Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nuutjie: Krediet van Eskom

Toe Henry Coetzee, ’n boer van Prieska in die Noord-Kaap, in November sy Eskom-kragrekening kry, was dit ’n rare gesig – ’n krediet van R280 000.

Die dag toe Eskom die Mahoebe-boerdery in Prieska se sonplaas aan sy netwerk gekoppel het. Van links: Ertjies Taljaard van Eskom, Hannes Coetzee van Mahoebe en Chris Schutte van Sonfin. Foto: Verskaf

Coetzee se Mahoebe-boerdery is een van die eerstes in die land wat voordeel trek uit ’n stelsel waarvolgens die sonkrag wat hulle self opwek in Eskom se kragnetwerk gevoer word sodat hulle dit later kan gebruik.

Die onderneming se kragverskaffing word op die rekening van sy verbruik afgetrek. Só kan die boerdery feitlik sy hele energiekoste bespaar en sy kragrekening beperk tot die vastekoste-elemente op die Eskom-rekening.

Coetzee beoefen wisselbou op Mahoebe en verbou mielies, koring, rosyne en uiesaad. Die gewasse word deurlopend besproei, en die elektrisiteit wat nodig is om die pompe aan te dryf, is ’n groot deel van die plaas se insetkoste.

Die Ruraflex-tarief waarteen Mahoebe sy krag van Eskom aankoop, is so gestruktureer dat kragverbruik tydens tye van spitsverbruik tot vier maal meer kos.

Om die hoë kragrekening hok te slaan, het Mahoebe dus R13 miljoen belê in ’n sonkrag-aanleg wat krag in die Eskom-stelsel invoer wanneer die son skyn, insluitende die spitstye. Eskom krediteer die plaas daarvoor. Mahoebe onttrek die krag dan later vir besproeiing.

Die bergingsiklus strek van 1 April tot 31 Maart elke jaar, wat beteken dat die boerdery se krediet op 31 Maart elke jaar uitgewis word, en hy vanaf 1 April weer voor moet begin krediet opbou.

Volgens Chris Schutte van die konsultantegroep Sonfin het hulle die stelsel vir Mahoebe so ontwerp dat sy krediet ongeveer net soveel soos sy verbruik is. Die besparings behoort genoeg te wees om die sonkragstelsel binne sewe jaar te betaal.

Volgens Coetzee is die krediet op die November-rekening egter bittersoet. Hoewel dit ’n mylpaal is, lyk dit asof Eskom se rekening-afdeling steeds sukkel om die nuwe stelsel behoorlik te implementeer.

Dit het Eskom sedert Maart, toe die stelsel aan die Eskom-netwerk gekoppel is, geneem om alles te implementeer volgens die “Offset and Banking”-ooreenkoms tussen die boerdery en die kragreus. Dit lyk of die R280 000 krediet net ’n fraksie van dié tydperk se kraginvoer weergee.

Die bouwerk aan die aanleg het reeds laat 2016 begin, en hoe langer Eskom draai met die gladde werking van die stelsel, hoe langer betaal Mahoebe aan die finansiering plus die energiekoste.

Nersa-vertraging

Dr. Tokka van den Hever, wat met tafeldruiwe en rosyntjies by Kakamas boer, is egter in ’n nog slegter posisie – dié keer weens die gesloer van die nasionale energiereguleerder (Nersa).

By die Sonvrucht-sonkragaanleg buite Kakamas in die Noord-Kaap is van links: Cecilia Mendile, Jeanette Ntshekisang en Tokka van den Hever, direkteure van die bemagtigingsplaas.

Van den Hever sê die Chargo-boerdery, waarvan hy ’n trustee is, en die Sonvrucht-bemagtigingsboerdery waarin Chargo ’n meerderheidsbelang het, besproei hul druiwe in die winter baie meer intensief as in die somer. Die kragverbruik skiet dan die hoogte in, asook in die Desembervakansie wanneer die druiwe in verkoelde pakkamers verpak word.

Die twee boerderye het besluit om onderskeidelik ’n 500 kWp- en 300 kWp-sonkragaanleg te bou sodat hulle in die somermaande krag opwek en in die Eskom-stelsel invoer om kragkrediet op te bou vir die winter.

Die twee boerderye het saam sowat R20 miljoen belê, en laat 2017 was hulle gereed om aan die Eskom-netwerk te koppel.

Eskom mag egter net koppel as die sonkragstelsel by Nersa geregistreer is, en Nersa het in Februarie verlede jaar alle registrasies gestaak om ’n administratiewe proses daarvoor te ontwikkel.

In stedelike gebiede waar munisipaliteite die kragverspreiding doen, word sonkragstelsels daagliks opgerig en aan die munisipale netwerk gekoppel sonder dat dit by Nersa geregistreer word. Munisipaliteite word toegelaat om self die registrasie te doen.

Teen Oktober het Nersa op ’n vergadering besluit om eers die openbare deelname te voltooi oor die voorgestelde R200-registrasiegeld, voordat hy verdere registrasies oorweeg. Dié vertraging kos boere ’n fortuin, sê Schutte.

Ook in dié geval moet die boer dus sy paaiemente betaal op die lenings wat hy aangegaan het om die aanleg te ontwikkel, plus die energiekoste wat hy gehoop het om te bespaar. Van den Hever se aanlegte moes hulself binne ses jaar betaal het, maar Nersa se voeteslepery beduiwel die sakemodel.

“Dis so ’n koue gevoel wat jy op jou maag kry,” sê Van den Hever. Hoe langer Nersa draai, hoe meer kos dit die boerderye.

Nersa het op die vergadering gesê registrasies sal na verwagting teen Maart vanjaar kan voortgaan, maar ook gewaarsku dat dit langer kan neem as baie mense kommentaar lewer. Die sluitingsdatum vir insette is 16 Januarie.

Volgens Schutte is daar meer as 100 aansoeke by Eskom vir soortgelyke stelsels in verskillende stadiums van verwerking. Dit kan ’n stewige inspuiting wees in Suid-Afrika se jong sonkrag-bedryf met gepaardgaande werkskepping en ekonomiese groei.

Sonder sekerheid van Nersa hang alles egter in die lug, sê hy.

Meer oor:  Mahoebe  |  Sonfin  |  Eskom  |  Chris Schutte  |  Tokka Van Den Hever  |  Henry Coetzee  |  Noord-Kaap  |  Prieska  |  Landbou  |  Elektrisiteit  |  Boere  |  Groenkrag  |  Krag  |  Sonkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.