Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nuwe drempel vir kragopwekking wyd verwelkom

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die drempel vir ongelisensieerde kragopwekking vir eie gebruik van 1 megawatt (MW) tot 100 MW verhoog gaan word is wyd verwelkom.

Die VF Plus, Agri SA, Solidariteit en die landbousakekamer Agbiz is van die organisasies wat die stap verwelkom het.

Wynand Boshoff, VF Plus-parlementslid en die party se woordvoerder oor minerale bronne en energie, sê Ramaphosa se aankondiging is ’n belangrike stap om ’n mededingende mark vir elektrisiteit te skep.

“Die feit dat Ramaphosa dié stap gedoen het ondanks Gwede Mantashe (minister van minerale bronne en energie) se standpunt dat die drempel net tot 10 MW verhoog moet word, dui waarskynlik op die omvang van die kragkrisis waarin die land hom bevind.”

Boshoff sê die aankondiging en die feit dat die regulatoriese omgewing nou heeltemal gaan verander sal voorkom dat Eskom groenkragverskaffers boelie en tariewe eensydig vasstel.

Hy sê die hele omgewing waarin kragverskaffing plaasvind gaan verander.

“Daar het ’n lig by die regering opgegaan en groot kragverbruikers het moontlik vir Ramaphosa gesê hulle kan self goedkoop krag opwek wat die land sal bevoordeel.”

Hy meen dat die besluit moontlikhede vir boere in veral die sonnige maar droë dele van die land sal ontsluit.

“Boere gebruik in elk geval sonkrag om te produseer en sonkrag kan die druk van hulle afhaal om net met vee te boer.”

Die Noord-Kaap kan aan die vooraand van ’n groot nywerheidsontwikkeling staan, net soos die steenkoolvelde om Secunda ’n paar dekades gelede tot ekonomiese vooruitgang gelei het, sê Boshoff.

Goedkoop sonkrag kan nuwe ontwikkelings bring en ystererts wat in die Noord-Kaap ontgin word, kan deur die eerste smeltproses gaan voordat dit verder vervoer word.

Boshoff sê hy glo al kan sonkrag nie tans ekonomies geberg word nie weens die hoë koste van batterye kan nywerhede met die son se siklus saamwerk.

“Energie kan ook as warm water geberg word en snags in krag omskep word.”

Die feit dat die land bedags beurtkrag het, beteken dat die opgaar van sonenergie in batterye nie ’n absolute noodsaaklikheid is nie.

Hy glo batterye sal mettertyd goedkoper word soos wat met sonpanele gebeur het.

Boshoff sê die land is ’n kunsmatige politieke eenheid wat deur die kragnetwerk aanmekaar gehou word.

’n Gedesentraliseerde kragnetwerk gaan die politieke dinamika in die land verander en die staat se mag verminder.

Omdat daar nie subsidies ter sprake is wanneer private maatskappye die mark betree nie, is die regering se besluit rasioneel en berus dit wat hom betref nie op ideologie nie.

Hy meen ook dat groot sonplase die beoogde ontginning van gasvelde deur hidrobreking kan beëindig.

Prof. Hartmut Winkler, hoogleraar in fisika aan die Universiteit van Johannesburg, sê in ’n artikel op www.theconversation.com dat Suider-Afrika ideaal is vir die opwekking van sonkrag.

Winkler sê sonkrag word al goedkoper, maar net 2,5% van die krag in Suid-Afrika word op die oomblik met die hulp van die son opgewek.

Winkler sê die Karoo, Namib en Kgalagadi het baie minder stof as ander droë streke wat beteken meer sonlig word benut.

Die breedtegraad en hoogte bo seespieël is ook ideaal.

Hy meen die opwekking van sonkrag in Suid-Afrika gaan al vinniger groei.


Meer oor:  Solidariteit  |  Agri Sa  |  Vf Plus  |  Kragopwekking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.