Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nuwe gas in Vrystaat ontdek

Dis nou nie Total se Brulpadda of Luiperd nie, maar dis darem iets. ’n Wesenlike gasontdekking is in een van die eksplorasieboorgate van Renergen naby Virginia in die Vrystaat gedoen.

aardgas
Renergen se aanleg in die Virginia-omgewing, waar helium ontgin sal word en waar 'n nuwe aardgasbron pas ontdek is.

Renergen, wat op die JSE asook op die Australiese aandelebeurs genoteer is, het Dinsdag aangekondig dat die boorgat op net meer as 400 m onder die grondoppervlak ’n gasdraende sandsteenlaag van sowat 6 m dik getref het.

Die gasvloei uit die gat is sterker as byna al die bestaande boorgate in Renergen se toegelate eksplorasiegebied en lewer meer as 200 000 kubieke voet per dag, het Renergen in ’n Sens-verklaring gesê. Dit is wel maar effens vergeleke met die Luiperd-ontdekking van die oliereus Total in die diepsee naby die Suid-Kaapse kus in 2020, wat ’n vloei van 33 miljoen kubieke voet per dag gelewer het. Die Luiperd-ontdekking het op die Brulpadda-ontdekking in 2019 gevolg.

Renergen is tans besig om die eerste fase van sy reeds ontdekte reserwes van aardgas en helium te ontwikkel. Die betrokke eksplorasieboorgat, genaamd P007, is beskou as ’n eksperimentele of proefboorgat om te bepaal watter moontlike gasbronne in sy tweedefase-ontwikkeling is.

renergen
Stefano Marani, uitvoerende hoof van Renergen.

Renergen het verduidelik dat die nuwe ontdekking baie belangrik is omdat dit naby die eerste fase is.

Die gasmonsters wat ingesamel is, kon egter nog nie weens die beperkte beskikbaarheid van die nodige ontledingstoerusting vir gassamestelling en heliumkonsentrasie ontleed word nie, het Renergen gesê. Die geakkrediteerde laboratoriums wat die maatskappy normaalweg gebruik, is tans vir instandhouding gesluit. Dit sal na verwagting binne die volgende paar weke heropen.

Stefano Marani, uitvoerende hoof van Renergen, het gesê dit is ’n “werklik skitterende” resultaat.

“Dit beklemtoon die doeltreffendheid van skuins perkussie-boorwerk, wat vir die eerste keer deur Renergen gebruik is. Die sukses van P007 gee die maatskappy nou ’n duidelike rigting oor watter boortegnologie in alle toekomstige boorwerk gebruik moet word.”

Beleggers het gehou van die nuus en Renergen se aandeelprys op die JSE was laat Dinsdagoggend al teen R20,19 meer as 9% sterker.

Meer oor:  Renergen  |  Virginia  |  Energie  |  Aardgas  |  Helium
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.