Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Numsa: Eskom kan só beter lone betaal

Die metaalwerkersvakbond Numsa verwerp steeds wat hy Eskom se eensydige loonverhogingsaanbod van 1,5% noem.

Irvin Jim, hoofsekretaris van die metaalwerkersvakbond Numsa.

As Eskom die kontrakte van die eerste paar rondes groenkragtenders heronderhandel, asook die immergroen steenkoolkontrakte; en as hy gehalte-instandhouding by kragstasies bevorder sodat beurtkrag en dieselverbruik stop, kan hy maklik ’n billike loonverhoging vir werkers bekostig, meen Numsa.

Die vakbond het Dinsdagmiddag ’n mediakonferensie gehou waarin hy ’n oorsig gegee het van sy standpunte oor verskeie loononderhandelings.

Numsa verwerp veral die 1,5%-aanbod in die lig van die verhoging van 5,4% vir arbeidskoste wat die nasionale energiereguleerder (Nersa) aan Eskom toegelaat het as deel van sy MYPD4-tariefaansoeke (dit is vir die tariefjare van 2020 tot 2022), het Irvin Jim, hoofsekretaris van die vakbond, gesê.

Jim vaar in ’n verklaring wat ná die mediakonferensie uitgestuur is veral uit teen wat hy die ANC-regering se neo-liberale en kapitalistiese uitkyk noem.

Numsa is gekant teen wat hy die privatisering van die kragsektor noem. Hy meen Eskom moet in staatsbesit bly en sentraal wees in die lewering van ’n mededingende kragtarief. Numsa verwerp die poging om meer onafhanklike kragprodusente aan die kragnetwerk te koppel.

Die vakbond meen die verdeling van Eskom in drie afsonderlike entiteite is bloot ’n agenda om kragvoorsiening te privatiseer.

Die loononderhandelings in die staal- en ingenieursbedryf is volgens Numsa tans op ’n dooiepunt, en hy dreig met ’n staking indien werkgewerorganisasies nie gewillig is om buigsaam te wees met hul posisies nie.

Hoewel Numsa die skuif weg van fossielbrandstowwe na hernieubare energie steun, sê Jim dat 70% van al die groenkragkontrakte aan ’n Eskom-beheerde groenkragmaatskappy moet gaan pleks van aan die private sektor wat net wins wil maak vir hul aandeelhouers en ten koste van verbruikers.

Staalbedryf

Numsa verwerp ook die staalbedryfsliggaam Seifsa se jongste loonaanbod van 4,4% vir vanjaar, met inflasieverwante plus onderskeidelik 0,5%- en 1%-verhogings vir die daaropvolgende twee jare.

Numsa se teenaanbod is ’n verhoging van 8% vanjaar en ’n inflasieverwante plus 2%-verhoging vir albei die volgende twee jare. En as inflasie plus 2% onder 6% val moet die werkgewers ’n 6%-verhoging bied.

Die loononderhandelings in die staal- en ingenieursbedryf is volgens Numsa tans op ’n dooiepunt, en hy dreig met ’n staking indien werkgewerorganisasies nie gewillig is om buigsaam te wees met hul posisies nie.

Die werkgewerorganisasie Neasa verwerp intussen Seifsa se ander aanbod as deel van die loononderhandelings. Dit is vir ’n minimum loon van R12 000 per maand vir ongeskoolde werkers met geen ondervinding nie, wat oor ’n tydperk van 15 jaar ingefaseer word.

Volgens Seifsa is dit om vir die oorlewing, groei en herstel van die bedryf voorsiening te maak. Maar Neasa meen dié aanbod is veels te duur vir kleiner werkgewers in die bedryf. Vir werkgewers wat tans die nasionale minimum loon aan ongeskoolde en onervare werkers betaal, sal Siefsa se voorstel neerkom op ’n gemiddelde jaarlikse veroging van 36% oor die eerste vyf jaar om die voorgestelde 60%-vlak van die R12 000 minimum loon te bereik. En daarna sal dit ’n jaarlikse verhoging van 13% oor tien jaar verg om die 100%-vlak te bereik, waarsku Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van Neasa.

Hy waarsku dit sal werkloosheid laat toeneem.

Volgens Papenfus het die ander werkgewerorganisasies in die staalbedryf Seifsa se voorstel verwerp.

Meer oor:  Nersa  |  Staalbedryf  |  Nasionale Minimum Loon  |  Metaalwerkersvakbond  |  Eskom  |  Numsa  |  Seifsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.