Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nuwe formule dalk vir petrolprys aanbeveel

Die departement van energie mik om teen einde September aanbevelings te doen aan die ministers van energie en finansies oor hoe die brandstofprys anders saamgestel kan word.

Winsgrense, belastings, heffings en verspringskoste is die rede waarom Suid-Afrikaners meer betaal vir brandstof as mense in sy buurlande.

So het Tsediso Maqubela, adjunkdirekteur-generaal van energie belas met brandstof, Dinsdag voor die parlement se portefeuljekomitee oor energie gesê.

Hy gesê dit kos tans R7,51 per liter om brandstof in Suid-Afrika te verskaf en by die pompe te versprei.

Lees ook die antwoorde op vyf algemene vrae oor brandstofpryse hieronder.

Die res van die huidige petrolprys in Gauteng van R16,03 per liter word deur winsmarges en heffings en belastings opgemaak.

Daar is winsmarges vir groothandelaars en kleinhandelaars, en heffings om die koste van verspreiding, vervoer en opgaargeriewe te dek, en dan die staat se brandstofheffing, die Padongelukkefondsheffing, en doeane en aksyns.

Daar is ook ’n vraagkantbestuursheffing van 10c per liter wat van toepassing is in die binnelandse provinsies. Dit was bedoel om die gebruik van loodryke petrol te ontmoedig toe dit sedert 2006 uitgefaseer is. Dit is vir talle ouer enjins nie nodig om in hoogliggende gebiede 95-oktaan petrol te gebruik nie.

Voertuigtegnologie het egter sedertdien ontwikkel en die departement bespreek met voertuigvervaardigers of dié heffing nog nodig is.

Maqubela verduidelik die kleinhandelwinsmarge vir vulstasies word noukeurig op grond van jaarlikse bedryfskoste bereken. Dit word nie uit die duim gesuig nie, maar ’n navorsingseenheid van die Noordwes-universiteit help die departement om die syfers in te samel. Hulle doen ’n jaarlikse peiling oor bedryfskoste van vulstasies en gemiddelde jaarlikse petrolverkope.

Kostes soos elektrisiteit en petroljoggies se lone moet daarby ingewerk word.

Die prys van brandstof word jaarliks in September aangepas om die verhoging in lone van petroljoggies te dek. Daar is sowat 55 000 petroljoggies in die land, het Maqubela gesê.

Hy het toegegee buurlande het nie so ’n hoë brandstofheffing soos Suid-Afrika nie, maar hulle het ook nie so ’n uitgebreide padinfrastruktuur-netwerk nie.

In die struktuur vir die basiese brandstofprys (voordat plaaslike heffings en kostes bygetel word) is daar ’n basiese raffinaderyprys, plus vragkoste vir verskeping, versekering, vragtariewe vir hantering in die hawe, en bergingskoste, en oorlê-koste wanneer ’n skip vertraag word.

Die raffinaderyprys word bereken op grond van kontantpryse van petrol by raffinaderye in Italië en Singapoer. Die dieselprys word gegrond op pryse by Italiaanse raffinaderye en raffinaderye in die Arabiese Golf.

Die skeepvragkoste word bereken op grond van vraag en aanbod. Toe daar ’n bedreiging van seerowers langs die Afrika-kus was, het versekeringskoste byvoorbeeld gestyg, het Maqubela gesê. Nadat die bedreiging afgeneem het, trek Suid-Afrika voordeel daaruit deurdat versekeringskoste laer is.

Oorlê-koste kan verlaag word as groter tenkskepe in Suid-Afrika se hawens geakkommodeer kon word, want dit beteken minder wagtyd en vertragings vir skepe buite hawens.

  

GEREELDE VRAE OOR BRANDSTOF

  

Tsediso Maqubela van die departement van energie het algemene vrae oor brandstofpryse beantwoord:

  

1. Hoekom verander brandstofpryse maandeliks?

Ons kon pryse daagliks aanpas, maar dit sal administratief bykans onmoontlik wees want die minister moet dan daagliks ’n vasstelling publiseer. Dit kon ook per week of per kwartaal wees, maar daar is besluit op ’n maand.

Ons brandstofpryse is altyd ’n maand agter. Wat ons in September betaal, sal op markpryse van Augustus gegrond wees.

  

2. Wat is onder- en oorverhaling?

Die Sentrale Energiefonds publiseer pryse daagliks om aan te dui wat die tendens is. Aan die einde van die maand word die gemiddelde geneem. Die oorverhaling beteken die brandstofprys van die vorige maand is effektief hoër as wat motoriste moes betaal. Die volgende maand moet die prys dus daal. Die onderverhaling beteken die vorige maand se prys was te laag vergeleke met werklike pryse, en die prys moet dus verhoog word.

  

Die verskil tussen plaaslike pryse en pryse in buurlande is die brandstofheffing en Padongelukkefondsheffing op Suid-Afrika se brandstofpryse. Die buurlande het nie daardie heffings nie. Foto: Pixabay

3. Hoekom is petrol goedkoper in buurlande, terwyl hulle dit van Suid-Afrika koop?

Die verskil is die brandstofheffing en Padongelukkefondsheffing op Suid-Afrika se brandstofpryse. Die buurlande het nie daardie heffings nie.

  

4. Waarom verkoop Sasol nie petrol goedkoper nie, want hulle maak dit dan uit steenkool?

Ons het ’n gereguleerde raamwerk. ’n Private operateur soos Sasol kan nie die res van die bedryf subsidieer nie. Sasol voer ook ruolie in vir die Natref-raffinadery wat hy saam met Total bedryf.

  

5. Hoekom dereguleer die regering nie brandstofpryse nie?

As pryse gedereguleer word, sal vulstasies selfhelp-dienste aanbied om koste te spaar, en 55 000 petroljoggies sal dan hul werk verloor. Daar is nie ’n waarborg dat deregulering pryse sal verlaag nie. Daar is net een pypleiding na die binneland en net een enkelboei-inlaat in die Durbanse hawe wat al die verskillende brandstofmaatskappye moet gebruik.

Om deregulering moontlik te maak moet meer infrastruktuur gebou word. Die departement glo nie transformasie sal moontlik wees in ’n gedereguleerde omgewing nie. Beleggers sal net in invoer-punte belê en plaaslike raffinaderye sal sluit.

  

6. Hoekom koop die regering nie olie van Afrika-lande teen ’n laer prys nie?

Angola en Nigerië is ook lede van die Organisasie van Petroleumuitvoerlande en hulle bepaal die prys. Onderhandelings met hulle is nie maklik nie, maar dit kan wel binnekort vrugte afwerp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.