Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nuwe wetsontwerp gee 20% van olie, gas aan staat

Die staat kry die reg op ’n belang van 20% in die eksplorasie- en produksieregte vir olie en gas kragtens die Konsepwetsontwerp oor die Ontwikkeling van Petroleumhulpbronne.

total
Total se eksplorasie-platform aan die Suid-Kaapse kus. Foto: Total

Die kabinet het Donderdag aangekondig die konsepwetsontwerp kan parlement toe gaan. Dit bied die wetsraamwerk om ’n “gunstige omgewing te skep vir belegging, groei en werkskepping in die ontwikkeling van hierdie hulpbronne” word in ’n verklaring oor die jongste kabinetsbesluite gesê.

Dit handel oor eksplorasie vir en die produksie van olie en gas asook die deelname van die staat en swart persone in die sektor.

Die regsfirma Cliffe Dekker Hofmeyr verwag ’n opgedateerde weergawe van die wetsontwerp sal teen Junie in die Staatskoerant gepubliseer wees.

Die eerste weergawe van die wetsontwerp is in Desember 2019 uitgereik en die sperdatum vir skriftelike kommentaar was in Februarie 2020.

Die departement van minerale bronne en energie en die Petroleumagentskap het in April en Mei 2020 oor die voorleggings van die bedryf beraadslaag. In September verlede jaar het die regering die voorgestelde wysigings mondelings aan rolspelers meegedeel.

Reuters, wat ’n afskrif van die wetsontwerp onder oë gehad het, sê dit gee aan die staat die reg op ’n 20%- drabelang in eksplorasie- en produksieregte. In ’n drabelang dra die ander aandeelhouers die koste van die eksplorasie en produksie.

Dit is soortgelyk aan die weergawe wat in Desember 2019 vir kommentaar uitgereik is.

PetroSA gaan die belang namens die staat hou.

Die Desember 2019-weergawe van die wetsontwerp het bepaal dat elke eksplorasie- en produksiereg ’n minimum van 10%-deelname van swart persone moet hê.

Die internasionale regsfirma Herbert Smith Freehills het onlangs in ’n artikel geskryf die nuwe wetsontwerp is genoodsaak deur die beduidende ontdekking wat Total twee jaar gelede in die Brulpadda-blok in die see naby Mosselbaai gemaak het.

Volgens Patrick Leyden en Paul Morton van Herbert Smith Freehills is die konsepwetsontwerp in Desember 2019 gepubliseer nadat die noodsaaklikheid van ’n toegewyde wet vir die olie- en gassektor besef is.

Die sektor word tans beheer deur die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne van 2002, wat op die mynbedryf gefokus is.

“Hoewel die voordeel van ’n toegewyde, losstaande wet onmiskenbaar is, is die konsepwetsontwerp op ’n aantal fronte gebrekkig,” lui die artikel.

Hulle sê sedertdien is geen nuwe weergawes van die konsepwetsontwerp uitgereik nie en die teks is nog nie na die parlement gestuur nie.

Intussen is daar in November ’n verdere ontdekking in dieselfde blok gedoen.

“Die geologiese potensiaal in die streek word duideliker en die druk op die regering neem toe om met die wetshervorming voort te gaan.”

Leyden en Morton sê dit is in baie jurisdiksies algemeen dat ’n nasionale oliemaatskappy ’n drabelang hou. Volgens hulle is dit egter nog nie duidelik hoe die drabelang van 20% gaan werk nie.

Dit is ook nie duidelik of PetroSA die belang regstreeks in die eksplorasie- of produksiereg gaan hou of in die aandelekapitaal van die titelhouer van die regte nie.

Hulle meen die finansiering van die 10%-deelname van swart persone in eksplorasie- en produksieregte gaan problematies wees.

“Om finansiering vir aandele in eksplorasieprojekte te kry, is ’n kopseer, gegewe dat eksplorasie hoogs spekulatief en kapitaalintensief is en nie onmiddellik ’n inkomste genereer nie. Eksplorasiemaatskappye sal dus alternatiewe finansieringsmeganismes moet oorweeg vir swartbemagtigingsvennote.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.