurder in Noorweë. Foto: KLP

Die fondsbestuurder KLP het dus 328 miljoen se aandele in 46 maatskappye verkoop. Dit sluit sy belange in Suid-Afrika se petrochemiese reus Sasol, die mynbougroep BHP Billiton en die Duitse kragmaatskappy RWE in.

Die Duitse omgewingsgroep Urgewald het KLP se aankondiging verwelkom.

“Ander finansiële instellings het spertye van 2026 of later gestel vir hul uitfasering van steun aan steenkoolverwante bates, maar KLP het besluit om nóú op te tree. Ander beleggers en banke behoort KLP se voorbeeld te volg en hul vertrek uit die steenkoolbedryf te versnel,” het Heffa Schücking, direkteur van Urgewald, in ’n verklaring gesê.

Dit volg op Standard Bank se besluit wat reeds verlede jaar aangekondig is dat hy nie meer geld gaan leen vir die bou van steenkoolkragstasies wat nie toegerus is met tegnologie wat hul kweekhuisgasvrystellings beperk nie.

Urgewald is egter op die oorlogspad om wêreldwyd banke te oorreed om hul steun aan steenkoolprojekte te staak. Urgewald het tydens die Verenigde Nasies se klimaatberaad in Pole in Desember verlede jaar navorsing bekend gemaak wat wys wie die banke en beleggers is wat die uitbreiding van steenkoolkrag finansier.

As banke nie hul geldvloei na steenkoolkrag-ontwikkelaars vinnig sny nie, gaan dit onmoontlik wees om die klimaatkrisis op te los, het Greig Aitken, ’n klimaataktivis van BankTrack, gesê.

KLP bestuur sowat 600 miljard Noorse krone se pensioenbates, en die verkoop van aandele en effekte in steenkoolverwante beleggings het sowat 32 miljard Noorse krone behels. Sverre Thornes, hoof van KLP, het Maandag gesê hulle het hul reeds aan dié beleggings onttrek.

Sasol se aandeelprys was Donderdag 1,6% laer op R441,50, maar was nog op 23 April op ’n jaarhoogtepunt van R487,49. KLP sê nie in sy verklaring presies hoeveel aandele hy van Sasol besit het nie.

Prof. Rosemary Falcon van die Fossil Fuel Foundation in Suid-Afrika voer op haar beurt aan dit is nie steenkool op sigself wat die probleem is nie, maar die gasvrystellings wat daarmee saamgaan. Maar dít kan met nuwe tegnologie tot bykans nul verminder word.

Steenkool voorsien tans 90% van Suid-Afrika se elektrisiteit, tussen 30% tot 40% van die land se petrol en diesel via Sasol, asook 100% van die koolstofprodukte wat die metaalbedryf benodig.

Steenkool word ook as hitte- en kragbron gebruik by 6 000 kleiner nywerheidsgebruikers in bedrywe soos papier, landbou, kunsmis, chemikalieë, kos, verf, plastiek, farmaseutiese produkte, bakstene en teëls, sê sy.

Falcon sê terwyl ander energiebronne soos wind- en sonkrag en selfs kernkrag amptelike organisasies het wat hul belange bevorder, is daar nie ’n soortgelyke formele liggaam buiten die Fossil Fuel Foundation wat nuwe tegnologie vir skoon steenkoolgebruik in Suid-Afrika beskerm, bevorder of monitor nie.

Meer oor:  Sasol  |  Besoedeling  |  Uitlaatgasse  |  Steenkool  |  Koolstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.