Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nuwe stryd teen kernkrag dreig

Suid-Afrikaners wat die bou van nuwe kernkragstasies wil teenstaan, het tot 5 Februarie aanstaande jaar om hul besware te opper.

2 500 MW se kernkrag word teen 2030 voorsien, volgens die staat se hulpbronplan. Foto: Getty Images

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) sê hy is gekant teen kernkrag en gaan beslis sy stem dik maak.

Dit kom nadat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) onlangs aangekondig het dat hy kommentaar inwag op die konsepbepaling van die departement van minerale bronne en energie, waarin voorsien word dat 2 500 MW se nuwe kernkragvermoë teen 2030 gebou gaan word.

Voordat die departement tenders kan aanvra, moet hy ’n

bepaling ingevolge art. 34 van die Wet op Elektrisiteitsregulering uitreik, wat wys dat nuwe kernkrag nodig is en aangekoop moet word. Dit is onderhewig aan ’n proses van openbare deelname voordat Nersa dit bekragtig. Eers daarna kan die departement tenders aanvra.

Liz McDaid, Outa se energiewoordvoerder, sê kernkrag is te duur en onnodig danksy die vordering wat met die opwekking van energie uit hernubare bronne en met die vermoë om dit te berg gemaak is.

McDaid wys daarop dat burgerregte-organisasies soos Earthlife Africa en die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut (Safcei) die regering se vorige poging om kernkragstasies vir 9 600 MW te laat bou in die hof gestuit is. Die tenderproses is toe onwettig verklaar juis omdat dit nie openbare konsultasie ingesluit het nie.

Oudpres. Jacob Zuma is daarvan verdink dat hy met Rusland se staatsbeheerde kernkragmaatskappy, Rosatom, gekonkel het oor die tender selfs nog voordat dit uitgereik is.

Rapport het onlangs berig Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het die konsepbepaling glo reeds in Augustus aan Nersa gestuur.

Die land se geïntegreerde hulpbronplan (IRP) van 2019 voorsien dat die land teen 2030 altesame 2 500 MW nuwe kernkrag tot die netwerk sal moet voeg.

Die IRP is ’n bloudruk oor kraglewering vir die volgende tien jaar. Dit stel voor kernkrag word in die vorm van klein, modulêre reaktors by die netwerk gevoeg wanneer al hoe meer steenkoolkragstasies weens ouderdom afgeskakel moet word.

“Gwede Mantashe se vasberadenheid om 2 500 MW se nuwe kernkrag aan te koop is ekonomies roekeloos,” het die energiekenner prof. Anton Eberhard aan Rapport gesê.

Die departement het in Junie ’n versoek om inligting oor die bou van 2 500 MW kernkrag gepubliseer. Toe is gesê gegewe die lang aanloop voordat nuwe kernkragvermoë gebou kan word, is dit “vir energiesekerheid aan die samelewing in die toekoms” belangrik dat beplanning betyds gedoen word.

Die versoek om inligting sal ’n aanduiding van die koste, moontlike eienaarskapstrukture, verhaling van koste, kragkoste en die volhoubaarheid van ’n kernkrag-bouprogram gee.

Mantashe se voorkeur is vir ’n projek waar die suksesvolle kontrakteur die kragstasie ontwerp, bou en bedryf. Die krag word dan vir ’n vaste tydperk verkoop teen ’n tarief waarop vooraf ooreengekom is.

Francesca de Gasparis, uitvoerende direkteur van Safcei, het voorheen gesê die Covid-19-inperking het die kragvraag met ’n derde laat val, en selfs as verwagte kragvraag ná die pandemie ’n belegging in nuwe kragopwekking sal verg, sal kernkrag nie daaraan kan voldoen nie omdat dit so lank duur om te bou.

Koeberg naby Kaapstad, wat in 1984 voltooi is, is tans Suid-Afrika se enigste kernkragstasie. Koeberg se twee eenhede kan nagenoeg 1 830 MW krag opwek.

Niks is nog gedoen aan die plan om Koeberg se leeftyd tot 2040 te verleng nie.

Meer oor:  Nersa  |  Outa  |  Eskom  |  Gwede Manta­She  |  Koeberg  |  Elektrisiteit  |  Krag  |  Kernkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.